Mediaverklaring: KKNK
23 Januarie 2023
Absa hernu feesborgskap vir nog drie jaar
Die hele ketoetie – allésaam! Dít is wat feesgangers van Saterdag 1 tot Sondag 9 April by die 27ste KKNK, geborg deur Absa, op Oudtshoorn kan verwag.
Vanjaar se feesprogram bied iets in almal se smaak. Die feesdatums val in die skoolvakansie en sluit Paasnaweek in.
Feesgangers by dié familiefees kan uitsien na meer as 30 debuutwerke en ook ’n keur van die beste produksies van die afgelope jaar by ander feeste en teaters.
In groot nuus vir die Suid-Afrikaanse kunstebedryf het Absa, hoofborg van die KKNK, tydens die programbekendstelling aangekondig dat hul borgskap met ’n verdere drie jaar verleng word. “Absa beskou dit as waardevol om Suid-Afrika se dinamiese kunstesektor te ondersteun en innoverende maniere te vind om die gemeenskappe waarin ons woon en werk te dien. Ons strategiese doelwit is om die goeie na te streef in alles wat ons doen. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees pas uitstekend hierby in en ons is trots om ons lang verhouding met die befaamde fees voort te sit. Absa ondersteun hierdie viering van talent al vir meer as 20 jaar. Dit is vir ons meer as net ’n borgskap – dit is ook ’n manier om geleenthede vir opkomende kunstenaars te skep, wat ons deurlopend inspireer. Ons sien uit daarna om die veelsydige talente van plaaslike gemeenskappe by vanjaar se fees te beleef en staan gereed om gehore by die verskeie Absa-aanbiedings te verwelkom,” het Faisal Mkhize, uitvoerende hoof van Absa Verhoudingsbankdienste, gesê.
Vyf individue word vereer vir hulle bydrae tot die KKNK en die kunste: Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking; Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys; Refentse Morake ontvang die KKNK-prys vir Jong Stem en Liza Grobler is die Feeskunstenaar. Magdaleen Krüger ontvang die KKNK-prys vir Lewensbydrae.

Dawid Minnaar

Early B

Refentse Morake

Liza Grobler

Magdaleen Krüger
Nicola Hanekom keer terug na die fees met ’n plekspesifieke toneelstuk Mirre en aalwyn, wat buite Oudtshoorn op ’n plaas aangebied word met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen. Reza de Wet se drama-komedie Mirakel, onder regie van Marthinus Basson, moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) met Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis, vertel die storie van ’n teatergeselskap in die 1930’s wat hulleself in ’n klein dorpie bevind en voor moeilike besluite te staan kom. Die veelbekroonde Karoo Kaarte-span vanuit die Oudtshoorn-gemeenskap, bied Droomkraan Kronieke aan, met onder andere Carlo Daniels, Janion Kennedy en Marinda Ntantiso. Hulle span kragte saam met ontwerper en poppemeester Craig Leo, vir ’n produksie perfek vir die hele gesin.
Ander debuutwerke sluit in: Bul, ’n donkerkomedie onder regie van Nicole Holm met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa. Vlaamse skrywer Tom Lanoye (ook die skrywer van die veelbekroonde Koningin Lear) se Die fel omstrede kroon, Edward II en Gaveston met Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Rolanda Marais, André Roothman, Wilhelm van der Walt en Caleb Payne, kyk vlymskerp na liefde, mag, keuses, kinders, komplekse verhoudings en die plek van die individu in die samelewing. My Kroon se krank, ’n teks deur Veronique Jephtas en Lynthia Julies, met Jephtas wat ook in die solostuk speel, is onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Lee-Ann van Rooi as vervaardiger. Dit is ’n ko-produksie van die KKNK en Suidoosterfees en vertel die storie van drie karakters se reis na hernuwing en begin. In Klinkklaar, ’n komedie met Deon Lotz, Marinda Engelbrecht en Susanne Beyers probeer twee TV-sjefs en glanspersoonlikhede om ’n kookprogam aan te bied, ondanks die feit dat hulle mekaar haat. Marion Holm bring ’n skaterlag-stuk na die fees, met teks en regie deur Chris Vorster. In Teen wil en dank met Antoinette Kellermann neem sy die gehoor op reis deur haar veelbekroonde loopbaan van 48 jaar. Lizz Meiring deel in Van die rak af (uitgawe 1) meer oor die konsep van “The Human Library” – in plaas van ’n boek, neem jy ’n mens uit.
Jou gunsteling stand-up komediante is ook by die fees: Rob van Vuuren se debuut van Namaste Bae – Blessing and Kombucha; Alan Committie, en Alfred Adriaan: Onfiks en veertig, asook die gewilde Moses Williams van die Oudtshoorn-streek se debuut van Ouma Sarie: Funny Karoo is op die verhoog te sien.
Topproduksies van ander feeste en teaters wat te sien is, sluit in: ’n Akkerboom met De Klerk Oelofse; Die moeder met onder andere Sandra Prinsloo en Dawid Minnaar; Mutton Hour met Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt; Platform 9: Homecoming met Theodore Jantjies en Maurice Paige; Steeds Donkie met Frank Opperman; Charles J. Fourie en die Markteater se The Parrot Woman met Gontse Ntshegang en André Lötter; Jantjies and the Pearls, geskryf deur die belowende jong skrywer Mikayla Joy Brown, vertel die storie van ’n desperate familie van Distrik Ses wat vasberade is om hul huis van die gedwonge verskuiwings te red.
Op die musiekfront bring David Kramer ’n splinternuwe musiekblyspel na Oudtshoorn in Ver in die wêreld Kittie, met Dean Balie, Jenny Stead, André Terblanche, Rushney Ferguson en Dylan Roman. Deur die oë van Kittie Jaftha en Koos Heuningbek, word die verhaal van die groot sukses wat die sangpaar Josef Marais en Rosa de Miranda in die 1950’s met liedjies van Suid-Afrika oorsee gehad het. Dit is ’n Feesteforum-produksie, moontlik gemaak deur NATi. In Coenie de Villiers se Woordmusiek bring hy drie teaterlegendes byeen: Antoinette Kellermann, Vinette Ebrahim en Jana Cilliers sluit by hom aan saam met Mauritz Lotz, vir ’n uitsonderlike musiek- en woordervaring.
Ander debute op die musiekprogram sluit in Amber/Ombré met Amanda Strydom, Coenraad Rall en Susan Mouton; Anders / Eenders met Sima Mashazi, Schalk Joubert, Louis Mhlanga, Riaan van Rensburg en Ramon Alexander; Daarom skryf ek met Anna Davel, Jaconell Mouton en Lou-Ann Stone; ’n Blom in elke vrou met Petronel Baard, die Suid-Kaap Kinderkoor en Mosselbaai-strykensemble en Boeremusiek, Rocco-styl met Rocco de Villiers, Lizelle le Roux en Hansie Roodt jr.
Opelugmusiekkonserte is weer terug en dié program skop af met ’n twee-dag musiekfees AMOK! op 1 en 2 April, met van die land se gewildste bands en sangers – wat binnekort bekendgemaak gaan word. Ander konserte sluit in Spoegwolf en vriende; Die grootste Karoo-paartie ooit! en ’n asemrowende konsert met Nataniël op Paassondag, Passio | Pasión | Passion | Passione (9 April). Kaartjies na die opelug-aandkonserte sluit toegang tot die Feesmark vir die dag in.
In die Feesmark kan feesgangers musiek van ’n keur van hulle gunstelinge op Castle Lager-verhoog geniet en tussenin deur die kuns- en kosstalletjies wandel. Die eerste KKNK Feeswinkel swaai sy deure oop, waar pragtige handgemaakte geskenke en aandenkings gekoop kan word. In Liplekker kan heerlike deli-produkte en drinkgoed geproe en gekoop word en die jongspan kan die adrenalien van die mallemeule geniet. Om alles af te sluit, bied die kroeë op dié terrein welkome lafenis teen die Klein Karoo-hitte. Feeskaartjies vir toegang tot die Feesmark is oudergewoonte beskikbaar. Absa se Kuierkamer skuif na die Feesmark, waar heerlike aktiwiteite en gesprekke met onder andere die immergewilde Hannes van Wyk aangebied word.
Vanjaar se visuele kunsprogram, saamgestel deur kurator Dineke van der Walt onder die tema Hide & Seek: Reimagined Histories, bied iets vir almal en baie aan kunsliefhebbers om na uit te sien. Uitstallings deur verskeie Oudtshoorniete is ingesluit en ’n visuele kunshoogtepunt is Fragments from Into the Light, waar die werk van Phumulani Ntuli, Lebohang Kganye en Roger Ballen wat verlede jaar deel van die Venice Biënnale was, vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgestal word. Groepuitstallings sluit onder andere ’n baie interessante uitstalling van Absa in, asook ’n uitstalling deur die UJ-galery. Al die uitstallings kan gratis in die Prince Vintcent-gebou besoek word.
Figure of 8 Dance Collective, in 2020 met die KKNK-prys vir ’n Jong Stem vereer, is te sien in twee dansteaterproduksies: Embody You, asook Karatara, wat verlede jaar met die Kanna-prys vir beste debuutwerk bekroon is. Verskeie kinderteaterproduksies sorg vir hope vermaak vir die jongspan. Die Kanna-bekroonde Liewe Heksie-span van 2022, Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl, keer boonop terug in Liewe Heksie vang vis. Verskeie Klein Karoo-ervarings word aangebied, wat aan feesgangers ’n geleentheid bied om die Klein Karoo op unieke manier te ervaar en te proe.
’n Lekker kuierarea en restaurant word in die Netwerk24-feeskafee aangebied, waar brandpunte getakel word en verskeie gespreksreekse plaasvind, waaronder Die Burger Praat Saam-diskoersreeks, asook ’n Boekwinkel waar die nuutste publikasies gekoop kan word. Baron van Reedestraat word oudergewoonte gesluit en is die hartklop van die fees met hope gratis vermaak, eet- en drinkgoed. Die Lucky Pakkie-teateraanbod skuif hierheen en nés die lucky packets waarmee jy grootgeword het, is die inhoud hoogs geheim met lekker teaterverrassings.
’n KKNK Jeugkunstefees word vir die eerste keer van 1 tot 4 April, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied en is spesifiek gemik op hoërskoolleerders en -onderwysers. Dié fees binne die fees, is gefokus om ’n liefde en belangstelling vir die kunste by hoërskoolleerders te kweek deur ’n program van teater, musiek, dans, visuele kuns, aktuele gesprekke en meer.
Die volledige feesprogram is teen Dinsdag 24 Januarie op die KKNK se webblad beskikbaar. Kaartjieverkope vir Vriende van die KKNK open op Maandag 30 Januarie en Woensdag 1 Februarie vir die publiek. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, of jou naaste Pick n Pay. Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of kontak die kantoor per e-pos by info@kknk.co.za, stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337 of skakel 044 203 8600.
Einde
Uitgereik deur die KKNK
Vir medianavrae:
J.C. Aucamp, bemarkingsbestuurder
E-posadres: jc@kunste.org.za
Selfoonnommer: 076 333 5945
KKNK:
Registrasienommers NPC 1995/008741/08 | 043-289-NPO | SARS PBO: 930008696 | BTW: 4440155481
Posadres Posbus 1341, Oudtshoorn, 6620 Fisiese adres Die Neelsie, Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, 6625
Kontakbesonderhede Tel: (044) 203 8600 | WhatsApp: 065 285 2337 | info@kknk.co.za | @KKNKfees
Direksie Crispin Sonn (voorsitter), Chris Macpherson, Ismail Mahomed, Denver Moses, Theresa Olivier, Hugo Theart (uitvoerende artistieke direkteur), Mariné van Brakel, Christo van der Rheede, Olga Wyngaard
Beskermhere Patrice Motsepe, Franklin Sonn, Ton Vosloo, Christo Wiese