
Anna-Mart Louw, ʼn matrikulant van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het vanjaar die tweede plek behaal in die Nasionale Seniorsertifikaat eksamen met ʼn gemiddeld van 98%. Sy het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels huistaal, Duits tweede addisionele taal, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en ontwerp, lewensoriëntering en lewenswetenskappe behaal. Anna-Mart was lid van die verteenwoordigende studenteraad van Hoër Meisieskool Bloemhof en het ook vir haar skool waterpolo gespeel. Sy is ʼn kranige branderplankryer en was in 2022 lid van die Bolandspan vir branderplankry. Tydens die skool se jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid het sy met verskeie trofees weggestap onder meer die Woest-Wagener-wisseltrofee vir die beste prestasie in Afrikaans Huistaal en die Vriende van Afrikaans Boekprys vir die beste prestasie in Afrikaans in graad 12. Anna-Mart sê haar geloof in Jesus Christus speel ʼn groot rol in haar sukses want sy het geleer om in alles op Hom te vertrou.

Bennie Badenhorst is ʼn uitblinker van Douglas in die Noord-Kaap. Hy het aan Hoërskool Douglas matrikuleer. Bennie het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en landbou wetenskap behaal. Bennie begin eersdaags met sy studies in rekenaarwetenskap en wiskunde aan die Noordwes Universiteit. Hy droom daarvan om genoeg ondervinding in sy vakgebied op te bou en uiteindelik sy eie besigheid te begin. Vir Bennie was die eindeksamen nie te uitdagend nie, maar tog sê hy ook dat sukses sonder harde werk nie moontlik is nie.

Joubert Potgieter, wat verlede jaar aan Grey Kollege Sekondêr matrikuleer het, spog met agt onderskeidings. Joubert het onderskeidings in Afrikaans, Engels, fisiese wetenskap, rekeningkunde, biologie, lewensoriëntering, wiskunde en musiek behaal. Hy is van plan om vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer en wil uiteindelik spesialiseer in breinchirurgie. Nie net is Joubert ʼn slimkop nie. Hy het ook verlede jaar tjello in die Grey-ensemble gespeel en hoop om hierdie jaar steeds in ʼn orkes te speel. Joubert sê die geheim van sy sukses is vroeg opstaan, harde werk en goeie tydsbeplanning en -benutting. Behalwe vir sy liefde vir musiek hou hy ook van jag en visvang.

Jeannedré Rosewall van Menlopark Hoërskool was die toppresteerder van haar skool met ʼn gemiddeld van 95,9%. Sy het ʼn volle nege onderskeidings behaal: Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Fisiese wetenskap, Lewenswetenskap, Rekeningkunde, Rekenaartoepassingstegnologie, Lewensoriëntering en Alfa Wiskunde. Jeannedré gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer en vir haar goeie prestasie het sy ʼn Visekanseliersbeurs van die universiteit ontvang. Sy tel al die dae af! Jeannedré skryf haar sukses toe aan daaglikse harde werk, ʼn wonderlike ondersteuningstelsel en God se genade. Sy som haar raad aan vanjaar se matrikulante in die volgende drie punte op: Werk hard, elke dag. Daar is nie een dag wat minder belangrik as die vorige is nie. Moenie uitstel nie en doen nóú wat jy moet doen. Laastens moet jy besef dat jou beste goed genoeg is.