Skrywer: Alita Steenkamp
Mariëtta Kruger is net so ’n deel van die Afrikaanse, en Suid-Afrikaanse uitsaaiwese soos wat melktert deel is van ons Afrikaanse kultuur. Die Afrikaanse Taalraad het aan die einde van 2022 vir Mariëtta bekroon met ʼn Koker-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans.
’n Klein dogtertjie-droom
Sy vertel dat sy reeds as ʼn klein dogtertjie daarvan gedroom het om eendag uit te saai. Sy het in daardie rigting gaan studeer en was, in haar woorde, gelukkig genoeg om met haar heel eerste oudisie aanvaar te word. Mariëtta het in 1980 begin uitsaai by die toe nog Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, deesdae die SABC. In die tagtigerjare van die vorige eeu het sy die oggendnuusprogram, Monitor, op die Afrikaanse diens aangebied. Sy was ook die legendariese Riaan Cruywagen se “televisievrou” wat vir tien jaar lank saans saam met hom die Afrikaanse televisienuus gelees het. Alhoewel sy gereeld op televisie was, bly radio maar haar eerste liefde en deesdae kan jy elke middag haar mooiste en kleurrykste Afrikaans oor RSG hoor wanneer sy die verkeersverslae behartig in die middagprogram.
’n Leeftydtoekenning vir ’n besondere bydrae
Afrikaans is vir haar besonder belangrik, sê Mariëtta.
Sy is lief vir die taal, die letterkunde en poësie. Al wat haar regtig pla oor die voortbestaan van Afrikaans is hoe slordig mense deesdae Afrikaans praat. Dit is nie keurig nie en daar is te veel sleng in.
Vir Mariëtta is hierdie besondere toekenning van die Afrikaanse Taalraad ʼn groot pluimpie. “Wanneer ʼn mens jou loopbaan begin, en dit voel sommer soos nou die dag, dink jy nie vir ʼn oomblik aan ʼn leeftydtoekenning nie. Jy is net lus om te begin uitsaai en te leer by ouer hande,” sê Mariëtta. “Hierdie was dus vir my heel onverwags. Jy weet, radio is so lekker. Dit is magies om agter die mikrofoon te gaan sit, want dit is bloot jy, die mikrofoon en die luisteraar se prentjies wat hy of sy in die kop maak. Daardie prentjies hang grootliks af van dit wat jy as omroeper kwytraak. Daar is al soveel kere vantevore gesê dat radio die teater van die denke is, en daarmee stem ek volmondig saam.
Hierdie Kokertoekenning is vir my ʼn verskriklike groot voorreg en ek besef ook dit is ʼn manier waarop mense wat so lief vir Afirkaans is soos ek, dankie wil sê vir my bydrae.
Daarom beteken dit vir my so veel. ʼn Mens moet maar altyd net onthou dat jy net so goed is soos jou laaste uitsending en jy is nooit te oud om te leer nie. Maar om sulke erkenning te kry, bly wonderlik.”