Artikel: Netwerk 24 verwerk deur Alita Steenkamp
Foto: Netwerk 24 – Jaco Marais
Prof. T.T. Cloete het in 2008 na die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) verwys as een van die kosbaarste diamante van Afrikaans. Die WAT dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang en die span is tans besig met die optekening van alle Afrikaanse woorde wat met die letter T begin. Die WAT word beskou as die kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke.
Dr. Willem Botha, wat tot aan die einde van 2022 die hoofredakteur van die WAT was, is in Januarie vervang deur dr. Phillip Louw.
In ’n onderhoud wat op Netwerk24 verskyn, vertel dr. Louw aan Murray La Vita dat daar hard gewerk moet word om Afrikaans op skoolvlak te beskerm, want gebrekkige moedertaalonderrig is ’n enorme probleem in Suid-Afrika. Dr. Louw was voorheen die uitgewersbestuurder vir woordeboeke en letterkunde by Oxford University Press (OUP). Vir dr. Louw is dit besonder belangrik dat die WAT ’n woordeboek moet wees waar al die variëteite van Afrikaans geboekstaaf word. Hy sien die WAT as die ideale plek om gesprekke oor Afrikaans en aanvaarbare Afrikaans, te fasiliteer. Hy vertel ook vir La Vita dat hy uit ’n gesin kom wat baie taalsensitief is en dat sy pa uit Moorreesburg in die Swartland kom. Iemand wie se Afrikaans gevul is met wonderlike segswyses en die mooiste Afrikaans. By sy ma het hy ’n liefde vir boeke en lees geleer. Dr. Louw sien uit na sy tydperk as hoofredakteur van die WAT: “Ek het gevoel op hierdie tydstip in ons geskiedenis en ons zeitgeist in Suid-Afrika, waar ons is, is dit ’n ontsaglik uitdagende, maar ook opwindende tyd om oor te neem by die WAT.”
Lees die volledige artikel by https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/profiele/woord-ghoeroe-wil-skatkamer-vir-inklusiewe-afrikaans-skep-20230105