Skrywers: Annelie van Jaarsveldt en Charlene Cruickshank
Hoe lyk jou oggendroetine? Sukkel jy om jou kind betyds by die skool te kry omdat hy meeste oggende weier om sy skoolklere aan te trek, want die hemp krap, die broek sit te styf … hy moet nog tande borsel, maar dis ook ’n stryd, want hy haat dit … sy hare staan in al die windrigtings, want ’n kam of borsel kry jy nie naby sy kop nie. Dalk hou jou kind nie van harde geluide nie en druk hy sy ore toe, of hy raak histeries. Jy kan nêrens gaan sonder ’n nat waslap of ’n wet wipe nie, want behoede jou as sy hande vuil of taai raak! Nou ja, dalk is dit sommer net hoe jou kind op sekere goed reageer, maar dis ook moontlik dat hy aan sensorieseprosesseringsdisfunksie (SPD) ly – ’n toestand waaroor daar heelwat wanbegrip bestaan, afgesien daarvan dat meer kinders as wat ’n mens dink in een of ander mate hieraan ly. Afrikaans.com het met die Johannesburgse arbeidsterapeut Charlene Cruickshank gesels en haar gevra om die toestand aan ons te verduidelik.
Wat is sensorieseprosesseringsdisfunksie?
Sensoriese disfunksie is ’n neurologiese ontwikkelingsagterstand. Die oorsaak is gewoonlik geneties, maar kan ook weens ’n hoofbesering, suurstoftekort of ander neurologiese toestande veroorsaak word. Kortom, dit is die onvermoë om sensoriese inligting vanaf ’n persoon se omgewing, asook in die liggaam, korrek te registreer, te interpreteer en dan ’n korrekte liggaamsreaksie daarop te toon. Met ander woorde, dit lei dan tot oor- of ondersensitiwiteit en dus ’n reaksie daarop.
“Die enigste konsekwentheid van sensorieseprosesseringsdisfunksie is die inkonsekwentheid daarvan.”

Daar is vyf bekende sensoriese insette wat ons liggaam met sintuiglike organe kan waarneem:
Reuk; visie/sig; tas; gehoor/ouditief; smaak.
Dan is daar ook twee verborge sintuie wat beweging of vestibulêre insette in die binne-oor registreer, en propriosepsie (waar is my liggaam en liggaamsdele in die ruimte), wat in die spiere en gewrigte geregistreer word. (M.a.w. as ons van ’n muurtjie afspring, gebruik die brein insette van hierdie stelsels om ons spiere gepas te aktiveer.)
Die laaste sensoriese registrasie is introsepsie. Dit is die liggaam se vermoë om interne bewustheid te hê, bv. honger, moegheid, asook toiletbehoeftes.
SPD is selde net een sisteem, of een tipe reaksie, bv. onder- of oorreaksie. Dit is gereeld ’n kombinasie van beide, in verskillende sisteme.
Tipiese simptome om na op te let volgens ouderdomsgroep
Dit is die maklikste om die simptome volgens ouderdomsgroepe te verduidelik.
0-2 jaar: Baba met meer as die normale slaapuitdagings.
- Hierdie babas kan of te veel slaap, of te lig, veral rondom die 45 minute siklus, waar hulle vanaf ses maande nie kan selfreguleer om weer in diep slaap te gaan tydens die aktiewe slaapperiode nie.
- Hulle is ekstra afhanklik van ’n bottel, fopspeen of duim.
- Babas met SPD is knieserig tydens selfsorgaktiwiteite, soos bad, aantrek en doek omruil.
- Wanneer hulle begin vaste kos eet, is die tekstuur van die kos ook gereeld ’n uitdaging.
- ’n Baba wat oormatig passief is, is ook ’n bekommernis.
- Mylpale kan of te vroeg bereik word (veral jou kinders wat kort kruip), of te laat.
2-5 jaar: Daar is ’n verskeidenheid simptome in die ouderdomsgroep, en nie alle simptome is sigbaar in alle kinders nie.
- Stadige mylpale, bv. om te leer om die potjie te gebruik, eet met eetgerei, selfregulering sonder ’n fopspeen of bottel, fyn- en/of grootmotoriese vaardighede.
- Verhoogde aktiwiteitsvlakke by sensoriese soekers.
- Sensitiwiteit vir tekstuur van klere, vermyding van tande borsel, hare was, ’n verskeidenheid kosse.
- Sommige kinders kan lomp wees.
- Oordadige en of meer gereelde voorkoms van tantrums/vloermoere, met moeite om te selfreguleer en te kalmeer. Die reaksie is ook gereeld oordrewe in vergelyking met die inset.
- Moeite om aan die slaap te raak en/of aan die slaap te bly.
- Kan sensitief wees vir helder ligte of harde geluide, asook aggressief raak.
Laerskoolkind: Uitvalle kan gesien word in skolastiese gedrag en/of prestasie onder sy vermoë, sosialisering en selfsorg.
- Hiperaktiwiteit of onderaktiwiteit (passiwiteit) in die klaskamer en moeite om te konsentreer.
- Moeite om huiswerk te doen by die huis – vroetel te veel, maklik afleibaar deur eksterne klanke en visuele insette, of het geen energie oor vir huiswerk na ’n skooldag nie.
- Kieskeurig ten opsigte van kossoorte, klere, tandepasta, beddegoed, ens.
- Moeite om aan die slaap te raak.
- Kinders met SPD kou gereeld aan nie-kositems, bv. klere, potlode, vingernaels.
- Sensitief vir harde klanke of helder ligte.
- Swak sitpostuur by tafel.
- Disorganisasie van werkstafel, tas, kamer, of kan hipernetjies wees.
- Angstigheid.
- Rigiede selfsorgroetines.
- Rigiditeit in speelaktiwiteite met maats – is baasspelerig.
- Verhoogde aktiwiteitsvlakke na pouse of buitespeeltyd.
- Emosioneel reaktief.
Hoërskoolkind en volwassene:
- Verhoogde sensitiwiteit vir sensoriese insette en aktiewe vermyding.
- Lae energievlakke.
- Slaapsteurnisse.
- Moeite om te konsentreer in ’n sensories ryk omgewing.
- Angstigheid.
- Rigiede selfsorgroetines en dagbeplanning.

Is dit noodwendig kinders op die spektrum of wat aandagafleibaar is wat ook SPD het, of kan enige kind aan SPD ly?
Nee, want daar is baie kinders wat SPD het, en nie ’n diagnose van outistiese of aandagafleibaarheidspektrum het nie. Kinders wat op die spektrum is, of aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS) het, het altyd sensoriese disfunksie, hetsy regulering, modulasie en/of prosessering. (Modulasie is die senustelsel se vermoë om inkomende inligting te reguleer, te organiseer en te prioritiseer.)
“Dit wat ons met gemak kan verdra, is waar ons sensoriese drumpel lê.”
Dit is belangrik dat ouers versigtig sal wees wanneer hulle gaan oplees oor SPD, want dit word meestal gekoppel aan die spektrum van diagnoses, wat dan addisionele kommer en stres by die ouers wek.
Raadpleeg ’n kundige
“Die simptome van SPD, outisme en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lyk ook dikwels soortgelyk en ’n kenner is nodig om die onderskeid te tref.”
Dit gebeur egter wel dat die kind eerste deur die arbeidsterapeut gesien word en met SPD gediagnoseer word. Die arbeidsterapeut kan dan simptome van ’n ander diagnose identifiseer en sal verwys na die nodige spesialiste vir ’n diagnose, aangesien arbeidsterapeute nie die diagnose van outisme of aandagafleibaarheid kan maak nie.
Wat is selfregulering?
Selfregulering is die vermoë om die aktiwiteitsvlak en emosionele reaksie daarop te verander vir optimale funksionering / konsentrasie / aktiwiteitsvlak vir ’n spesifieke taak of situasie. Met ander woorde: Die kind/persoon met SPD leer tegnieke aan om optimaal in sy omgewing te funksioneer.
Sensoriese oorlading
Sekere sensoriese insette aktiveer die neurologiese sisteem, bv. helder ligte, harde geluide, ligte aanraking, of vinnige bewegings. Dit beteken die brein is meer wakker, meer aktief, beide fisies, verbaal en kognitief. Te veel van die sensoriese insette kan lei tot sensoriese oorlading, veral as ’n kind nie kan selfreguleer nie.
So kan oorstimulasie lyk:
Oorstimulasie kan lyk soos hiperaktiwiteit, disorganisasie, hard praat, roekelose gedrag en dan uiteindelik ’n fisiologiese reaksie van veg, vlug of vrees. Dus kan die kind aggressief raak (veg), probeer om die situasie te vermy (vlug) of vrees (angstige gedrag) openbaar.
Sensoriese insette wat kalmeer
Ander sensoriese insette kalmeer en orden die neurologiese sisteem, bv. sagter beligting, rustige agtergrondgeluide of klanke soos natuurgeluide, water, diep druk of stadige, ritmiese bewegings. Hierdie insette word gebruik om die aktiwiteitsvlakke laer te maak en die fisiologiese reaksie van veg, vlug en vrees te vermy, veral as take soos stilsit, verlengde konsentrasie en interaksie benodig word.
Sensoriese sensitiwiteit lei tot veg-, vlug- of vreesreaksie
Kinders met sensoriese sensitiwiteit bereik gou hulle neurologiese drempel, wat tot die fisiologiese veg-, vlug- en vreesreaksie lei. Hulle kan gereeld ontoepaslike maniere kies om te selfreguleer, aangesien hulle nie sensoriese insette korrek registreer en prosesseer nie. Die toepaslike, kalmerende sensoriese insette, soos hierbo genoem, werk dus nie altyd nie en omdat hulle onbewus van die sensoriese oorlading is, soek hulle dit nie aktief nie.
Obsessief-kompulsiewe gedrag
Die obsessief-kompulsiewe gedragspatrone kan ook rigiede roetines wees wat kinders aanneem in ’n poging om die sensitiewe sensoriese insette te vermy. Dus vorm hulle kontrolerende gedrag, veral in sosiale situasies, waar ander kinders se gedrag onvoorspelbaar kan wees.
Vermydingsgedrag
Daar kan ook vermydingsgedrag wees, soos kosse wat nie aan mekaar mag raak nie, spesifieke teksture van kos, soos die dikte van pap, of die spesifieke gaarmaakmetode van ’n visvinger wat nie te hard of sag mag wees nie, ’n spesifieke kledingstuk wat hulle weet is gemaklik of ’n spesifieke tipe tandeborsel. Hulle kan ook spesifiek wees oor die kouse of onderklere wat hulle dra.
Ontoepaslike selfregulerende metodes
Kinders leer onbewustelik ontoepaslike selfregulerende metodes aan. Sommige kan obsessief herhalend wees, veral in sensories ryk of sensories oorweldigende situasies. Voorbeelde van die gedrag kan wees:
- Suig van duim, fopspeen later as die norm (dit is gewoonlik na drie jaar ouderdomsontoepaslik).
- Suig of lek van onderlip, soms totdat rooi letsels onder die lip verskyn.
- Suig of kou aan kledingstuk, veral die kraag van hemde.
- Herhalende kuggeluide.
- Speel met eie spoeg – blaas spoegborrels tussen lippe, beweeg dit in en uit die mond.
- Natlek van vingers en dan oor oë vee, veral gesien met sensitiwiteit vir helder ligte.
- Skud of herhalende flikkering van vingers.
- Jong kinders kan ook masturbasie gebruik vir selfregulering.
- Babas kan selfs hulle koppe teen ’n harde voorwerp stamp.
- Die selfregulering behels gewoonlik ’n propriosepsie-komponent (diep druk), want dit kalmeer en organiseer.

Wat is ‘diep druk’?
Dit is die sensasie van druk/trek op spiere en gewrigte.
Met ander woorde: Dit kan ook weerstand teen beweging wees, soos om iets swaar te trek of stoot, op te tel, te spring, op jou kop te staan, iemand wat ’n “toebroodjie” van jou maak deur matrasse en kussings op en om jou te pak, tou te trek, en so meer.
Wanneer behoort ’n mens die kind na ’n spesialis toe te neem vir ’n formele diagnose?
’n Goeie riglyn is funksionering. Indien die gedrag ’n persoon se algehele en daaglikse funksionering negatief beïnvloed, is ’n formele diagnose en terapie en/of akkommodasie nodig.
Daar is drie sfere van funksionering, naamlik
- selfsorg (bv. tandeborsel, toiletgebruik, aantrek, slaap, eet, ens);
- werk (in ’n kind is dit speel, skool en ontwikkeling); en
- vryetydsbesteding, wat sosialisering, groot- en fynmotoriese spel insluit.
Indien een van die areas nie ouderdomstoepaslik is nie, of ’n persoon nie binne sy potensiaal funksioneer of vorder nie, is ’n evaluasie deur ’n gekwalifiseerde arbeidsterapeut wat in sensoriese integrasie spesialiseer, nodig.
Hoekom is selfdiagnose ’n absolute “NEE”?
Selfdiagnose is ’n absolute “NEE” omdat die identifisering en behandeling van SPD kompleks is met vele fasette wat ’n rol speel. Bly dus maar lugtig vir dr Google.
- Emosies speel ’n rol. Dit is bewys dat jou emosies, soos stres, jou sensoriese regulasie kan beïnvloed. Dus indien daar emosionele stres is, is die persoon meer geneig tot sensoriese sensitiwiteit. Byvoorbeeld, indien jy as volwassene werkstres het, of ’n hartseer ervaring gehad het, is jy meer sensitief vir hoe hard iemand praat, hoe iemand aan jou vat, en so meer en bereik dus makliker jou sensoriese drempel wat veg-, vlug- en vreesreaksie tot gevolg het. MAAR: Dit beteken nie dat jy noodwendig sensorieseprosesseringdisfunksie het nie en ’n verkeerde diagnose kan dus gemaak word.
- Omgewingsinsette. Sensoriese disfunksie word ook daagliks beïnvloed deur jou omgewingsinsette, jou vlak van fisieke en emosionele welstand, en die uitdagings wat gestel word, wat daartoe kan lei dat dit misverstaan word omdat dit nie korrek geëvalueer is in ’n sensories gekontroleerde omgewing met gestandaardiseerde toetse nie.
- Ouderdomstoepaslik. Sensoriese funksionering ontwikkel ook ouderdomstoepaslik en verander na gelang van ouderdom, wat selfdiagnose dus verkeerd kan interpreteer.
- Individualisme en omgewingsfaktore. Elke kind is ’n individu, en alhoewel daar gestandaardiseerde toetse is om die spesifieke areas van disfunksie te diagnoseer, beteken die individualisme en omgewingsfaktore dus dat jou selfdiagnose asook die behandelingsplan wat die teorie aanbeveel, nie noodwendig effektief gaan wees nie.
- Verkeerde insette. Met die verkeerde insette, is dit moontlik om jou kind in sensoriese oorlading, sensoriese afsluiting, of angsreaksie in te help.
- Onrealistiese verwagtinge. Vals diagnoses kan ook vals hoop en/of onrealistiese verwagtinge gee vir ouers met kinders wat SPD het, met werklike impak op daaglikse funksionering.
Deur ’n verkeerde diagnose, van veral sensoriese sensitiwiteit, kan die ouer dan onwetend die kind minder blootstel aan sensoriese stimulasie, wat meer skade kan doen, want alle kinders moet sensoriese blootstelling hê om optimaal te leer en te ontwikkel.

Kinders met SPD word beskou as kinders wat te veel voel. Is dit ’n gepaste beskrywing?
Nee, dit is net een kant van sensoriese prosessering se menigte fasette. Daar is kinders wat te veel voel, en hulle val gewoonlik in die sensoriesesensitiwiteitsgroep. Hulle voel dus sekere sensoriese insette te veel, maar ander kan hulle soms heeltemal uitblok en glad nie voel nie.
Vier basiese profiele
Daar is basies vier profiele waarin kinders met sensoriesemodulasiedisfunksie ingedeel word. Hierdie indeling word met behulp van die Sensoriese Profiel deur Winnie Dunn (Dunn’s Model of Sensory Processing), gedoen.
- Sensoriese soekers – hierdie kinders soek aktief na sensoriese insette, omdat hulle dit nie akkuraat registreer nie, en dus meer nodig het. Hulle kan dit ook doen om die negatiewe impak van minder gemaklike insette te minimaliseer. Bv. ’n kind wat sensitief is vir tas, kan beweging of propriosepsie soek om die irritasie van die tasinsette te minimaliseer. Hierdie kinders is gewoonlik baie aktief.
- Sensoriese vermyders – hierdie kinders vermy aktief spesifieke insette, bv. tas, harde geluide en/of beweging. Hulle sal hulleself dus aktief besig hou met ander insette wat meer aanvaarbaar is, asook manipulasie en vermyding gebruik om die sensoriese insette waarvoor hulle sensitief is, te vermy. Hulle kan beide passief en aktief voorkom.
- Sensoriese sensitiwiteit – hierdie kinders voel definitief meer. Hulle is konstant in ’n veg-, vlug- of vreestoestand omdat dit wat hulle voel meer intens is. Dit word beskryf dat dit voel of jy in die nag in ’n donker stegie, in ’n onveilige area stap. Alles wat jy hoor, klink hard en bedreigend, alles wat jy voel, voel meer intens en irriterend, alles wat jy sien, is bedreigend, ens. Die sensoriese insette plaas hulle dus konstant in ’n verhoogde aktiwiteitsvlak en hulle kan nie gewoond raak aan die insette en dit as “normaal” ervaar nie.
- Lae registrasie – hierdie kinders voel minder as ander. Hulle is jou kinders wat lank neem om op insette te reageer, en sal soms nie eers bewus wees van ’n seerplek nie. Jy moet gereeld hard praat om ’n reaksie te kry, of aan hulle raak, want hulle reageer nie op hulle naam nie. Hulle is traag om aan fisiese aktiwiteite deel te neem, aangesien die liggaam nie die nodige sensoriese insette registreer om die spiere te aktiveer vir aktiewe beweging nie.
Let wel: Dit is selde dat ’n kind in net een van die profiele is. Dit is dikwels ’n kombinasie.
Raad vir ouers en onderwysers/versorgers en die rol van die terapeut
Om die kind met SPD te behandel, is ’n spanpoging tussen die ouers, onderwysers en die terapeut. Die onderwysers sien die akademiese, spel- en sosiale uitvalle van kinders met SPD en maak die nodige akkommodasies. Die terapeute sien die kinders een of twee keer ’n week, en het die nodige kundigheid en toerusting. Die ouers moet egter met al die uitvalle werk by die huis, asook die emosionele en sensoriese uitbarstings na ’n dag by die skool waar die kinders met die opbou van sensoriese insette moet funksioneer. Baie van die kinders internaliseer ook die effek van die sensoriese insette by die skool, en hou dit in, totdat hulle by die huis kom, wat ’n veilige hawe is, en dan is daar gereeld ’n oorreaksie as gevolg van die opbou van insette. Dit kan emosioneel en fisies dreinerend vir die ouers en ander sibbe wees.
Riglyne wat kan help:
- Kennis gee mag. Na die diagnose en verduideliking, vra vir korrekte en spesifieke inligting om op te lees en nog meer kennis te bekom.
- Tuisprogramme. Indien jy nie terapie kan bekostig nie, bekom die nodige kennis en vra vir tuisprogramme. Begrip vir jou kind se uitdagings maak die pad alreeds makliker.
- Roetine. ’n Vaste roetine help baie met ’n kind met SPD. Dit maak die sensoriese insette wat kom, minder van ’n verrassing en minder bedreigend. Berei jou kind voor op moontlike verandering.
- Veilige area. Verskaf ’n sensories veilige area vir die sensories sensitiewe kind, met kalmerende insette. Bv. ’n tent of klein geborge area, met minimale beligting, gemaklike kussings, wat diep druk kan verskaf, en ’n ouderdomsgepaste boek, of speelding wat kalmeer, soos lego, karretjies, sagte speelgoed om te help met regulering en organisasie. Gebruik die area voor die kind sensories oorlaai word, indien moontlik.
- Fisiese oefening. Stel die kind daagliks aan fisiese oefening bloot. Dit verskaf beweging en propriosepsie wat kalmerend en organiserend vir die sensoriese sisteem is. Dit kan ’n klein aktiwiteit wees, soos swaai, stap om die blok, fietsry of swem.

- Kies jou slagveld. Wees buigbaar in sekere aktiwiteite wat sensoriese stres veroorsaak. Die ouer kan dalk meer buigbaar wees in terme van die spesifieke tipe of metodes van kleredrag, kositems, en selfsorgaktiwiteite, terwyl die nodige vereistes soos gereelde tandeborsel, skoon klere en ’n gebalanseerde dieet steeds belangrik is.
- Vermy redenasie. Indien jou kind sensoriese oorlading ervaar, en in die veg-, vlug- en vreesreaksie is, vermy redenasie. Jou kind gaan dan nie inneem wat jy probeer verbaliseer of verduidelik nie. Kalmeer eers die kind en praat dan oor negatiewe gedrag of gedrag wat homself en ander kan beseer.
- Vermy tasdefensiwiteit. Daar is klere met minimale etikette, some en dus sensoriese irritasies wat gekoop kan word om tasdefensiwiteit te vermy.
- Beperk tegnologie, televisie en tablette. Daar is gevind dat die vinnige visuele en ouditiewe insette sensoriese oorlading kan vererger, veral omdat daar geen regulerende sensoriese insette soos beweging of propriosepsie saam met die voorgenoemde insette is om dit te balanseer nie.
- Ken jou eie sensoriese behoeftes en afkeure, as die ouer. Sodoende erken jy jou eie sensoriese drempels en is dus beter daartoe in staat om jou kind se sensoriese behoeftes te begryp en te duld.
Hoekom maak sensoriese intelligensie meer saak as IK en emosionele intelligensie?
Sensoriese regulasie en integrasie vorm die fondasie vir leer, sosiale reaksie en emosionele welstand.
Sensoriese disregulasie:
- Beperk ’n persoon se vermoë om te konsentreer, aangesien die sensoriese soeke of sensoriese sensitiwiteit deur jou neurologiese sisteem geprioritiseer word. Dit is daarom moeilik om op ander insette te fokus. Dit is byvoorbeeld verbale instruksies, geskrewe inligting of kognitiewe manipulasie.
- Beïnvloed taakvoltooiing en tydsbeplanning negatief indien ’n persoon sensories gedisreguleer is en die aktiwiteitsvlak te hoog is.
- Het ’n negatiewe impak op ’n persoon se sosiale interaksie. Indien ’n persoon sensories afgesluit is of minimaal registreer, is reaksies stadiger, of interaksie word gemis.
- Kan ook kontrolerende gedrag in die persoon ontlok binne ’n sosiale omgewing, wat sosialisering bemoeilik as daar nie begrip binne die groep is nie. Indien ’n persoon in sensoriese oorlading is en dus in veg-, vlug- of vreesreaksie is, is daar sosiale vermyding en stresreaksies wat as ongeskik of bot kan voorkom.
- Kan ook emosionele welstand beïnvloed. Verhoogde sensoriese sensitiwiteit lei tot emosionele sensitiwiteit en verhoogde angsvlakke. Die emosionele reaksie op ’n gegewe situasie kan dus buite konteks wees en ’n klein sneller sal ’n styfgespande snaar laat breek, wat ’n emosionele uitbarsting, ontoepaslik vir die situasie, tot gevolg kan hê.
Slotgedagte
Dit is onmoontlik om in een artikel alles oor hierdie belangrike en komplekse onderwerp te vervat. Daarom beveel ons aan dat ouers ’n arbeidsterapeut wat spesialiseer in sensoriese integrasie sal raadpleeg indien hulle vermoed hulle kind ly dalk aan SPD. Onthou: Selfdiagnose is ’n baie groot NEE. Los die diagnoses vir die kundiges.
Meer oor Charlene Cruickshank
Charlene Cruickshank is ’n arbeidsterapeut en reeds 20 jaar lank in privaat praktyk. Sy het ’n B.Arb voltooi by die Universiteit van Pretoria (1999) en haar loopbaan begin by Addington Hospitaal en ’n skool vir serebraalgestremde kinders voordat sy in privaat praktyk vir pediatrie begin werk het. In 2005 voltooi sy haar opleiding in Sensoriese Integrasie (deur SAISI) en voortgesette opleiding in kinderontwikkeling. Haar opleiding en ervaring as terapeut asook ma van drie kinders, gee haar die vaardighede om kinders te bemagtig om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel met ingeligte ouers en onderwysers wat hulle ondersteun. Sy is passievol oor inklusiwiteit en neurodiversiteit. Charlene het artikels geskryf vir ouertydskrifte en bydraes gelewer vir twee gepubliseerde boeke oor sensoriese integrasie in die klaskamer, in kinderontwikkeling en die uitdagings van neurodiversiteit. Sy was ’n gasspreker op ’n televisieprogram oor kinderontwikkeling en bied lesings aan in haar veld van kennis. Charlene werk tans in ’n privaat praktyk verbonde aan twee kleuter- en laerskole waar sy kinders van so jonk as ses maande tot tienerjare behandel.
