Skrywer: Persverklaring
Wat is ʼn Januarie sonder die beroemde en geliefde The Rockets by die ikoniese Taalmonument op die Paarlberg?
As jy nog nie dié energieke popgroep in lewende lywe aanskou het nie, is Saterdag, 28 Januarie 2023, ʼn aand wat jy nie kan misloop nie; as jy hulle reeds ken, is geen aanmoediging nodig nie. Hul konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, dus besoekers word versoek om enige nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.
The Rockets is meer as net ʼn groep; dis inderdaad ʼn musikale instelling.
Hulle het al meer as 3 miljoen kilometer gereis en voor miljoene aanhangers opgetree, en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë aan die brand te sing met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes. Die groep is al met onder meer ʼn Ghoema-toekenning vereer en hul uitverkoopte vertoning om hul 50ste verjaardag te vier het ʼn SAFTA-toekenning vir die beste musiekproduksie ontvang.

The Rockets het al die talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie – die liedjies van hul jongste Afrikaanse album, Sonskyn, word ook gereeld gehoor. Oud en jonk is mal oor Jerry Watt, Manuel Losper, Donovan Dyers, Vinashco Williams en Carlos Griffin se strelende stemme wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater op die sagte grasperk aan die voet van die monument – net betyds vir ʼn pragtige sononder en maanopkoms. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, ʼn pendeldiens, buitelug-speletjies, speelparke asook tydelike uitstallings. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing en flits.
Kaartjies, wat na verwagting snel gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R120 vir volwassenes en R100 vir pensioenarisse, studente & kinders onder 13 jaar beskikbaar. As daar enige oor is, sal dit vanaf 17:00 by die hek self verkoop word. Meer oor The Rockets by rockets.co.za