Aanlyn onderrig, tuisonderrig of afstandsonderrig: Neem ’n ingeligte besluit.
“Volgens navorsing deur die departement van onderwys, toon aanlyn skole ‘n hoër uitvalkoers en is punte gemiddeld laer as in konvensionele skole. Daarom waarsku die departement ook dat skole wat volgehoue swak uitslae toon hul akkreditasie kan verloor.” – Rapport, 27 November 2022
In ‘n onlangse artikel in Rapport (27 November 2022) word beweer dat baie kinders gaan druip … en sê die hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Hugo Vermeulen, dat hy gevind het dat die meeste kinders na twee of drie jaar tuisonderrig terugkeer skool toe met ‘n akademiese agterstand. Sê Vermeulen: “Ouers kom terug en sê hulle kind het agtergeraak en is asosiaal. Dan gee ek vir hulle ‘n wiskunde- of taalvraestel van die vorige jaar. Die uitslae was baie maal so swak dat ek die kind twee grade terug moes plaas.” In dieselfde asem sê Vermeulen egter dat aanlyn skole en afstandsonderrig hier is om te bly omdat dit baie ouers en leerders se keuse is, en ofskoon dit ‘n aanvullende rol het om te speel, kan dit na sy mening nie ‘n plaasvervanger vir konvensionele onderrig wees nie. Indien ‘n mens wel die opsie van aanlyn skool kies, is dit belangrik om seker te maak dat die onderrig op standaard is. Die DA se woordvoerder vir basiese onderwys, Bax Nodada beaam dit en sê dan ook dat “aanlyn skole die druk op konvensionele skole kan verlig, mits dit op standaard is en as aanvulling vir konvensionele skole gebruik word”.
Is tuisonderrig en afstandsonderrig dieselfde?
“Tuisonderrig is waar die ouer as onderwyser optree en die onderrig primêr tuis plaasvind.” Die ouer is dus verantwoordelik om toe te sien dat die werk verstaan en gedoen word, hoewel baie van tutors gebruik maak. Daar word ook ‘n spesifieke kurrikulum gevolg. Leerders vanaf graad R tot graad 9 moet ook by die departement van basiese onderwys geregistreer wees.
“Afstandsonderrig geskied virtueel. Leerders moet by ‘n onderwysinstelling geregistreer wees en die onderrig is aanlyn via vooraf opgeneemde klasse, intydse virtuele onderrig en aanlyn studiemateriaal.” Lesse en assesserings is op die internet beskikbaar en dis die leerder se verantwoordelikheid om die skoolwerk en take betyds te voltooi.
Maak elkeen maar soos hy lus het?
“Rolspelers in die onderwys is dit eens dat daar nog navorsing oor aanlyn onderrig nodig is. Dit sluit in om vas te stel watter profiel leerder die meeste by aanlyn onderrig baat vind.” – Keith Maseko, uitvoerende hoof van Sacai (Rapport 4 Des. 2022)
Volgens Keith Maseko in ‘n artikel in Rapport (4 Desember 2022), is aanlyn skole beslis nie ongereguleer nie. Hy sê: “Die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat enige instelling wat as ‘n skool funksioneer, hetsy dit konvensionele klaskameronderrig of aanlyn klasse bied, aan twee kriteria moet voldoen:
- Die skool moet by die provinsiale departement van basiese onderwys geregistreer wees as ‘n skool.
- Die skool moet by die Raad vir Gehalteonderwys in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding (Umalusi) geakkrediteer wees.”
Leerders in die finale skoolfase (graad 10 tot 12) moet ook by ‘n geakkrediteerde eksamenraad geregistreer wees. Tans is daar drie rade wat vraestelle mag opstel, kan assesseer en ‘n matrieksertifikaat mag toeken. Dit is die departement van basiese onderwys, die onafhanklike eksamenraad (IEB) en die instituut vir omvattende assessering (Sacai). “Indien ‘n skool by Sacai geregistreer is, monitor ons verder die gehalte van mondelinge, praktiese en navorsingstake wat voorgeskryf word by die skool vir alle vakke van graad 10 tot 12.”
Maseko sê verder: “Vir graad 10 en 11 kan monitering een of twee keer per jaar geskied, terwyl dit drie maal per jaar vir graad 12 gedoen word.” Moderators word dus na alle geregistreerde skole toe gestuur om seker te maak hulle voldoen aan die standaard en dat die leerders toegerus word om matriek te slaag. Sacai hanteer hulle eie jaareindeksamen vir graad 12, maar Umalusi maak seker dat daar aan alle vereistes voldoen is, alvorens matrieksertifikate toegeken word.
Volgens Maseko is een van die probleme tans dat daar nie onderskeid getref word tussen registrasie van konvensionele en aanlyn skole nie omdat laasgenoemde nog nie hul eie riglyne het nie. In dié verband beoog die departement van basiese onderwys om in 2023 wel riglyne bekend te stel vir die registrasie van aanlyn skole. Sodoende sal aanlyn skole beter gereguleer kan word en sal leerders wat weens ‘n tekort aan konvensionele skole nie plek kry nie, wel ‘n alternatief hê in die wete dat die aanlyn skool gehalteonderrig bied.
Nog ‘n bekommernis vir Sacai is dat die voorgestelde Bela-wet nie tans voorsiening maak vir aanlyn en afstandsonderrig nie – ‘n belangrike tekortkoming wat hopelik in die hele proses van wetgewing aangepak sal word.
Maseko noem ook dat sommige aanlyn skole graad R- tot graad 9-leerders akkommodeer en in die geval is “bykomende regulasies nodig om seker te maak dat leerders van aanlyn skole in die laer grade genoegsaam voorbereiding vir die hoër grade ontvang”.
Jonger leerders moet gereed wees vir graad 10 om uitvalle te beperk
Om jonger leerders voor te berei sodat hulle ‘n beter kans het om graad 12 te slaag, vind assesserings vir aanlyn skole wat laer grade akkommodeer tydens elke uittreevlak van elke fase plaas. Met ander woorde daar word aan die einde van die grondslagfase (graad 3), die intermediêre fase (graad 6) en die senior fase (graad 9) geassesseer. Enige probleme en uitdagings kan dus betyds hanteer word.
Uit die perd se bek
Wikus Breetzke, hoof van innovasie, tegnologie en bemarking by Die Mos (Moedertaal in Onafhanklike Skole-beweging) en MOS Wêreldwyd aanlyn tuisskool sê die volgende:
“By MOS-skole en MOS-Wêreldwyd kry ons leerders die geleentheid om dinge vir hulleself te ontdek en uit te pluis. Ons wys hulle hoe om vir hulleself te dink, gee vir hulle die gereedskap om op innoverende wyse die leerwêreld te ondersoek. Op die ou einde is ons as onderwysers slegs die fasiliteerders wat ons kinders en jongmense, van voorskool tot hoërskool toerus om te ontdek en te leer.
“Wanneer ek met die ouers gesels oor tuisskoolonderrig, sê ek altyd vir hulle dat dit nie saakmaak hoe hulle kinders skoolgaan nie, dit bly egter die ouer (en leerder) se verantwoordelikheid om seker te maak leer vind wel plaas en dat hulle onmiddellik moet ingryp as die kind nie na wense vorder nie.
“Vir my is die belangrikste die volgende:
- Net soos ’n gewone skool nie vir almal is nie, is ’n aanlyn tuisskool ook nie vir almal nie. Daar is baie voordele van ’n gewone skool, maar net so is daar ontsettend baie voordele vir ’n tuisskool. Sekere leerders word in ’n skoolomgewing geboelie deur verskeie ander leerders en onderwysers selfs, maar dit hoef nie by ’n tuisskool te gebeur nie.
- Leerders hoef nie vir ander te wag nie, m.a.w. as ’n leerder wil aangaan en vooruit werk, kan hy dit doen en indien daar leerders is wat stadiger werk, word die leerders ook nie beangs omdat almal nou vir hom of haar kyk nie.
- Met MOS-Wêreldwyd se aanlyn tuisskool, gee ons een-tot-een-terugvoer op alles wat die leerder inhandig. Die manier van terugvoer is die MAGIC. En ons aanlyn vakkundiges word ontsettend goed opgelei om die terugvoer so positief as moontlik te maak.
- Ouers weet gewoonlik nie hoe ver leerders in ’n tuisskoolomgewing gevorder het nie. By MOS-Wêreldwyd het ouers daagliks toegang om te sien hoe die leerders vorder.
- Net soos in ’n gewone skool, vind leer nie plaas deur osmose nie. Dit is ’n intensionele proses en ons maak leerders aktief betrokke by hul eie leerproses. By MOS noem ons dit lewenslange leer. Dus help ons die leerders om die toekoms te omarm.
- Breingefundeerde navorsing is deel van ons MOS-leerfilosofie. En dit beteken dat ons aktief die nuutste en bewese onderwyspraktyke dophou en ondersteun.ie
‘n Laaste woord deur Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON):
“Die keuse van onderrig bly vir sommige ouers en leerders steeds ‘n tameletjie. Die algemene opvatting is dat tuis-, aanlyn en afstands- onderrig met die pandemie hul opwagting gemaak het, terwyl getalle van leerders wat veral die tuisskoolmodel verkies reeds voor die pandemie toegeneem het. Dit bly ‘n moeilike keuse en in sommige gevalle is daar nie ‘n “reg” of “verkeerd” nie. Die keuse van watter “model” of “proses” leerders en ouers verkies, bly persoonlik en hang van bepaalde behoeftes en verwagtinge af. Leerders wat meer van sosiale interaksie hou en by groepe wil inskakel, sal eerder die tradisionele klaskamermodel verkies, terwyl leerders wat meer van ‘n stil en minder gestruktureerde omgewing hou in ‘n ander model sal floreer.
“Met al die voor- en nadele van die verskillende opsies opgeweeg, bly die beginsel: WAT IS IN DIE BESTE BELANG VAN DIE KIND? Wanneer ons as ouers dít as vertrekpunt gebruik, sal ons weet wat ons kinders se behoeftes is en watter onderrig die grootste impak gaan hê. Kinders moet dit geniet om te leer en die proses om dit te laat realiseer moet ‘n avontuur bly.”
Ten slotte
Tuisonderrig is nie die ‘makliker’opsie nie en ook nie noodwendig goedkoper nie. Dit is ‘n keuse wat met omsigtigheid moet geskied en vir die regte redes. ‘n Mens moet gemotiveerd en gedissiplineerd wees. Jy kan beslis nie van die skool/instansie of onderwysers verwag om jou kind se sukses te bewerkstellig nie. Die sogenaamde ‘verskuilde kurrikulum’ waar kinders met maats op verskeie vlakke sosialiseer en saamwerk, en so leer om onder andere teleurstelling en konflik te hanteer, is nie die skool se verantwoordelikheid nie. Dit verg die wil om deel te neem en te presteer – waarin die kind ook al uitblink. As jou kind dus tuisonderrig ontvang, is dit jou plig om deelname op sosiale vlak te bewerkstellig.
Wat jy as ouer ook al besluit, doen eers deeglike navorsing. Jy moet weet wat jou rol is – so ook moet jou kind besef dat hy die nodige dissipline aan die dag sal moet lê om klasse by te woon en take betyds vir assessering in te handig. Ouers (en leerders) kry ook deur die loop van die jaar terugvoer oor vordering en daarom moet daar voordurend opgevolg word en daadwerklik opgetree word indien die leerder nie na wense presteer nie.
Die heel belangrikste om te onthou is dat aanlyn of afstandsonderrig nie noodwendig jou kind se leerstyl pas nie. Elke kind is uniek bedraad en daarom moet jy as ouer seker maak jou kind is ‘n kandidaat vir virtuele onderrig.
*Baie dankie aan Wikus Beetzke (Die MOS) en Daan Potgieter (AON) vir julle insette.
Bronne:
Aanlyn skole: Baie kinders gaan druip | Netwerk24
Aanlyn skole is ‘nie soos die Wilde Weste’ | Netwerk24
Lees ook weer:
Tuisskool … waar begin ’n mens? – Afrikaans.com
Tuisskool: Kies ek aanlyn of tuisonderrig? – Afrikaans.com
Nuttige skakels:
Sacai: www.sacai.org.za
Departement van Basiese Onderwys: National Department of Basic Education > Home
Onafhanklike Eksamenraad: Independent Examinations Board Web (ieb.co.za)
Die Pestalozzi Trust (tuisskoolorganisasie): Pestalozzi Trust – Defend the right to learn
Die MOS-inisiatief – www.diemos.co.za
Die MOS-Wêreldwyd – Die MOS Inisiatief | Ons Skole
Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) –Tuis – Afrikaanse Onderwys Netwerk (aonetwerk.co.za)