Sophia Kapp gesels oor haar jongste boek Heimwee.
“Ek hou van goedvoelstories, en ek wou graag vir my lesers dieselfde soort stories bied as wat ek geniet om te lees.”
In taal-, skryf- en leeskringe het die taalpraktisyn en skrywer Sophia Kapp min bekendstelling nodig. Hierdie taalghoeroe was tot onlangs nog betrokke by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en het die “taaltannie” menige taalnavraag soms verbysterend vinnig beantwoord. Trouens, dit was amper soos ’n refrein by ons: “Vra vir Sophia!” Afrikaans.com het per e-pos met Sophia gesels om so bietjie oor die skryfproses te praat, maar ook veral oor haar jongste boek Heimwee, wat in Oktober onder die vaandel van die nuwe uitgewery Boekdiva, uitgegee is.
Jy het jou eerste boek in 2007 gepubliseer, en daarna nog vele, tog het jy maar altyd heeltyds as onder andere taalpraktisyn gewerk. Is skryf net ’n stokperdjie of sou jy voltyds wou skryf?
Ek kan nie namens ander skrywers praat nie, maar my skryfwerk bring nie genoeg inkomste dat ’n mens daarvan kan leef nie. In alle eerlikheid weet ek ook nie of ek voltyds sal kan skryf nie, dis vir my lekker om ook as ’n praktisyn te werk. Dit beteken in werklikheid dat ek my brood en botter met taalpraktyk verdien en dat ek net die konfyt met my skryfwerk betaal.
Om boeke soos joune te skryf, verg harde werk veral as jy nog die pot aan die kook hou as taalpraktisyn. Wanneer skryf jy? Benader jy dit soos werk? Elke dag x hoeveelheid ure/woorde?
Dit is net nie moontlik om elke dag ‘n vasgestelde hoeveelheid woorde te skryf nie. Ek probeer om elke dag aan my manuskrip te werk, maar ‘n mens se kreatiewe energie is nie elke dag ewe sterk nie. Soms het ‘n mens ‘n dooie dag, dan redigeer ek nie.
Jy skryf hoofsaaklik liefdesromans. Hoekom het jy die genre gekies?
Dis die genre wat ek die beste ken omdat ek dit self lees. Ek hou van goedvoelstories, en ek wou graag vir my lesers dieselfde soort stories bied as wat ek geniet om te lees.
Hoe hanteer jy die “oningeligtes” wat neersien op liefdesromans en dink dis nie “ware” literatuur nie?
Ek hanteer hulle nie. Mense mag glo en dink wat hulle wil, en mense wat snedig wil wees oor romantiek en romantiese fiksie, sal snedig wees, ongeag wat ek sê. Maar ek hoef my ook nie te steur aan mense wat nie van die genre hou nie. Ek moet ook darem in alle eerlikheid sê dat nie een van my kollegas nog ooit (waar ek dit kon hoor) snedig was oor my skryfwerk of die genre nie.
Jou boeke raak dikwels moeilike temas aan. Kies jy spesifiek ’n tema/s en skryf dan die boek of ontwikkel die onderskeie temas soos wat jou karakters groei? En wat is die resep om so geloofwaardig te skryf?
Ek begin altyd met ‘n idee. Dis nie regtig ‘n tema in die literêre sin van die woord nie, dis meer ‘n bepaalde situasie of ‘n plek in ‘n verhouding wat ek beskryf. Daarna kom die karakters wat hierdie situasie moet leef. Geloofwaardigheid hang saam met ‘n skrywer se vermoë om eerlik te wees oor hulle eie belewing van moeilike situasies – as jy nie self behoorlik verwerk en ontleed aan jou eie seer en ongemak nie, kan jy nie karakters se seer en ongemak skryf nie.
Ek self vind dit moeilik om jou boeke neer te sit en hier na die einde toe wil ’n mens hê die boek moet nie opraak nie. Maar wanneer weet jy dis nou genoeg – die einde?
Dit verg maar beplanning. Ek het nooit ‘n vreeslik breedvoerige plan waarvolgens ek skryf nie, maar ek weet nog voor ek begin skryf hoe die storie gaan loop. Ek beplan die hoofstukke, en ek weet watter tonele in elke hoofstuk gaan pas. Dis ‘n manier om die spanningslyn behoorlik vol te hou, en te weet watter deel van die storie ‘n mens moet uitbrei of kortknip.
“As jy wil weet hoe min dit neem om ‘n gesin te wees sodat ‘n familie saam kan groei na begrip, lees Heimwee. As jy wil weet wat ‘n ma dryf om haar gesin agter te laat en tot watter uiterstes sy sal gaan om haar kinders te beskerm, lees Heimwee. Magspatrone in hierdie gesinne uit twee eras laat jou dankbaar voel dat jyself in die hedendaagse lewe nie meer onderworpe is aan manlike gesag en onderdrukking nie. Erfsondes maak dat mense hulleself nie waardig ag of hulle gevoelens nie durf verwoord nie. Hierdie is die beste liefdesroman van 2022!” – Trisa Hugo op Goodreads
En nou: Heimwee – weer eens ’n boek wat ek nie wou neersit nie. Ek kon nie wag dat die boek vrygestel word nie, en veral die bemarking op Facebook met die pragtige musiek het my belangstelling geprikkel. Kan jy vir die lesers meer oor die boek vertel? Waar het die idee ontstaan?
Ná Kanaän wou ek weer ‘n storie skryf wat in die verlede afspeel, maar nie heeltemal daar bly nie. Ek wou die brug slaan tussen die geskiedenis en die hede, want die hele punt van die optekening van die geskiedenis is om die patrone daaruit te herken. Dit is een van Heimwee se onderliggende temas – daardie herhaling van die geskiedenis, die lesse wat ‘n mens daaruit leer, en die waarde van jou voorgeslagte se voorbeeld.
En as jy dalk net kortliks kan uitbrei oor die ooreenkomste of dan liewer raakpunte tussen die twee verhale in verskillende tydsgrepe wat in die boek afspeel – op dieselfde plaas. ’n Mens kom geleidelik agter dat die geskiedenis homself op ’n manier herhaal.
Ja, daardie ding van niks nuuts onder die son nie, is deel van Heimwee se onderbou. Ek dink elkeen dink maklik die swaarkry wat ons ervaar is nuut bloot omdat dit vir ons nuut is. Intussen het ons voorouers met dieselfde, en baie keer groter, probleme as ons gespook en dit oorwin. Hulle was baie keer gereserveerde mense, en die stories is saam met hulle die graf in, maar hulle het dikwels lewens van groot opoffering gelei om hulle kinders te sien grootword.
Die ma-figuur speel ’n prominente rol in die verhaal. Oor wat ’n ma alles sal doen/opoffer vir haar kinders. Kan jy meer daaroor sê?
Heimwee is by uitstek ‘n verhoudingsroman, en die belangrikste verhouding vir ons almal is die verhouding met ons ma. Ons is so geprogrammeer dat ons besef ons is vir ons oorlewing van haar afhanklik, en as daar iets met daardie verhouding skeefloop, word ons vir ewig daardeur beïnvloed. Op dieselfde manier is ‘n ma bedraad om haar kinders met haar lewe te beskerm as dit moet. Daar is selfs in vandag se dae ma’s wat dit moet doen – wat alles moet prysgee ter wille van hulle kinders se oorlewing.
Anton gaan saam met Mart-Mari begrafnis toe, maar sy teenwoordigheid en benadering speel eintlik ’n groter rol. Hy dwing haar om met ander oë na haar familie en verhoudings te kyk en tree as haar “gewete” op. Hierdie subtiele manier wat jy gebruik om jou karakter (Mart) tot ander insigte te bring … is dit ’n tegniek wat jy doelbewus gebruik?
Mart-Mari was loshande die moeilikste karakter wat ek tot nog toe geskryf het. Sy is ontsettend geslote, en sy hol weg as dinge moeilik word. Anton is haar spieël – hy dwing haar om stil te staan en te besin oor goed, ook oor haar eie aandeel aan die moeilike verhouding tussen haar en haar sibbe. Ja, dis doelbewus. Ek kies my heldinne se manne baie versigtig – ek wil kan glo hierdie twee gaan vir ewig en altyd gelukkig wees, nie net tot aan die einde van die storie nie.
Kan lesers uitsien na nog ’n boek?
Daar broei mos maar altyd iets in ‘n mens se agterkop. Ek sit en uitpluis aan ‘n beplanning. Kom ons kyk hoe loop dit.
Meer oor die storie
Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ʼn ondeurdagte oomblik betaal sy die knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ʼn man in haar lewe. Gou besef sy dat hy hom nie laat gebruik nie. Hy is die alles-of-niks-tipe, wat haar dwing tot emosionele eerlikheid en die spieël voor haar ophou sodat sy bewus kan word van haar aandeel in haar gekompliseerde familieverhoudinge.
Dit is ook die storie van Liesbet Vermaak wat in die nadraai van die allergrootste vernedering alleen moet omsien na haar broers: Andries, die dromer, en Benna, die kind wat alles verstaan, maar nie met die wêreld kan kontak maak nie. Wat die foto van die soldaat steel sodat sy kan voorgee sy is getroud, maar dan op ʼn dag in Humansburg se hoofstraat opkyk in die helder heuning van Gert Niemand se oë en besef haar leuen het haar ingehaal.
Dis ʼn storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seer gekry het dat hulle swerf, maar dis ook ʼn storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma’s wat bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.Gaan na Boekdiva Uitgewers vir ‘n kort uittreksel uit die boek.

Afrikaans.com en Graffiti Boeke gee boeke weg!
Drie gelukkige lesers staan die kans om elkeen ’n eksemplaar van Sophia Kapp se Heimwee te wen. Al wat jy moet doen om deel te neem, is om te klik op die skakel of gaan na www.graffitiboeke.co.za en klik bo-aan op KOMPETISIES. Sluitingsdatum vir inskrywings is 27 Desember 2022. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word.
Na afloop van die kompetisie is die volgende wenners aangewys. Baie geluk!
- Doreen van der Merwe
- Annemarie Crozier
- Ronell Bezuidenhout
Om die boek te bestel: info@boekdiva.co.za of Graffiti Boeke – Koop Afrikaanse en Engelse boeke aanlyn (tans teen ’n spesiale prys) of gaan loer by jou gunstelingboekwinkel en bederf jouself.
Luister en kyk:

Die ideale Kersgeskenk uit die boonste (boek)rakke!
Bederf jouself en jou ma, dogter, tannie – wie ook al – en skenk vir hulle hierdie pragtige boek. Die omslag is so mooi, dit voel amper soos ’n geskenk op sy eie.
ISBN: 9780639704494
Prys: R350

Ek geniet jou boeke so!!!!