Hierdie kleurvolle slaai met interessante teksture en smake, is perfek vir dié wat nie oor ’n tipiese groenslaai opgewonde raak nie. Die effens ongewone kombinasie van bestanddele is ’n geurige verrassing en dis altyd gewild.
Lewer 6 porsies
15 ml (1 e) olyfolie
3 uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
15 ml (1 e) sagte bruinsuiker
30 ml (2 e) balsamiese asyn
sout en peper na smaak
30 ml (2 e) vars tiemieblaartjies
300 g broccoli, in kleiner blommetjies gesny
2-3 handevol babaspinasieblare of ander gemengde slaaiblare van jou keuse
200 g babatamaties, gehalveer
100 g bloukaas of 1-2 skywe fetakaas, grof gekrummel (sien wenke)
- Verhit die olyfolie oor matige hitte in ’n groot braaipan en soteer die uie tot heeltemal sag. Voeg die suiker en asyn by en geur na smaak. Verlaag die hitte effens en roer af en toe, terwyl die uie 10-15 minute, sonder ’n deksel, karamelliseer. Roer die tiemie by. Skep uit en laat eenkant afkoel.
- Plaas intussen die broccoli in ’n vlak bak en bedek met kookwater. Laat 10-12 minute staan of tot net gaar, maar steeds bros. Dreineer en herhaal die kookwaterproses indien nodig.
- Dompel die broccoli in koue water sodat dit nie verder gaar word nie en dreineer dadelik. Druk liggies met kombuispapier droog. (Die broccoli kan ook vir ’n paar minute gestoom of in ’n kastrol geblansjeer word.)
- Pak al die slaaibestanddele op ’n slaaibord en sit teen kamertemperatuur as ’n bygereg voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Gekaramelliseerde uie is verbasend veelsydig. Gebruik dit in enige ander slaai of roer saam met ’n groot handvol koljander- of basiliekruidblare en geroosterde neute, as bygereg, by koeskoes in.
- Bokmelkkaas, in plaas van bloukaas of feta, is ook heerlik in die slaai.
- Sit al die elemente in aparte bakkies voor en laat elkeen hul eie slaai bou. Voeg ’n proteïen soos spek, gaar hoender of repies steak vir ’n ligte maaltyd by.
Afrikaanse WOORD: broccoli of brokkoli
Hierdie is een van die woorde wat in Afrikaans op twee maniere geskryf kan word en albei is korrek. Maak net seker dat jy die dubbel ‘k’ of ‘c’ gebruik om dit wel reg te spel.
Heerlike resepte. Baie dankie!