Met dié dat Theron ons die treurige tyding meegedeel het dat Afrikaans toetentaal tydmors is en tewens die trekpas gaan kry, trakteer ons julle graag op twee en twintig treffende woorde wat tydens 2022 tot die WAT toegevoeg is. Hierdie twee en twintig woorde verteenwoordig maar ʼn titselseltjie van die meer as 8 300 woorde wat met T begin wat in 2023 aan die Aanlyn WAT toegevoeg sal word. Tog is dit ʼn onteenseglike testament van Afrikaans se trefkrag en toenemende groei.
taaibek (taai-bek) s.nw., taaibekke. Hardbekkige dier, tipies ’n donkie, esel, muil of perd: Hy (pak) die leisels met albei hande beet en (gaan lê) byna plat op sy rug om die taaibekke tot stilstand te rem (P.H. Nortje: Ghoen, 1960, 39).
taalbewus (taal-be-wus) b.nw., taalbewuste; taalbewuster, taalbewusste of meer taalbewus, mees taalbewuste. Wat bewus is v.d. belangrikheid, korrektheid, seggingskrag en waarde van taal, veral jou moedertaal: Om iets stewigs tot stand te bring uit … eie boustof en taalskat … moet … wetenskaplikes taalbewus wees (Handhaaf, Jun. 1971, 7). Taal word, in die hande van … ’n taalbewuste leier, die saambindende krag wat die veronregte groep saamsnoer (L.T. du Plessis in Kongresreferate LVSA, 1982, 56). Dis (die bundel Tristia is) Van Wyk Louw se mees taalbewuste bundel, alhoewel ander bundels hul taalvlag duideliker uitsteek (F.I.J. v. Rensburg: Ambag, 1975, 115).
taanie (taa-nie) s.nw., taanies. (geselstaal; gew. as verwysing) Ook, geselstaal, tanie en selde, geselstaal, tannie. MA: My ma slat haa purse tien Tigo se knieë … Tigo haloep daa yt ôsse hys yt … My taanie hettie dee geslyt en allie curtains toegemaak (C. Rhys: Kinnes, 2018, 181). Laat die uwe nou vi’ djou en ál daai tôppies en taanies vi’tel wat soe op hulle bloedjies se sonde sit: Solank as wat hierie bekkie van my kan praat oor die wrongs in my community, sal hierdie bekkie van my klap soes ’n lap wat skeur (Son, 18 Nov. 2017, E).
taboeli (ta-boe-li) (kookkuns) Selde ook taboelie. (‹Arabies tabūla) Geurige Levantynse slaai wat tipies uit tamaties, uie, bulgurkoring of sorghum, kruisement en fyngekapte pietersielie bestaan, met suurlemoensap en olyfolie gegeur is, en tradisioneel as aptytwekker bedien word: In die Libanese kookkuns is dit (bulgurkoring) veral bekend as ’n bestanddeel in taboeli (tabbouleh), ’n pietersielieslaai wat met suurlemoen gegeur word (Tuis, 1 Okt. 2017, 112).
Tarzan-twak (Tar-zan-twak) s.nw. (geselstaal; skertsend) (na Tarzan, die held in ’n reeks oerwoudverhale deur E.R. Burroughs) DAGGA: “Hoe lyk dit met bietjie Tarzan-twak.” Bosman het ’n dik, handgerolde sigaret uit sy hempsak gehaal (H. Kalmer: Johannesburg, 2014, 138).
teerneus (teer-neus) s.nw., teerneuse; teerneusie.
(streektaal) DONKIE. (Opgeteken in Heidelberg, W.Kaap).
telenovela (te-le-no-ve-la) s.nw., telenovelas.
(Sp. ‹tele(visión), “televisie” en novela, “roman”) Sepie op veral Latyns-Amerikaanse televisie, maar later enige gewilde televisiedrama wat gekenmerk word deur buitengewone en oordrewe storielyne en karakterisering, wat gew. daagliks uitgesaai word en gew. ’n beperkte aantal episodes het: Legacy is ’n … Suid-Afrikaanse telenovela wat handel oor die vinnige lewe van beleggingsmiljardêrs. Dit is ’n storie van ’n familie gewikkel in ’n oorlog met homself (Maroela Media, 21 Sept. 2020, E). Baie van die telenovelas wat nou op plaaslike TV wys, word … oorsee gemaak en dan oorgeklank (Kuier, 19 Febr.2020, E).
tenar (te-nar) s.nw., tenars. (anatomie) Verhewenheid op die handpalm a.d. voet v.d. duim; sin. duimbal (ongewoon),
duimmuis (ongewoon).
tenderpreneur (ten-der-pre-neur) s.nw., tenderpreneurs.
Iem. wat sy of haar politieke bande gebruik om openbare kontrakte of tenders te bekom: M.B., Suid-Afrika se eerste tenderpreneur, het ’n “skamele” R14 miljoen vir … die musiekblyspel vir vigsbewustheid, op ’n opportunistiese wyse gekry (Volksbl., 10 Des. 2014, 6). Deur ’n fantastiese hoë onderwysbegroting voor te lê en nie geld aan opleidingskolleges af te staan nie, is daar baie maniere om hierdie geld na hul (die regering se) eie sowel as vriende en familie se sakke deur tenderpreneurs en ongehoorde groot bedrae aan verskaffers te kanaliseer (Kwêvoël, 14 Okt. 2015, E).
terp s.nw., terpe. (ongewoon) (Ndl.) Mensgemaakte hoop, hoogte of heuweltjie wat aanvanklik gebruik is om stygende water te ontsnap, maar waarop later grafte, huise of kerke gebou is; sin. vlugheuwel, wierde: Friesland is plat; die enkele terp (“heuwel”) waarop kerke gebou is, val skaars op (Burg., 22 Nov. 1991, E). Uit vondste in die terpe … kan afgelei word dat in die Noordprovinsies van Nederland met reëlmatige dykbou in die 10de tot 11de eeu begin is (Ens. v.d. Wêreld 3, 1972, 618).
tetrafobie (te-tra-fo-bie) s.nw. (‹Gr. tetra, “vier” en phobos, “vrees”) Irrasionele of bygelowige vrees vir of vermyding van die getal vier, veral alg. in O.Asiatiese lande waar die woorde vir vier en dood óf homofone is, óf byna dieselfde klink: Geboue in Oos-Asië (het) glad nie ’n vierde verdieping nie, en geboue in Hong Kong geen verdieping met ’n syfer vier daarin nie … “Baie mense in China, Korea en Japan ly aan tetrafobie en het ’n vrees vir die syfer vier. Dit bring onheil, glo hulle” (Rose, 23 Sept. 2015, E).
thari (tha-ri) s.nw., thari’s. (‹Tswana, Sesotho sa Leboa, “wiegie”) Dravel, of kombers waarin ’n baba of jong kind op die rug geabba word: Sy (bind) die kleine op haar rug vas met die thari (dravel) (M. Postma: Litsomo, 1964, 53). Sy swaai Onika agter haar rug in en knoop haar in die thari vas (P.G. Hendriks: Plaas, 1990, 85).
tiegheliesj (tie-ghe-liesj of tie-ghe-liesj) s.nw., tiegheliesje. (streektaal) Ook, streektaal, tiekeliesj en tiekelietjie. (‹Xh. icikilishe) Klein akkedis. (Opgeteken in Alexandria).
tipsietert (tip-sie-tert) s.nw., tipsieterte. (tipsie: n.d. Eng. tipsy) BRANDEWYNTERT: Ons kon nog nee sê vir ’n glasie Grappa, maar toe begin terg sy (die kelner) ons en daar sit ons toe elk met ’n tipsietert (Burg., 19 Jun. 1992, E).
tjapang (tja-pang) s.nw., tjapangs. (streektaal) Polisiebeampte, konstabel of geregsdienaar. (Opgeteken i.d. Paarl, Saron en Somerset-Wes).
tjil ww., het getjil; byv. en byw. tjillende, tjillend, getjilde, getjil(d). (geselstaal) Ook, geselstaal, chill. (n.d. Eng. chill) Ontspan, rustig verkeer of ’n blaaskans neem: Dis wat ons nodig het: iets lekker ligs en vol humor en musiek, sodat ons kan tjil (Huisg., 27 Des. 2012, 15). Die Haasvlakte is ’n kleiner gedeelte van die Agulhas Pleins. Hier gebéúr dinge. Weliswaar op ’n erg getjilde manier (ilsezietsmanblog, 26 Des. 2017, E).
toebroodjiegenerasie (toe-brood-jie-ge-ne-ra-sie) s.nw. Generasie van volwassenes wat finansieel vir hul ouers sowel as hul kinders moet sorg omdat die gemiddelde lewensverwagting hoër is en die swak ekonomiese omstandighede werksgeleenthede beperk: Een uit vier. Dit is die statistiek vir die toebroodjiegenerasie in Suid-Afrika. Met ’n wêreldbevolking wat langer leef en dus ouer word en met vroue wat later in die lewe kinders het, sal ’n kwart van alle Suid-Afrikaners in ’n stadium afhanklike kinders én ouers hê (Vr. Weekbl., 3 Sept. 2021, E).
toep s.nw., toeps. (verkorting van toepassing) APP: Sy het hom vinnig herinner aan Uber, die slimfoontoepassing wat van vervoerdilemmas kinderspeletjies gemaak het …, Neil hoef nie te weet dat sy eers ná die oproep die moeite gedoen het om die toep af te laai nie (B. Bergenthuin: Vida, 2016, 260). Sy kan al lekker ronduber en toeps gebruik om haar banksake te behartig, én sy raak elke dag beter met Google (S. Kapp: Lyfskap, 2021, E).
tomahawk (to-ma-hawk, uitspraak: to-ma-hôk) s.nw., tomahawks. (‹’n N.Amer. inheemse taal tomahack) Strydbyl deur die inheemse rasse van N.Amer. gebruik, tipies van klip met ’n houthandvatsel: Hy (hoor) die sagte suisgeluid van ’n duikelende tomahawk en ’n oomblik later kap die strydbyl … in die boomstam vas (S.P.E. Boshoff, e.a.: Luister St. VIII, 1959, 31). Hulle (die lede v.d. inheemse Amer. rasse) (dra) tomahawks in hulle gordels (J.J. Groeneweg: Twee Swerwers, 1941, 171).
toongooi (toon-gooi) ww., het toongegooi. (geselstaal) Ook toon gooi. Hardloop, of haastig of vinnig maak: Ons sal moet toongooi as ons betyds wil wees. Hulle het toongegooi. Gooi toon! (Opgeteken in Touwsrivier).
trammakassie (tram-ma-kas-sie / tram-ma-kas-sie) tw. (verouderend; minder gebruiklik; i.d. taalgebruik van Moesliems) (‹Maleis terima kasih, ’n uitdrukking bestaande uit die woorde terima, “om te ontvang”, en kasih, “liefde, sorg”) DANKIE: Hartlike dank aan die volgende mense en instansies vir hul byraes tot hierdie publikasie … Baie trammakassie! Djulle is poenankies! (Hendricks – Dyers: Kaaps, 2016, v). “Koep die blomme vi’ djou girlfriend of djou mammie. Kanalla toe?” … Danny (haal) … die tien rand uit … “Trammakassie,” sê die blommetannie en glimlag breed (S. Bruinders: DJ, 2017, 93).
transgender (trans-gen-der) b.nw. Van, wat betref of verband hou met ’n persoon wie se genderidentiteit nie volledig ooreenstem m.d. seksuele geslag wat só ’n persoon by geboorte gehad het of wat by geboorte as só ’n persoon se geslag uitgeken of toegeken is nie; sin. transgeslagtelik; trans (geselstaal): ’n Psigiater het … bevind S. is transgender — biologies ’n meisie, maar sy identiteit is manlik — en hy moet toegelaat word om broeke skool toe te dra (Huisg., 13 Jan. 2011, 18). Voorheen was ek die man wat aan die samelewing en familie se verwagtings probeer voldoen het, maar nie meer nie. Ek wil mense wys wat dit beteken om transgender te wees (Huisg., 11 Febr. 2016, 106).
Onthou dat hierdie of enige ander woord geborg of gekoop kan word.
Hoe werk Borg ’n Woord?
- Borg ’n woord teen R100 per woord of koop ’n woord teen R5 000, dan behoort daardie woord net aan jou.
- Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en woord.
- Jy kan R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam.
- Hoe meer woorde jy borg of koop, hoe groter is jou wenkans.
- Jy kry gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop.
- Jy kan ook ’n skenking vir ’n spesifieke woord maak. As jy R5 000 vir ’n woord skenk, ontvang jy, benewens jou Borg ’n Woord-sertifikaat en toegang tot die Aanlyn WAT, ’n 18A-belastingsertifikaat.