Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.
Skrywer: Chrislynn Sias
Kuier – 23 Junie 2022
Foto’s verskaf
FIKS EN VOL VUUR
Op 61 staan dié antie nog op haar kop en leef haar kreatiwiteit na hartelus uit ten spyte van die tawwe stryd waardeur sy is.
Daar is baie min mense wat op 61-jarige ouderdom op ’n balk kan loop en hulself kan balanseer, maar dit is niks vir Levena Josephs van Stellenbosch nie! Sy voer sulke akkeltjies lag-lag uit.
Op die rype ouderdom van 60 is die meeste mense besig om af te tree en om rustig die vrugte van hul harde werk oor die jare te pluk. Maar antie Levena woeker nog in haar gemeenskap, en meen al is sy ’n bietjie oud, is sy beslis nog baie ver van koud af. Sy is steeds ’n gimnastiekafrigter en kan selfs nog op haar kop staan. Wat egter indrukwekkender is, is die lesse van die lewe wat sy deel en ook die absolute positiwiteit waarmee sy alles aanpak en in diens staan van haar gemeenskap.
“Vir my is die uittrede uit ’n beroep nie noodwendig ’n aftrede nie. Ek is nou in die fleur van my lewe en kan nie wag om te sien wat ek volgende gaan aanpak nie,” sê sy met ’n glimlag wat van oor tot oor strek.
Levena het vir meer as 20 jaar haar lewe gewy aan die onderwys en is vir dieselfde aantal jare ook ’n gimnastiekafrigter. Sy rig steeds gimnastiek af by haar eie gimnastiekklub, Oaks Gymnastics, wat sy in 2015 gestig het.
“Daardie absolute gevoel van hoe ’n kind deur jou hande gevorm word – van hul voorskoolse ervaring tot wanneer hulle ’n bietjie ouer is en jy hulle dan oorhandig aan ’n ander klub. Dis ongelooflik, man.”
Wanneer ’n mens na Levena se glimlaggende gesig kyk, is dit moeilik om te glo sy is net bietjie meer as 10 jaar gelede met borskanker gediagnoseer.
“Ek is nou gesonder as ooit, touch wood, en steeds in remissie. Ek het al daardie tyd ’n besluit gemaak om nie te fokus op wat verkeerd mag gaan nie, maar om te fokus op die hier en die nou. Ons hardloop so baiekeer dinge vooruit dat ons vergeet om in die oomblik te leef en dankbaar te wees.”
LIEF VIR KINDERS
Die antie sit rustig by haar eetkamertafel en trek telkemale aan haar hempie om seker te maak dat dit nog nie gekreukel is nie. Oral is kleurvolle blikkies en plante sigbaar. Levena verduidelik: “Ek hou van my eie goed skep. En so baiekeer gebruik ons die verskoning dat ons nie geld het om ons eie huise ’n bietjie van ’n facelift te gee nie. Maar ons vergeet van daai ertjieblikkie, of daai wynbottel of daai koffiepot wat net ’n lagie verf makeer en dan kan dien as ’n blompot, stationery-houer en soveel ander goed!”
Sy lag voor sy trots spog dat sy al vir alle ouderdomme skoolgegee het – laerskool, hoërskool, universiteit en Abet (opleiding vir volwassenes).
“My liefde vir kinders en onderrig is deur my pa en uitgebreide familie gekweek. Ek kom uit ’n generasie onderwysers en my pa was ook ’n skoolhoof. So, dit het natuurlik gebeur dat ek in die onderwys beland het.”
Sy het ook baie sportief grootgeword.
“Ek het altyd geweet dat ek sport gaan afrig ook, maar ek het nie presies geweet dat dit gimnastiek sou wees nie.”
Levena het na maniere begin kyk hoe sy sport kon koppel aan akademie. “Dit is toe ek besluit het om ’n kursus in liggaamlike ontwikkeling in kinders te doen en gimnastiek was die sport wat nie net liggaamlike ontwikkeling bevorder het nie, maar ook groot- en fyn- motoriese vaardighede verbeter het. En dit is toe hoe ek in die wêreld van gimnastiek beland het.”
Sy het later haar eie klub geopen. “Ons het aanvanklik begin met nege gimnaste en nou het ons meer as 50 gimnaste. En die kinders geniet dit so verskriklik baie. Dis ook wonderlik om te sien hoe die sport ook vir hulle dissipline aanleer. Deelname aan sport ontwikkel fiksheid, konsentrasievermoë, deursettingsvermoë, moed en durf, probleemoplossing, spierontwikkeling, hand-oog-koördinasie, dissipline, balans, stamina en kompetisie in kinders.
“Hulle leer ook om saam te werk in ’n span. En dit is vir my so ongelooflik lekker – die feit dat hulle so lekker saam kan werk in ’n span sowel as individueel.”
Levena Josephs rig op 61 steeds gimnastiek af.
Levena voel sy is nou in die fleur van haar lewe.
Die Covid-19-pandemie het ook vir Levena baie geaffekteer. “Ek is nou al oud, nè, en gedurende die inperking moes ek leer om dinge oor die internet te doen – sjoe, dit was omtrent ’n mission. Ek en die kinders moes leer om mekaar beter te verstaan. Dis moeilik om gimnastiek af te rig en jy kan nie fisies daai kind help met die wawiel of om op die balk te klim nie. ’n Mens raak baie gefrustreerd, maar ek dink as daar een ding is wat Covid ons geleer het, is dit om te kommunikeer en om uit te hou en aan te hou, jong!”
Sy het al verskeie gimnastrades gereël. Sy kan haar giggel nie hou nie. “Sjoe, dit was nou vir jou lekker. Daar is een wat ek doen wat ek noem Gym for all. Dit is nou beweging vir almal – van jou voorskoolse kinders tot jou bejaardes, en almal het dit so geniet.”
HELP JONK EN OUD
Volgens Levena het sy na skole in die Stellenbosch-area gegaan en onderwysers afgerig sodat hulle weer die kinders kon leer. Sy het ook ou afgetrede onnies in ouetehuise geïdentifiseer en hulle afgerig om weer hul medebejaardes te leer.
Levena sit met haar ken op haar hand en dan sê sy skielik: “Weet jy, die bejaardes se kinders het altyd vir my gesê hulle ouers kla so van pyn en jig, maar wanneer hulle saam met my oefen, kla hulle niks nie. Inteendeel, hulle kom altyd reg met die gees en die passies. En wanneer jy sien hoe gelukkig jou werk ander mense maak, hoe kan jy ophou? Dit is wat my inspireer en motiveer om aan te hou. Om nie stil te gaan sit en oud raak nie, want daar is nog mense wat my benodig. Dit is nog nie tyd vir my om af te tree nie.”
Dié besige antie het ook onlangs ’n verfkwas begin optel en skilder nou. Sy wys trots na die skilderye wat haar hele voorkamer vol hang.
En hoe het sy begin verf? Sy vat vinnig ’n sluk aan die water wat voor haar staan voor sy opgewonde begin verduidelik.
“Ek het altyd vir my verf gekoop by PNA vir my los blikkies wat ek in die huis gebruik. Eendag sien ek toe daar is ’n vroutjie wat verfklasse aanbied en ek besluit toe om ’n paar van die sessies by te woon. Ek kon nie nog baie bywoon nie omdat dit maar ’n duur storie is, maar toe ek eers die fyner tegnieke aangeleer het, toe weet ek my kop is deur! En nou verf ek!”
Levena wys een van haar verfprojekte.
Voor haar op die tafel staan ’n vetplant en wanneer sy daarna kyk, pluk ’n glimlag speels aan haar mondhoeke.
“Weet jy, baie mense hou nie van ’n vetplant nie, ek on the other hand, admireer ’n vetplant en my hele tuin is vol van hulle. Vir my verteenwoordig ’n vetplant volhoubaarheid. Dit verander nie sy vorm net omdat die lewe hom ’n bietjie te veel gedruk het nie. Die plant behou sy waardigheid en dit is hoe ek my lewe sien – ek staan sterk deur die storms en vou nie gedurende moeilike tye nie.”
Levena lag voor sy dan verklaar: “Jou aftrede is die tyd wanneer jy regtig begin lewe. Nou kan jy dinge doen op jou manier – hoe jy wil en wanneer jy wil. Die lewe is kort, geniet elke oomblik daarvan!”