Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.

Skrywer: Raylentia Simmons
Kuier – 20 Januarie 2022
Fotos: SA Rugby en verskaf
DONELLE IS DINAMIET
Haar liefde vir rugby pols deur haar are – dít was immers haar redding nadat sy wreedaardig aangeval is.
Sy staan net 1,5 m in haar rugbytoks, maar dié klein pakkie dinamiet het reeds iets bereik waarvan baie maar net droom – om ’n Springbok te word nog voor sy mondig is! Donelle Snyders (20) van Macassar buite Kaapstad mag wel klein van postuur en jonk wees, maar dié girl se talent tussen die kalklyne ken geen einde nie.
Verlede jaar het vir haar op ’n hoë noot geëindig toe sy die land op die hoogste vlak verteenwoordig het op haar heel eerste internasionale toer. Hulle het teen Engeland, Frankryk en Wallis gespeel en Donelle moet haarself nou nog knyp ná hierdie prestasie.
Glad nie sleg vir iemand wat maar in 2021 haar eerste senior wedstryd vir WP gespeel het nie. Sy was ’n junior speler toe sy in 2020 die eerste keer hoor sy het die Springbok-oefenkamp gemaak.
“Ek was baie trots en opgemaak op myself. In 2021 was ek weer opgeroep en ek het een toets gespeel teen Kenia en toe kies hulle my om te travel,” vertel Donelle. Hoewel Donelle as heelagter uitdraf vir Suid-Afrika en die Westelike Provinsie, is sy ’n “utility back” wat in enige posisie in die agterlyn haar staal kan wys.
Dit is egter hoe Donelle se pad tot hier geloop het, wat haar so merkwaardig maak – nie net as speler nie, maar as jong vrou en as ’n survivor.
Donelle – oftewel “Pakkie Chips”, soos sy deur vriende in rugbykringe genoem word – is baie skaam en nie vreeslik spraaksaam nie. Haar vriende het haar dié bynaam gegee omdat sy van kleins af altyd ’n pakkie chips geëet het voor hulle rugby gespeel het en sy staan nou nog alom só bekend.
BEGIN OM TE SPEEL
Haar liefde vir die game het begin toe sy saam met die seuns in hul buurt touch rugby gespeel het.
“Dit het in die pad begin toe ek begin touch speel het met die seuns toe ek so 11 jaar oud was. Die next jaar toe gaan speel ek met die boys by Strand Pioneers. Ons was net drie meisies, maar dit was nie snaaks nie – dit was lekker. Ek was 12, maar ek het onder 15 gespeel, almal wou net gehad het ek moet met hulle kom speel,” vertel Donelle.
“Toe in 2014 kom daar ’n coach, antie Anne, na my toe om te vra of ek vir St. George’s wil speel.”
Só het dit gegaan en weer was Donelle raakgesien en sy is genader om provinsiale proewe te speel. Sy vertel dat alles vinniger was en op ’n hoër vlak as by klubrugby.
“Soms het ek gedink ek gaan dit nie maak nie, maar dan het ek geweet ek moet harder werk. Ek was nog baie jonk en het onder 16 vir WP gespeel.” Sy kom amper ongemaklik voor wanneer sy oor haar prestasies praat, want vir haar was dit nog altyd maar net omdat sy lief is vir rugby.

Die Springbok Donelle Snyders.
Donelle se ma, Lizette (44), gesels lekker saam en vul die leemtes wanneer Donelle stil word. Lizette vertel dat Donelle eintlik ’n ouma-kind is.
“Toe Donelle klein was, het ons in ’n wendy house gebly by my ma, Nancy (64). Ek en Donelle se pa het opgebreek, want hy’t op drugs gegaan en ek het my kinders alleen grootgemaak. Kinderjare was moeilik en dit het sukkel-sukkel en swaar gegaan, maar my ma het my baie ondersteun. Ek het vier jaar gelede weer getrou en Macassar toe getrek. Donelle bly eintlik nou tussen die Strand by haar ouma en in Macassar by my,” sê Lizette.
Donelle het skoolgegaan by Rusthof Primêr in die Strand, maar sy het egter nooit hoërskool klaargemaak nie. ’n Traumatiese gebeurtenis op die brose ouderdom van 13 het haar skoolloopbaan onderbreek en sy het die skool verlaat.
Dit is vir Donelle baie moeilik om oor die voorval te praat wat haar lewe verander het. Toe sy stil raak, neem Lizette die gesprek oor.
“Op ’n Maandag het Donelle van die skool af gekom en sy sou later gaan rugby oefen het. Sy het nooit daar uitgekom nie.” Donelle het glo verdwyn nadat sy winkel toe was. Lizette vertel sy het nie daarvan geweet nie, want sy het gedink Donelle se coach sou haar soos gewoonlik by die huis kom aflaai ná die oefening.
“So halfagt die aand het iemand gekom en gesê Donelle lê unconscious by die see en ons is almal soontoe. Haar skoolhemp se knope was oop en haar regteroog was toegeslaan en daar het skuim by haar mond uitgekom en sy kon nie op haar bene gestaan het nie. Ons het haar opgetel en gevra wat gebeur het, maar sy kon nie praat nie.”
Volgens Lizette was die een wat vir Donelle aangeval het, bekend aan die familie. Hy was aangekeer, maar daar het weens verskeie redes niks van die saak gekom nie en hy is vrygelaat.
“Ons het vir Donelle hospitaal toe gevat en hulle moes haar inspuit om haar te kalmeer. Donelle was nie verkrag nie, maar my kind is deur erge trauma,” vertel Lizette met ’n stem wat breek van emosie.
RUGBY RED HAAR
“Sy’t selfmoordneigings gehad. Ons het haar vir berading geneem en kinders het vir haar gesê sy’s mal, want sy gaan sien ’n sielkundige. Dit was van die redes hoekom Donelle nie skool klaargemaak het nie.”
Dit was die begin van ’n lang pad na herstel, maar gelukkig het rugby vir Donelle ’n uitlaatklep geword.
“Donelle het baie aggressief geraak en net die rugby het vir Donelle gekalmeer. Net as sy rugby gespeel het, was sy rustig. Donelle sê sy’t hom (die beweerde aanvaller) vergewe en sy kyk nou vorentoe. Sy’t vrede met hom gemaak, het sy vir my gesê en ek aanvaar dit, want ek kan sien my kind het vrede. Dit het haar op haar rugby laat fokus en rugby was soos rehabilitasie vir haar gewees,” vertel Lizette.
“Sy het al met stukkende rugby boots gaan toer, want daar was nie geld vir nuwes en alles wat sy nodig gehad het nie. Maar sy’t nooit opgegee nie,” voeg sy by.
En dié never-say-die-houding het nie net Donelle gehelp om haar trauma te verwerk nie, maar vir haar deure oopgemaak en die toekoms lê blink voor haar uitgestrek.
“Die jaar 2021 was my eerste keer wat ek oorsee gegaan het. Dit was opwindend, want ek het baie plekke gesien,” vertel Donelle.
“In Frankryk was ons een dag af, in Cardiff was ons twee keer af en in Londen was ons ook twee keer af en ons het uitgegaan. Dit was ’n baie goeie experience. Die Mexican food is baie lekker daai kant en ek het die tacos en burritos baie geniet.”
Donelle wil graag nog baie doelwitte bereik soos om haar matriek te kry en teen Nieu-Seeland te speel.
“My droom is om skool klaar te maak en verder te gaan in rugby. Ek sal graag eendag die head coach wil wees van die Springbokspan,” deel sy.
Sy het hard gewerk om te kom waar sy is en sy het waardevolle lesse geleer.

Donelle in aksie vir WP.

Donelle saam met een van haar coaches Laurian Johannes-Haupt.
“Jong mense moet hard werk en nooit opgee nie, al is dit nie maklik nie. Werk net harder en jy sal jou drome bereik.”
Haar familie is baie belangrik in haar lewe en sy spring in om haar klein boeties wat belangstel in rugby te “coach”. “Eintlik wil ek net my familie baie trots maak,” sluit sy af.