Dié veelsydige kekerertjiemengsel, is baie meer as net ’n doopsous. Die neuterige smaak pas uitstekend by ’n wye verskeidenheid bestanddele en geregte. Dit het ’n Griekse oorsprong en word tipies as doopsous met repies groente en as deel van die vulsel vir pitabrode gebruik. Dis ewe lekker op toebroodjies of burgers, in wraps en selfs met frikkadelle of hoender. Kekerertjies is ryk aan proteïene en daarom is hummus ’n gewilde gereg vir vegetariërs. Probeer dit gerus ook as peuselhappie met appelwiggies.
Lewer ongeveer 500 ml
1 x 420 g-blik kekerertjies
150 ml tahini (sesamsaadpasta by groot supermarkte en spesialiteitswinkels beskikbaar, of sien wenke)
2 groot knoffelhuisies, fyn gedruk
100 ml vars suurlemoensap
60 ml (¼ k) olyfolie
5 ml (1 t) gemaalde komyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Italiaanse pietersielie vir garnering
- Dreineer die kekerertjies, maar behou die vloeistof.
- Plaas die kekerertjies met die tahini, knoffel, suurlemoensap, olie en komyn in ’n mengbak of groot beker.
- Voeg 75-100 ml van die behoue vloeistof by. Druk kekerertjies met ’n vurk of aartappeldrukker stukkend as jy ’n growwe tekstuur verkies. Of meng die bestanddele in ’n voedselverwerker of met ’n stokmenger tot ’n fyner puree.
- Voeg nog van die behoue vloeistof by indien ’n sagter mengsel verkies word. Geur na smaak en skep in ’n bakkie. Verkoel tot benodig en garneer met pietersielie en ’n lekker draai swartpeper. Hou enige orige hummus in ’n lugdigte houer in die yskas vir ’n paar dae.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- As tahini nie beskikbaar is nie, kan jy 125 ml (½ k) sonneblomsade as alternatief gebruik. Rooster die sade eers vooraf in ‘n droë pan tot goudbruin. Hou dit dop, die sade brand maklik. Verpulp dit saam met die kekerertjies – dit verleen ’n heerlike neuterige smaak en gee ’n lekker tekstuur aan die hummus. Volg die resep verder soos hier bo.
- Maak ’n slaaisous van die hummus: roer ongegeurde jogurt na smaak by. Dis ook heerlik oor geroosterde groente.
- Ander geurmiddels is heerlik in hummus. Voeg gekapte brandrissie, koljander- of pietersielieblare by as die bestanddele verpulp word. Gewone of gerookte paprika gee ’n interessante geur. Onthou dat meeste van die bestanddele ook die kleur van die hummus sal verander.
- Kook jou eie kekerertjies: week 125 g (160 ml) droë kekerertjies oornag in 1 liter koue water. Dreineer en prut 1-1½ uur in vars water tot sag genoeg om fyn te maak – moenie sout byvoeg nie. Dit kan ook 20-25 minute in 1 liter water, in ’n drukkastrol gekook word. Dit hoef dan nie vooraf geweek te word nie.
Afrikaanse WOORD: hummus of hoemoes
Afrikaans in ’n dinamiese taal en daar word gereeld nuwe woorde en maniere om ’n woord te spel, deel van die taalskat gemaak. Hummus is ’n uitstekende voorbeeld, want beide maniere om die woord te spel, is aanvaarbaar. Die ‘h’ in hummus, word soos in die Grieks, as ‘g’ uitgespreek. Hoemoes, het wel ‘n ‘h’ klank soos wat die woord foneties geskryf is.