’n Elegante slaai wat as voorgereg of ligte ete ewe lekker is. Die kombinasie van hoender en aarbeie is dalk effens vreemd, maar regtig heerlik. Dis al vir jare ’n gewilde resep wat ek met mense deel en beslis die moeite werd om te probeer.
Lewer 4 – 6 porsies
Slaaisous
60 ml (¼ k) olyfolie
30 ml (2 e) appel-, framboos- of ander vrugtige asyn
10 ml (2 t) korrelmosterd
10 ml (2 t) heuning
5 ml (1 t) vars tiemieblaartjies
sout en peper na smaak
Slaai
6-8 hoenderborsfilette (sien wenke)
10 ml (2 t) olyfolie
150-200 g dun groenboontjies
70-100 g roket of gemengde slaaiblare
300 g aarbeie, gehalveer
1-2 sprietuie, in diagonale skyfies gesny
eetblare blommetjies (opsioneel)
- Slaaisous: Klits al die bestanddele saam en geur na smaak. Skink 45 ml van die slaaisous oor die hoender en laat vir 10-15 minute marineer.
- Slaai: Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die filette, met die marinade, aan beide kante tot goudbruin. Sit die deksel op en verlaag hitte. Prut 5-7 minute of tot net gaar, maar steeds sappig. Geur na smaak en laat eenkant afkoel.
- Plaas boontjies in ’n vlak bak en skink kookwater oor. Laat vir ’n paar minute staan, tot die boontjies heldergroen, maar steeds bros is. Dreineer en spoel met koue water af. Dreineer deeglik en druk droog.
- Hou die filette heel of sny dit in dikkerige diagonale skyfies. Plaas slaaiblare met hoender, boontjies en aarbeie op individuele borde of ’n groot opdienbord. Sprinkel sprietuie oor, garneer met eetbare blommetjies en sit met die orige slaaisous voor.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Vervang aarbeie met perskes, mango of druiwe wanneer dit in seisoen is. Avokado, aspersies of selfs komkommer kan saam met die vrugte of as plaasvervanger gebruik word.
- Hoenderfilette kan baie maklik droog word, maar die geheim is om dit nie te gaar te maak nie. Die gaarmaakmetode soos in dié resep, werk elke keer uitstekend. Die filette moet nie meer pienk binne-in wees nie, maar steeds sappig. Braai die filette heel en sny na die tyd in skyfies – sodoende droog dit nie sommer uit nie.
Afrikaanse WOORD:
Ons het die mooiste woorde om bestanddele in Afrikaans te beskryf. Dink maar net aan van die bestanddele in hierdie resep: roket (rocket), sprietuie (spring onions), groenboontjies, korrelmosterd (wholegrain mustard) en aarbeie. Gebruik gerus die Afrikaanse woorde as jy oor die bestanddele gesels, in plaas daarvan om daarna in Engels te verwys.
Sal graag jou resepte gebruik.