Daar is baie resepte vir sjokolade-brownies, maar jy kan dié een maar deel van jou reseptelêer maak. Ek het nog min ander brownies gekry wat by hierdie een kan kersvashou. Ek het die oorspronklike resep jare gelede vir The AMC Book ontwikkel en het dit al male sonder tal gedeel, want almal vra altyd vir die resep. Ek het die resep later nog aangepas en dit is weer in ’n latere resepteboek van my eie gepubliseer. Dis heerlik as nagereg of soetbederf op ’n teetafel.
Lewer sowat 16 porsies
200 g (200 ml) botter, in blokkies gesny
250 g (300 ml) suiker
100 g (180 ml) koekmeel
75 ml (5 e) goeie gehalte kakao
20 ml (4 t) vanieljegeursel
3 ekstra-groot eiers, deeglik geklits
100 g donkersjokolade, grof gekap of goeie gehalte sjokoladesplinters (moenie kooksjokolade gebruik nie)
50-75 g amandels, gekap (opsioneel)
- Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n oondbak of bakplaat van ongeveer 16 x 25 x 3 cm met bakpapier uit. Die grootte van die bak is belangrik vir die regte baktyd en die beste resultate.
- Smelt die botter en suiker oor lae hitte in ’n kastrol en roer deurentyd tot die suiker amper opgelos het. Verwyder die kastrol van die plaat sodat die mengsel kan begin afkoel. Die res van die bestanddele word in die warm kastrol saam gemeng. Sif die droë bestanddele saam en roer met die vanieljegeursel by die bottermengsel in. Meng deeglik met ’n silikonspatel of houtlepel.
- Roer die eiers bietjie vir bietjie by en roer deeglik na elke byvoeging. (Die mengsel moenie nog te warm wees nie, dan gaan die eier begin stol.)
- Roer die sjokolade en neute deur en skep die beslag in die gesmeerde bak.
- Bak 20-25 minute of net tot ’n tandestokkie of toetspen skoon uitkom. Toets op meer as een plek, ingeval jy dalk gesmelte sjokolade raaksteek wat die stokkie nat laat lyk. Druk ook liggies in die middel op die poeding – as dit net gestol is, is dit gereed. Die brownies stol verder soos dit afkoel. Bak vir nog 5 minute indien nodig. Maar moenie die brownies te lank bak nie, anders word dit droog en hard. ’n Effense sagte binnekant is juis wat dit so lekker maak.
- Sny poeding in blokkies of driehoekies en sit warm of teen kamertemperatuur voor. Vir ’n nagereg is dit heerlik met roomys, of geniet dit net so met ’n koppie koffie.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adriaan Vorster
Wenke
- Koffie-brownies: Voeg 30 ml sterk espresso- of filterkoffie saam met die vanieljegeursel by. Of meng 10 ml goeie gehalte koffiepoeier met 30 ml water en roer met die vanielje by.
- Gebruik ander neute van jou keuse, soos makadamias, pekan- of haselneute.
- Garneer brownies met vars bessies, roosblare, eetbare glitter (goue poeier) of sny ’n kartonstensil om patroontjies van jou keuse met versiersuiker of kakao oor te sif.
Afrikaanse WOORD: sjokolade-brownies
Sjokolade-bruintjies klink nou maar net eenmaal nie so lekker soos sjokolade-brownies nie. Gelukkig is Afrikaans ’n taal wat ruimte het vir nuutskepping en die toelaat van woorde wat so algemeen gebruik word, dat dit die aanvaarde term word. Nog sulke voorbeelde in die koswêreld is iets soos ’n smoothie (in plaas van ’n gladde jantjie – wie weet in elk geval wat dit is) of wraps (in plaas van ’n toevoupakkie).