Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.
Skrywer: Joshwin Sampson
Kuier – 31 Maart 2022
Foto’s verskaf
LOGAN STYG UIT
Dié jong vrou het nie toegelaat dat afknouery en trauma haar in ’n boks druk nie – sy het dit liewer gebruik om uit te styg.
Dis nie altyd maklik om jou pyn in woorde te omskryf nie, maar dis juis dié uitlaatklep wat Logan Adams (20) van Amstelhof, Paarl in die Boland gebruik om haar gemoed ligter te maak. Dit help haar nie net om uiting te gee aan haar emosies nie, maar ook om die trauma te verwerk waaraan sy op ’n jong ouderdom blootgestel is.
En op net 20 is hierdie go-getter ’n gepubliseerde digter en, ’n gewese radio-omroeper by Radio KC, BCom-student aan die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) wat later ook graag regte wil swot. Daarom werk sy tans as ’n intern vir ’n advokaat by die hof op haar dorp. Logan beskou haarself ook as ’n protesskrywer wat graag lig werp op sosiale ongeregtighede wat dikwels onder die mat gevee word.
TRAUMA KNOU HAAR
Logan is haar hele lewe lank ’n skugter meisie wat jy dikwels iewers alleen sal sien sit in ’n wêreld van haar eie. Maar gee vir haar ’n pen en papier óf sit haar op ’n verhoog, en sy ontpop in ’n selfversekerde jong vrou aan wie se lippe almal hang. Dis hoe sy in 2020 as Klein Nederburg Sekondêr se hoofdogter in 2020 aangewys is, of liewer as die skool se eerste “Covid-19-hoofdogter”, soos sy dit laggend stel. Die prestasies wat sy op skool behaal het, spreek boekdele van haar toewyding en deursettingsvermoë – op akademiese, kulturele en sportgebied. Sy was gereeld deel van die toptienstudente in haar graad. Sy het geskitter in drama, wat een van haar groot passies is, en sy was ook ’n kranige skaakspeler. Sy het ook in graad 11 die Helen Joseph-trofee losgeslaan – ’n trofee wat aan die skool se veelsydigste leerder in hul graad toegeken word.
Maar ten spyte van haar puik prestasies op skool, het Logan nie altyd ’n maklike lewe gehad nie. By die huis was daar dikwels spanning wat aanleiding gegee het tot die angstigheid waarmee sy worstel en by die skool was sy gereeld geboelie. Sy was neerhalende woorde toegesnou en gereeld ondermyn ten spyte daarvan dat sy ’n voorbeeldige leerder was. “Maar dit was my dryfkrag om elke keer net my beste te lewer,” sê sy terwyl sy met ’n krakerige stem bewoë raak soos daardie herinneringe voor haar afspeel.
Logan vertel weens kindertrauma en afknouery is sy in 2021 met kliniese depressie gediagnoseer. Die eerste keer wat die moontlike tekens van depressie by haar kommer gewek het, was toe sy in graad 11 in 2019 ’n vakansiewerk gedoen het en besef dat sy dalk aan depressie kan ly.
“Ek was elke dag hartseer by die skool. Ek het numb en empty gevoel en as ek by die huis was, het ek gereeld op en af geloop weens die angstigheid wat in my binneste opgeborrel het.” En omdat sy bekommerd was oor haar fisiese, emosionele en sielkundige welstand, het sy besluit om ’n dokter te gaan sien. Sy was toe medikasie voorgeskryf om die angstigheid te beheer totdat sy besluit het om ’n sielkundige te gaan sien wat haar vermoede oor haar depressie-diagnose bevestig het.
Sy sê tydens haar diagnose, was haar eerste digbundel Die Nood Roep in produksie. In hierdie digbundel wat uit 70 gedigte bestaan, maak sy haar hart oop oor haar kindertrauma en afknouery. En alhoewel die bekendstelling van haar eerste digbundel vir haar groot blydskap moes bring omdat dit ’n groot prestasie is, het sy steeds ’n emosionele leemte in haar binneste ervaar.
“My psychologist kon nie glo dat ek steeds hartseer is nie, veral omdat ek op die drumpel was om ’n gepubliseerde digter te word. Maar die les wat ek daaruit geleer het, is dat ’n mens se sukses nie altyd vir jou joy bring nie. Daai joy waarna jy smag, is iets wat ’n mens eers van binne af moet kry.”
En om weer daai joy te ervaar, het sy nie in ’n hoekie gaan sit en krepeer en haarself bejammer oor haar diagnose nie. Sy het ook nie toegelaat dat dit haar studies of haar skryfwerk negatief affekteer nie. Inteendeel, haar inspirasie vir haar digkuns spruit juis uit haar kindertrauma en afknouery waarin haar angs en depressie gewortel is.
“Omdat ek my omstandighede wil verander, moes ek hulp kry, want ek kon nie net stilsit en aanvaar dat dit my lot is nie,” sê sy in ’n ferm stem. Ja, daar is dae wat sy nie uit die bed uit wil opstaan en met mense wil interact nie, maar haar onwrikbare veggees wys duidelik dat sy nie sonder ’n fight gaan nie. En dat sy tot die bitter einde gaan baklei om haar van ’n suksesvolle toekoms te verseker.
{aanhaling uit artikel} “Omdat ek my omstandighede wil verander, moes ek hulp kry, want ek kon nie net stilsit en aanvaar dat dit (depressie) my lot is nie.” – Logan Adams
HAAL DIE MASKER AF
Haar tweede digbundel, Tussen Stiltes, is in 2022 gepubliseer. Dit stel vrae aan die regstelsel oor kwessies soos verkragting en hoekom daar nie genoeg daadwerklike pogings aangewend word om hierdie kwessies aan te spreek nie. Van haar gunstelingdigters is Ernest Loth, Ingrid Jonker, Adam Small en Antjie Krog, maar sy vind veral aanklank by Ernest Loth se werk.
Buiten haar digkuns, wat reeds vir haar naam maak, is een van Logan se drome om uit te styg in die filmbedryf. Toe sy in graad 11 was, het sy vir ’n dramakursus ingeskryf wat haar die geleentheid gegee het om saam met professionele akteurs in die filmbedryf te werk. Ná daardie ervaring, het sy besluit om haar eie produksie te skryf. Sy werk tans aan ’n produksie genaamd “Maskers” wat sy hoop om eendag op TV te laat uitsaai.
Sy som die produksie as volg op: “Terwyl ek my matriekeindeksamen in 2020 geskryf het, het ek ook die produksie geskryf. Dit bestaan uit meer as 60 tonele. En die inspirasie vir die produksie het daaruit gespruit dat ek op skool baiekeer ’n masker gedra het. Nie ’n fisiese masker soos ons nou met die Covid-19-pandemie moet dra nie, maar ’n figuurlike masker waaragter ek my ware self weggesteek het. Niemand het geweet ek worstel met angs of depressie nie, veral omdat ek die hoofdogter was, en baie mense dink as jy in ’n leierskapposisie is dat jy perfek moet wees, maar dis nie die geval nie.” Sy erken haar smagting na sukses is haar dryfkrag om te wys dat alhoewel jy depressie het, kan jy steeds suksesvol wees as jy die nodige hulp kry.
“Ek voel trots op al die goed wat ek al op so ’n jong ouderdom bereik het, maar ek weet ook omdat ek so groot droom en altyd vir myself doelwitte stel, is daar groter dinge wat ek in die lewe wil bereik. En totdat ek dit nóg nie bereik het nie, voel ek nog nie dat ek regtig suksesvol is nie,” sê sy as jy haar vra of sy trots is op alles wat sy tot dusver in haar lewe bereik het.
En alhoewel Logan deur albei haar ouers grootgemaak is, sê sy ook met groot dankbaarheid dat sy nooit so ver sou kom as dit nie vir haar oumas se ondersteuning was nie. Een van Logan se gunsteling-Bybelstories is die storie van Job. Hoewel Job alles in sy lewe verloor het, het hy steeds in God geglo. “En dis wat ons almal moet doen: Te alle tye in God glo, maak nie saak watter curveballs die lewe jou kant toe gooi nie”.
Koop Logan se digbundels by kreatio.co.za en nskrywershuis.co.za.