Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.
Skrywer: Joshwin Sampson
Kuier – 7 Julie 2022
Foto’s verskaf
HY IS SPESIAAL!
Onstuitbaar en passievol – dié jong onderwyser van die Noord-Kaap stel sy leerders se spesiale onderrigbehoeftes eerste en is ’n stem vir hulle.
Nie alle superhelde dra tights of ’n skouermantel (cape) nie. Sommige staan in ’n klaskamer voor ’n swartbord met ’n stuk kryt in die hand.
Jevonn Cloete (29) van Rooifontein, ’n klein dorpie net buite Springbok in die Noord-Kaap, is een van hulle. Dié Namakwalander het op ’n jong ouderdom besluit om sy vlerke te sprei – sy omstandighede ten spyt. En vandag is hierdie voormalige toppresteerder van Norap Metodiste Primêr in sy graad 7-jaar alles en meer as waaroor hy destyds gedroom het. Deesdae word hy elke dag aangevuur deur sy begeerte om ’n verskil te maak in die lewens van leerders met spesiale onderrigbehoeftes.
Jevonn is ’n passie-gedrewe opvoeder wat die lewe geesdriftig aanpak. Hy het sy baccalaureus- en honneursgraad in onderwys aan Universiteit Stellenbosch verwerf, en al het hy reeds soveel op so jong ouderdom bereik, wil hy nog soveel meer doen.
“’n Dekade gelede sou ek nooit kon dink dat ek ’n graduandus aan Universiteit Stellenbosch sou wees nie. Maar ek het volhard om my drome te bewaarheid. Want ’n droom om meer te doen as die buurman en buurvrou sonder geleerdheid waarvandaan ek kom, was waarop ek gefokus was.”
As jy aandagtig na Jevonn luister, besef jy vinnig hy laat hom duidelik nie stuit deur enige struikelblokke nie. Inteendeel, hy sien elke struikelblok wat hy teëkom as ’n uitdaging wat hom aanspoor om die lewe veerkragtig aan te pak. Dié positiewe benadering tot die lewe werp duidelik vir hom vrugte af, want sy suksesse is soos ’n beker wat oorloop.
Maar Jevonn se positiewe gesindheid het nie oornag gevorm nie. Sy grootwordjare op Rooifontein het hom laat besef sy toekoms is in sy eie hande. “Ek is een van vyf kinders. My pa was vir ’n groot gedeelte van my lewe afwesig terwyl my ma hard moes werk om die gesin aan die gang te hou. Ek moes in graad 7 aan ’n gesin se deur gaan klop om borg te staan vir my hoërskoolloopbaan. Daarom het ek op ’n vroeë ouderdom besluit ek wil die hoofrol in my eie lewe speel. Ek het ook besef hoe belangrik dit is vir my om my eie lewenspad te stuur. Daardeur het ek ’n beter begrip oor my eie waardes gekry; hoe ek myself ordentlik kan uitdruk, en alles wat ek in die lewe wil hê,” vertel hy.
ONDERWYS SY PASSIE
Jevonn werk as ’n opvoeder by Rusthof LSEN (learners with special educational needs) in die Strand (Wes-Kaap). Hy is ook tans die skool se waarnemende adjunkhoof en onderrig leerders in die 13-jarige ouderdomsgroep.
As jy hom vra hoe sy onderwysloopbaan begin het, laat hy sy gedagtes teruggaan in tyd en vertel. “My onderwysloopbaan het in Stellenbosch begin waar ek ’n leerondersteuningonderwyser in wiskunde en huistaal vir leerders was van omliggende plaasgebiede en arm sosio-ekonomiese agtergronde. Daar het ek vir drie jaar saam met leerders met hindernisse gewerk. Nadat ek saam met dié leerders gewerk het, het ’n groter uitdaging vir my drie jaar daarna gevolg. Ek moes toe nou saam met leerders werk wat ook intellektuele gestremdhede het,” vertel hy. “Wanneer dit wel by die leerders kom wat ek tans onderrig, het ek net een doel voor oë: om hulle te onderrig. Nie die leerders wat ek wil hê nie; nie die leerders wat ek gehad het nie, maar die leerders wat ek nou het – almal van hulle,” voeg hy passievol by.
Jevonn vertel sy ervaring by Rusthof LSEN het vir hom ’n nuwe wêreld met emosionele, fisiese en sielkundige uitdagings oopgemaak. Wat hom egter laat uitsien om leerders met spesiale onderrigbehoeftes te onderrig, is dat hy steeds ’n verskil in hierdie “broos en uitgelewerde groep leerders” se lewens kan maak.
Daarom praat hy graag oor die wanpersepsies aangaande leerders met spesiale onderrigbehoeftes en sê dat hy hoop die volgende woorde val op die regte ore: “Leerders met spesiale onderrigbehoeftes kán leer! Hulle leer net anders – op ’n praktiese wyse.”
Daarom meen hy dis nie moeilik of maklik om saam met leerders wat intellektueel gestremd is, te werk nie. Maar, dis beslis die moeite werd.
“Vroeg in my onderwysloopbaan het ek besef leerders wat leerprobleme ervaar en veral verstandelik gestremd is, is die agtergeblewe kinders in ons skole. Want hulle word dikwels as die ‘bejammeringsgroep’ gesien. My werk én passie is dus om die verwronge en negatiewe persepsies van leerders met intellektuele gestremdhede na ’n meer positiewe beeld te verander. Dus is ek bly ek kan ’n stem vir dié stemlose kinders wees,” vertel hy.
Jevonn is so passievol oor spesiale onderwys, en as kenner in sy veld meen hy daar word nie genoeg aandag aan spesiale onderwys in Suid-Afrika geskenk nie. “In die veld van spesiale onderwys staar baie uitdagings ons in die gesig. Daar is byvoorbeeld nie genoeg werksgeleenthede vir leerders met gestremdhede (intellektueel, neurologies en geestelik) as hulle uit die skoolsisteem beweeg nie. En daar is baie min skadu-werksgeleenthede vir dié leerders.” Hy beklemtoon ook dat meer werkswinkels vir leerders met gestremdhede aangebied moet word.
HY WORD VEREER
Danksy sy bydrae tot spesiale onderwys in Suid-Afrika, het Jevonn in 2021 die toekenning vir die beste special needs educator in die Wes-Kaap gewen.
“Die toekenning het my emmers vol trane laat stort. Ek het nie gedink my bydrae tot die onderwys as ’n geheel en tot die leerders in my sorg sou op so ’n platform raakgesien word nie.”
En net toe die wen van sy provinsiale onderwystoekenning nog besig was om by Jevonn te registreer, het hy later in dieselfde jaar die prys vir die beste onderwyser vir leerders met spesiale onderrigbehoeftes in Suid-Afrika ontvang.
“Sjoe! Dit was vir my ’n absolute eer. Hierdie toekennings het vir my nuwe deure in my loopbaan oopgemaak en my na hoër hoogtes geneem. Maar ek wil ook hê dit moet as ’n inspirasie vir ander jong opvoeders dien,” vertel hy emosioneel.
Maar afgesien van sy sukses is Jevonn ook trots op sy komvandaan, hoewel sy grootwordjare bittersoet vir hom was.
“Kyk, ek is ’n tipiese ouma-kind. Ek is deur beide my oumas grootgemaak op Rooifontein en Nourivier. Maar vandag is ek dankbaar my drome het lewe begin kry toe ek in 2012 uit Rooifontein na Stellenbosch getrek het om my studenteloopbaan te begin wat my lewe radikaal verander het.”
Jevonn gaan later vanjaar Suid-Afrika by die African Union Teachers Awards verteenwoordig. Die doel van dié toekennings is om onderwysers in Afrika aan te moedig om die beste opvoeder te wees wat hul kan wees en om hulle te vier. Die eerste toekennings van dié soort het in 2019 plaasgevind en sal weer later vanjaar in Addis Ababa, Ethiopië, plaasvind. Slegs 10 kandidate sal met pryse wegstap en elkeen gaan $10 000 kry.
“Ek is baie opgewonde oor dié geleentheid en het nie aanvanklik besef watter groot prestasie dit is nie – totdat al wat ’n mediapersoon is ’n onderhoud met my wou voer,” vertel hy laggend.
Die toekoms lyk beslis baie rooskleurig vir Jevonn. Hy werk tans aan sy meestersgraad in onderwys, en sy navorsing gaan oor getalbegripontwikkeling by leerders met intellektuele gestremdhede. Hy beoog ook om sy doktorsgraad in die toekoms te doen. En hoewel hy al soveel in sy leeftyd bereik het, droom hy om eendag sy eie radioprogram te hê waar hy ouers van leerders met intellektuele gestremdhede van praktiese hulp voorsien om hulle by die huis te help.
“Onderrig is vir my ’n groot passie en ek wil beslis meer daarmee in die toekoms doen!” vertel hy. Jevonn se wilskrag is baie bewonderenswaardig. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en vandag pryk sy naam nie net op nuusplakkate wat teen lamppale hang nie, maar deur sy drome verken hy ook nou die wêreld.