Skrywer: Alita Steenkamp
As ʼn jong aktrise het Sandra Prinsloo eenmaal saam met Franz Marx in sy sportmotor gery. Sy het Franz leer ken terwyl sy nog besig was met haar dramastudies aan die Universiteit van Pretoria. Franz wou haar daardie dag gaan voorstel aan die filmmaker Tommie Meyer by sy filmateljees in Randburg. Voor die tyd het Franz vir Sandra gewaarsku om ʼn kopdoek om haar hare te bind, want die motortjie se kap gaan afgeslaan wees. Sandra onthou daardie dag nog so goed en sê laggend dat sy met daardie rit nogal bietjie soos ʼn bekende filmster gevoel het. So in die sportmotor met die kap afgeslaan en die wind wat deur haar hare waai. Maar, sê sy, uiteindelik het sy die verhoog gekies, en nie die filmbedryf nie.
Sandra gaan juis binnekort by die Toyota US Woordfees ʼn boekgesprek lei oor die boek, Die private Franz Marx, geskryf deur Chris Vorster. Marida Swanepoel en Nic de Jager gaan ook saam met Chris herinneringe oor Franz Marx deel tydens die Woordfees-gesprek.
“Die boek se titel vat dit presies vas: Franz was inderdaad ʼn baie geslote persoon met baie mure om hom. Vir my was Franz van die begin af ʼn enigma. Tog het hy my altyd geweldig gehelp toe ek nog ʼn jong student was. Ek onthou toe ek ʼn oudisie moes doen om Cassandra in Vroue van Troje te speel, het Franz vrylik van sy tyd gee,” sê Sandra.

Dit was weer eens ʼn besige jaar vir hierdie aktrise wat ook op vele ander terreine ʼn verskil maak. Boonop is dit nie net in die teater waar sy besig bly nie. Sandra is die voorsitter van die direksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Een van hierdie organisasie se projekte wat haar na aan die hart lê is die SBA Stories. Dit was ook haar breinkind en neem haar na plekke reg deur die land om mense se stories te hoor wat vertel word in die wonderlike verskillende dialekte van Afrikaans. Afrikaans soos Augrabies-Afrikaans, Graaffikaans wat in Graaff-Reinet gepraat word en vele ander. kykNET het reeds van die vorige gesprekke as ʼn reeks, Ons Onthou, uitgesaai.
Hopelik sal dieselfde gebeur met hierdie jaar se stories, want Sandra het in Augustus vanjaar na plekke naby die Oranjerivier gereis en weer sakke vol stories daar bymekaar gemaak. Vir haar is dit kosbaar, want van die eerste reeks se mense wat hulle stories gedeel het, is intussen dood. Dit is vir haar belangrik om op hierdie manier ook van hierdie stories te bewaar vir die nageslag.
ʼn Ander projek van die SBA waarmee Sandra gehelp het, was om vir ʼn groep doofblinde mense so ʼn proesel van ʼn teaterervaring te gee. “Dr Niel le Roux van die SBA het vir my gesê hy wil graag die doofblindes teater toe bring, want hulle het geen ondervinding van so iets nie. Ek het besef dit gaan nie help as ek vir hulle ʼn toneelstuk doen nie, want as iemand dit vir hulle moet tolk, sou dit ure in beslag neem. Ons het toe Worcester toe gegaan en hulle daar hierdie ervaring gebied. Ek het so ʼn bietjie vertel wat teater is en waarom ons dit doen. Verder het ek vir hulle die proses verduidelik hoe ʼn mens teater aanmekaar sit: van skryf tot toneelspeel en regie, maar ook kostuumontwerp. Hulle het die geleentheid gekry om verskillende materiaalmonsters vir kostuums te voel, en ook aan my te voel hoe ek lyk voordat ek my hare vir ʼn sekere rol verander. Daar was ook die geleentheid om die verskillende vibrasies van die byklanke te voel en aan die verhoog te vat sodat hulle daardie vibrasie kon voel wanneer ek daarop loop. Ons het die ligte baie helder gesit sodat hulle die hitte daarvan kon voel. Dit was ʼn moeilike perd wat ons opgesaal het, maar baie van hulle het teruggekom om dankie te sê vir die ongelooflike ervaring. Hulle het ook gesê dat hulle graag die hele toneelstuk sou wou sien,” vertel Sandra.
Daar was ook die geleentheid om vir 22 siggestremdes wat met hulle gidshonde na die teater gekom het, Spertyd, op te voer. Hierdie was ook ʼn inisiatief van die SBA. Sandra lag en sê sy het vir ʼn oomblik gewonder wat maak haar honde in die teater, want sy self het drie ligte Labradors soos baie van die gidshonde ook is.
Terwyl ons telefonies gesels, lê al drie haar honde juis om haar voor die Finse stofie in haar woonhuis op Kalkbaai. Dis koud en reënerig in die Kaap, maar sy is dolgelukkig in haar huis saam met die honde. Die drie, Baily, Olga en Bumble, bly ʼn belangrike deel van haar lewe. Oor die vraag of hulle haar jonk en op haar tone hou, lag sy net. “Ek weet nie van die jonk nie, maar hulle hou my beslis op my tone. My twee jong honde is nog baie energiek en ons het vanoggend weer by Silvermine gaan stap. Een van die jonges het ek aangeneem nadat sy met ʼn mes gesteek is in ʼn township hier naby. Sy was beslis bedoel vir my,” sê Sandra.
In September het Sandra haar 75ste verjaarsdag gevier en dit is moeilik om te glo, veral as ʼn mens sien hoe bedrywig sy steeds is.
Vanjaar was sy ook by die Kalfiefees in Hermanus met Spertyd en daarna het sy hierdie eenvrouvertoning wat gebaseer is op Elsa Joubert se boek by ArtsCape opgevoer.
In Oktober is daar ʼn heerlike nuwe stuk wat open by die Toyota US Woordfees: Die moeder. Hierdie stuk van die dramaturg Florian Zeller, is deur Christiaan Olwagen in Afrikaans vertaal en hy is ook die regisseur van die stuk. Saam met Sandra op die verhoog is Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange.
“My karakter, Anne, is ʼn baie interessante en baie komplekse vrou. Sy glo vas sekere dinge gebeur in haar lewe, onder meer dat haar man ontrou is aan haar. Dan beleef sy oor en oor ʼn sekere nagmerrie. Dis ʼn baie interessante stuk wat ons op so ʼn interessante reis deur hierdie vrou se kop en haar persepsie van relatief vat. Dis vir my heerlik om weer saam met Dawid Minnaar op die verhoog te wees, want ons het jare laas saam gewerk. Die twee jonger akteurs is ook net een groot plesier. Ons het so baie gelag in die repetisies en daar is ʼn ongelooflik lekker gees.
Wat my veral opgewonde maak van Die moeder, is dat ek weer die geleentheid kry om saam met Christiaan Olwagen te werk. Die briljante Christiaan Olwagen. Hy is ʼn uitdagende regisseur in die beste sin van die woord. Hy laat jou met niks wegkom nie,” sê Sandra.

ʼn Paar jaar gelede was daar ʼn hele paar seisoene van Sandra op ʼn drafstap, Sandra Prinsloo se heerlike geselsprogram wat op televisie uitgesaai is. Dis wonderlik om te sien dat Sandra steeds op ʼn drafstap is. By haar is daar nog nie sprake van ophou nie.
“Ek geniet dit wat ek doen en ek is mal oor my werk,” sê Sandra. “Dis heerlik om steeds besig te bly. Ek is fiks en daar is geen rede waarom ek nou al moet ophou nie. Daar is iets wonderliks daaraan om ná ʼn vertoning van die verhoog af te stap en te voel dat jy iets gedoen het wat werklik vir mense iets beteken het. Mense kom altyd en sê die mooiste goed. Dis nie net om my ego te streel nie, want dit gaan nie eintlik oor my nie. Dit gaan oor daardie teaterstuk en die verskuiwing wat dit in iemand se lewe kan maak. Daarom bly dit lekker om ʼn stuk te doen en te sien dat dit mense ontroer, of laat lag of laat huil. Dan voel ʼn mens jy het iets van waarde gedoen.”