Donkerbos – ʼn spannende misdaadriller eersdaags op Showmax
’n Spannende nuwe misdaadreeks wag binnekort op kykers wat toegang het tot die stromingsdiens Showmax. Nico Scheepers, bekroonde dramaturg, het hierdie reeks, Donkerbos, wat fokus op die weerloosheid van kinders, geskryf. Nico is ook die skrywer van verskeie roerende toneelstukke soos Amper, Vrystaat, Rooivalk, Moedertaal en Nêrens, Noord-Kaap. Nêrens, Noord-Kaap is ook verwerk in ʼn baie suksesvolle televisiereeks wat kykers aangegryp het. Hierdie keer waag Nico vir die eerste keer met ietsie anders: misdaad. Die reeks bestaan uit agt episodes en sal vanaf Dinsdag 29 November weekliks op Showmax uitgesaai word.
Donkerbos handel oor ses kinders wat sterf aan die hand van ʼn gewetenlose moordenaar. Erica Wessels vertolk die rol van die speurder Fanie van Wyk wat die moorde moet oplos, maar self stoei met ʼn paar kwessies in haar eie lewe. Volgens Nico Scheepers gaan die reeks nie ʼn tipiese whodunnit wees nie, maar eerder ʼn kykie in die psige van die moordenaar om beter te verstaan hoekom die moorde gepleeg word. Hierdie riller beloof om kykers emosioneel te raak.
Donkerbos speel in die digte bosse van Magoebaskloof af, vandaar die titel. Nico Scheepers wou nie weer ʼn reeks aanpak wat in die Karoo of iewers langs die kus afspeel nie en sy keuse het op hierdie noordelike deel van ons land geval. Van die karakters praat benewens Afrikaans, ook Engels en Venda, eie aan die inwoners van daardie gebied. Ander akteurs wat in die reeks te sien sal wees, is Edwin van der Walt, Stian Bam, Nicole Holm, Wilhelm van der Walt en Nicola Hanekom. Donkerbos is deur Nagvlug Films vervaardig wat ook die vervaardigers van Barakat en Skemerdans is.