Die stryd om Afrikaans as inheemse taal erken te kry, is helaas nog nie verby nie, maar daar is wel vordering. Op 1 Januarie vanjaar het ʼn nuwe taalbeleidsraamwerk in werking getree wat nie aan Afrikaans en die Khoi- en Santale die nodige erkenning as inheemse tale bied nie. Sedertdien is daar vanuit baie oorde beswaar hierteen gemaak. Uiteindelik wil dit tog lyk asof daar vordering is.
Netwerk24 berig dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wetenskap en innovasie op Maandag 31 Oktober in die parlement die versekering gegee het dat ʼn aangepaste definisie wat Afrikaans as inheemse taal sal klassifiseer, eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer sal word.
Hy het ongelukkig nie aangedui presies wanneer dit sal gebeur nie. Minister Nzimande het reeds op 4 Mei vanjaar belowe dat daar sekere wysigings aan die definisie van inheemse tale in die taalbeleidsraamwerk gemaak sal word. Dit het egter nog nie gebeur nie. Volgens Netwerk 24 het dr. Nzimande op Maandag gesê: “Die aangepaste definisie sal in die Staatskoerant gepubliseer word. Amptenare van my departement het gesprekke gevoer met amptenare van die departement van sport, kuns en kultuur en daar is konsensus oor die behoefte aan ʼn eksplisiet inklusiewe definisie van inheemse tale in die beleidsraamwerk.” Alhoewel Dr. Leon Schreiber van die DA volgehoue druk op Dr. Nzimande uitoefen om Afrikaans as inheemse taal te erken deur middel van ʼn proklamasie in die Staatskoerant, het daar ook heelwat druk van ander groepe soos die DAK Netwerk en die Afrikaanse Taalraad gekom. Die DAK Netwerk het in April vanjaar ʼn beswaarskrif waarin hulle goed gemotiveer het waarom Afrikaans ʼn inheemse taal is, aan Dr. Nzimande oorhandig by sy kantore in Pretoria. Met die oorhandiging aan die beswaarskrif, was die lede van die DAK Netwerk almal in akademiese drag geklee om die belangrikheid van Afrikaans as onderrigtaal te beklemtoon. Hopelik sal die aanpassings aan die taalbeleidsraamwerk eerder vroeër as later gemaak word.