Skrywer: Alita Steenkamp
Foto: Melinda Stuurman
So in die maand en jaar waarin Afrikaanse radio sy 85ste bestaansjaar vier, spog RSG, die SABC se Afrikaanse radiostasie, met ʼn splinternuwe programbestuurder. Kobus Burger, wat die afgelope paar maande ingestaan het as waarnemende programbestuurder, is nou amptelik aangestel in die pos. Hy vervang vir Graig-Lee Smith wat in Junie vanjaar uit sy pos bedank het.
Kobus glimlag breed oor hierdie aanstelling:
“Die afgelope bietjie meer as ʼn dekade, sedert ek voltyds by RSG aangestel is, het die stasie en sy luisteraars diep in my hart gekruip. ʼn Mens leer die luisteraars ken en jy ontvang mettertyd persoonlike boodskappe en e-posse na afloop van ʼn program of wanneer jy op lug gepraat het. Dan voel dit soos ʼn familie. En ʼn mens wil mos maar die beste vir jou familie of gesin hê en ek sien uit na die pad vorentoe.”
Kobus was in hierdie afgelope tien jaar vir ʼn lang ruk die uitvoerende regisseur: drama en beskou dit as een van die vervullendste tye in sy hele loopbaan. Hy het onder meer die RSG Kunstefees geïnisieer en het altyd gevoel daar is nog meer wat hy kan en wil doen. Hy glo egter dat sy taak as programbestuurder hom die kans sal bied om ook op ander maniere kreatief te wees.
Kobus sê nou dat hy voltyds in die pos aangestel is, besef hy net dit is ʼn pos wat vereis dat jy basies 24 uur van die dag, sewe dae van die week in diens moet wees. Dus kan ʼn mens nie eintlik afskaal nie. Luisteraars kla oor alles en nog wat, soms raak hulle persoonlik en tussendeur al hierdie dinge moet ʼn mens ʼn stasie op lug hou. Gelukkig is daar ook altyd genoeg wat hulle dankbaarheid en waardering uitspreek. Dit bly maar ʼn fyn balanseertoertjie.
As kreatiwiteitsafrigter geniet Kobus dit ook om tussendeur sy werksaamhede by RSG skryfkursusse wat spesialiseer in klankdramas aan te bied. Die dinge wat hom gelukkig maak, is die klein dingetjies in die lewe: ʼn lekker koppie koffie vroeg in die oggend, die geur van jasmyn in die lente… Natuurlik ook musiek, boeke, teater en kuns. Kobus is iemand wat doelbewus lysies van sy seëninge maak en dit maak hom intens gelukkig en dankbaar, sê hy. Moet net nie met die witbrood onder die arm by hom kla nie, hy sal jou gou daarop wys.
Kobus is reeds besig om sy kreatiewe stempel op RSG af te druk. Die opwindende realiteitsreeks, KRAGKAMP!, waar jongmense die geleentheid kry om verskeie vaardighede te bemeester, was onder meer die idee van Kobus. Binnekort word Antjie Krog se 70ste verjaarsdag met ʼn regstreekse konsert op RSG gevier, iets waarop hy beslis trots is.
“Die medialandskap verander die hele tyd en word meer en meer mededingend,” sê Kobus. “ʼn Mens is die heeltyd op jou tone, maar dit is ook juis dan ʼn geleentheid om kanse te waag en ʼn nuwe horison oor te steek. Ek is ongelooflik lief vir radio. Dit bly steeds ʼn goedkoop medium, dog baie moeilik, want ʼn luisteraar kan binne ʼn minuut besluit of hy of sy gaan aanhou luister of nie.
Radio bied soveel moontlikhede en ek wil aanhou verken en soek na die volgende horison.”