Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Engels! Engels! Alles Engels! Klink dit bekend? Die stryd in die behoud van Afrikaans as onderrigtaal is nie ’n nuutjie nie. Trouens, sedert 1994 blyk dit nog meer dat diegene wat daarop uit is om Afrikaans uit te skuif hulle aanslag verskerp het. Politiek, verskuilde en selfs openlike agendas, en ’n algemene onwilligheid, steek gedurig kop uit en dit gaan soms broekskeur om die Afrikaanse skole wat nog kop bo water hou (toegegee sommige beter as ander), te laat voortbestaan. Dit, ten spyte daarvan dat dit oor en oor bewys is dat volgehoue moedertaalonderrig tot ten minste graad sewe nie genoeg beklemtoon kan word nie. En met moedertaal bedoel ons alle moedertale in Suid-Afrika, want volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet, artikel 29, is moedertaalonderrig elkeen se reg. Tog word die meerderheid leerders gedwing om skool te gaan in ’n taal wat nie hulle huistaal of moedertaal is nie.
Vir die doel van hierdie artikel, bespreek ons egter slegs Afrikaans as onderrigtaal en vestig ons die aandag op ’n inisiatief – die onderwyspyplyn – wat op die been gebring is om volhoubare onderrig in Afrikaans as moedertaal te verseker. Die pyplyn vir Afrikaanse onderrig het gelei tot die samewerking van verskeie onderwysorganisasies en ook die totstandkoming van organisasies soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en Moedertaal in Onafhanklike Skole-, of meer bekend as die MOS-inisiatief, wat die pyplyn op ’n uitvoerende vlak dryf. Afrikaans.com het met dr Theuns Eloff (voorsitter van die AON) en mnr Daan Potgieter (hoof- uitvoerende beampte van die AON) oor die onderwyspyplyn gesels. Ons bespreek ook kortliks die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA).
Wat is die strategie wat toegepas word ten opsigte van die onderwyspyplyn en hoe werk dit in die praktyk?
Dr Eloff noem dat dit belangrik is dat die strategie deur almal ondersteun moet word om te verseker dat daar nie ’n breek in die pyplyn voorkom nie, veral omdat nie alle onderwysorganisasies die vermoë het om die pyplyn in stand te hou nie. Daarom is dit belangrik dat daar genoegsame befondsing beskikbaar is (soos deur byvoorbeeld die Trust vir Afrikaanse Onderwys – TAO) en soveel moontlik onderwysorganisasies betrek word. In dié verband doen die AON saam met onder andere MOS en instansies soos Fedsas, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en Skoleondersteuningsentrum (SOS) uitstekende werk en behaal hulle stadig maar seker heelwat sukses. Een so ’n positiewe uitkoms, is wat Daan Potgieter van die AON tot dusver saam met vennote in Kroonstad en ander plattelandse streke vermag het.
Daan vertel dat almal wat ‘n belang by Afrikaanse onderrig het, hulle deel doen om die pyplyn te versterk. Hy noem dat hulle ten nouste saamwerk met instansies soos die SAOU, SOS, die DAK Netwerk, die ATKV, die Afrikaanse Taalraad (ATR), VivA, die SBA en natuurlik Afrikaans.com. In die verband word daar gereeld belyningsgesprekke gevoer waarin kwelpunte en uitdagings in die onderwys bespreek word sodat strategieë daarvolgens belyn kan word. Hierdie benadering het tot gevolg dat organisasies hulle kan toespits op spesifieke areas binne die onderwys en duplisering grootliks uitgeskakel word. Die AON speel ‘n belangrike rol in die koördinering van hierdie proses.
Maar hoe motiveer die AON die verskillende onderwysorganisasies om deel te word van hierdie pyplyn en dit in stand te hou?
Volgens Daan is dit elke organisasie se erns en besef ‘n ieder en elk die waarde van hul onderskeie bydraes, hetsy op voorskoolse, laer-, hoërskool of tersiêre vlak. Daarvan getuig die afgelope drie jaar se samewerking en suksesse. “Dit is nie moeilik om mense met die regte ingesteldheid en passie te motiveer nie. Hulle is entoesiasties, nougeset en hardwerkend met ‘n gemeenskaplike doel – om gehalte- Afrikaanse onderrig op alle vlakke te bewerkstellig en te laat werk.”
Van die suksesse
Daan vertel van heelwat suksesse, onder andere
- Die AON en Fedsas wat skole in die Kroonstad-omgewing met die ondersteuning van die Vrystaatse Onderwysdepartement sover gekry het om saam te werk en saam te smelt sodat daar nie langer halfvol skole is nie, maar eerder vol hoër- en laerskole.
- MOS wat fokus op die gebiede waar voldoende Afrikaanse skole met gehalteonderrig ontbreek en poog om ‘n netwerk van enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole te skep – vanaf preprimêr tot sekondêre fase. Skole wat nie net bekostigbaar is nie, maar wat oop is vir almal wat die waarde van hoë standaarde en innoverende leer besef. Op kleiner dorpies smelt die hoër- en laerskool saam. “So bly Afrikaanse onderrig sterk en bly ego’s uit die prentjie.”
- Die koördinering van Afrikaanse skole ten opsigte van die BELA-wetgewing. Om strategies daaroor te dink en nougeset daaraan te werk en betrokke te bly by die proses.
- Die amalgamering van skole deur die aanbied van gereelde webinare en simposia tussen vennote. So byvoorbeeld werk die AON saam met die SAOU ten opsigte van Vroeëkinderontwikkelingsonderwysprogramme (VKO). Saam met die SOS ondersteun hulle ‘n Leesinisiatief, en so meer.
- Die AON se eiesoortige VKO-dagprogram en die verpakking van hul Kompas- en Dinamo-pakket getuig van ‘n gehalteproduk. Soveel so dat hulle genader is om die produk nou ook in van die ander amptelike landstale te vertaal en beskikbaar te stel.
- Plakkate, leerderondersteuningsprogramme, mentorprogramme en nog vele meer.
Van die grootste uitdagings
Theuns Eloff noem dat die demografiese verskuiwing en die ontvolking van die platteland groot uitdagings bied, asook voortdurende politieke druk. “Ouers, beheerliggame en skoolhoofde sien gewoon nie altyd die groter prentjie nie. Hierdie kortsigtigheid lei dikwels tot ‘n gebrek aan kreatiewe denke en word die belangrikheid van moedertaalonderrig dikwels agterweë gelaat. Die groter pyplyn moet daarom deurgaans in gedagte gehou word,” aldus Theuns. “Ons het te gewoond daaraan geraak dat die Staat alles voorsien, maar privaat- Afrikaanse skole is ‘n werklikheid. Dit is dan ook hoekom MOS ‘n beursfonds gestig het om belowende minderbevoorregte leerders by te staan om skool toe te gaan. Die doelwit is om volhoubare en gehalteonderrig bekostigbaar te maak, hetsy in onafhanklike of openbare skole.”
Daan meen dat deursigtigheid die gelykmaker in die onderwys is. Die hele kwessie aangaande moedertaalonderrig en die waarde daarvan. Daarom ondersteun die AON ook David Jantjies projekkoördineerder van SAOOT se moedertaalinisiatief in die Wes-Kaap. Alles om die wanpersepsies aangaande moedertaalonderrig uit te klaar.
Hy noem ook dat sterk leierskap op alle vlakke nodig is. Die druk van die Departement van Onderwys en die gepaardgaande politieke magspel tussen vakbonde en kaders, bied van die grootste uitdagings aan die onderwys in die algemeen, onderwysers en natuurlik ons leerders. “As ons daarvan ontslae kan raak, sal volhoubare onderwys ‘n groter toekoms hê.”
Wat kan ouers doen om hierdie pyplyn te ondersteun?
Ouers moet hulle persepsie van Afrikaanse onderrig verander en hulle kinders toelaat om in hulle moedertaal skool te gaan. Tot ten minste graad 7, maar selfs tot in die hoërskool. En dit gaan nie net oor die behoud van ‘n taal nie, trouens dit gaan veel eerder oor die behoud van gehalteonderwys en volronde, goedingeligte en geskoolde landsburgers. Mense wat ongeag uitdagings, steeds sukses sal behaal.
Theuns Eloff maan dat ouers nie kortsigtig en op die korttermyn moet dink nie, maar dat hulle die groter prentjie moet raaksien – moet dink aan die toekoms. Daarom moet ons nie vra hoekom ons ons kinders na ‘n Afrikaanse skool toe moet stuur nie. Kyk gerus na die sukses wat instansies soos Akademia en SolTech behaal. Die sukses wat ons akademici en Suid-Afrikaners wêreldwyd behaal – mense wat ten minste tot op hoërskoolvlak hulle onderrig in hulle moedertaal ontvang het. Ons kan derhalwe nie die waarde van moedertaalonderrig te veel beklemtoon nie. Regoor die wêreld is die bewyse daar dat moedertaalonderrig die belangrikste boublok uitmaak van onderrig en grootliks tot toekomstige leer- en werksukses bydra. Boonop is taal ‘n kultuuroordragmeganisme. Mense wat dieselfde taal praat, staan saam, maar het ook ruimte vir ander kultuurgroepe en tale.
Hou in gedagte, as Afrikaans nie meer ‘n moderne wetenskapstaal op hoogste vlak is nie, sal die taal terugval en sal ‘n inisiatief soos die pyplynonderwys ’n stille dood sterf. Gelukkig is daar talle organisasies – soos die wat by die pyplynonderwysinisiatief betrokke is – wat onverpoos aan projekte werk om Afrikaans as moedertaal te bevorder en die belangrikheid van ALLE moedertale en moedertaalonderrig onder ouers se aandag te bring.
Die Wysingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette – wat hou dit vir Afrikaanse onderwys in?
Afrikaans.com het die kwessie aangeroer in ‘n vorige artikel en kortliks die kernkwessies oor hierdie voorgestelde wet – die BELA-wet – en die veranderings wat dit aan die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) sal meebring, uitgelig. Dit was na aanleiding van ‘n meningstuk op Netwerk 24 (8 Maart 2022) waarin dr. Theuns Eloff onder andere gesê het: “Artikel 5 en 6 van die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette is die sterkste aanval sedert 1994 op ouergemeenskappe se grondliggende reg om ‘n sê in hulle kinders se onderwys te hê.” Hy het dit ook beklemtoon dat daar niks oor moedertaalonderrig gesê word nie en dat die Afrikaanse gemeenskap moet kennis neem van die voorgestelde wysigings omdat die gevaar bestaan dat dit die “Afrikaanse gemeenskap finaal van die regering sal vervreem – en Afrikaase onderrig onherroeplik sal skaad en selfs in openbare skole sal laat verdwyn.”
Eloff meen dat die regering die Wet gaan prober deurdruk en dat daar ‘n krisistyd vir openbare onderrig voorlê. In die verband speel die AON as sameroepende instansie ‘n belangrike strategiese rol om hierdie kwessie enduit te sien met die hoop dat dit ‘n burokratiese besluit sal wees waar gelyke geleenthede sal seëvier.
Kortliks van die kernkwessies om van kennis te dra
- Engels as onderrigtaal word voorgestaan.
- Die sentralisering van ouers en beheerliggame se magte.
- ‘n Onderwyshoof van die provinsiale regering en die minister van onderwys besluit oor toelatings- en taalbeleid.
- Die beheerliggaam moet hulle toelatings- en taalbeleid en wysigings vir goedkeuring aan die departementele onderwyshoof voorlê.
- Taalminderhede het nie meer ‘n sê oor die taalbeleid in hulle skole nie.
Moedertaalonderrig
Moedertaalonderrig is jou reg volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet, artikel 29. So hoekom dan terugstaan? Ons moet aanspraak maak op hierdie reg. Die besluit oor die medium waarin onderrig in skole moet geskied, is een van die belangrikste taal- en onderwysbeplanningsbesluite wat ‘n land moet neem.
Dink hieroor:
- Die sprekers van Afrikaans en Engels maak ‘n kwart van die bevolking uit.
- Nagenoeg ‘n driekwart van die bevolking (+- 73%) is sprekers van ‘n Afrikataal, waarvan Zulu en Xhosa die grootste persentasie uitmaak.
- Suid-Afrikaners wat ‘n inheemse taal praat, se taal is oorwegend tot hul huis, gemeenskap en kerk beperk.
- Die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap maak bykans 80% van die Afrikaanssprekendes in die provinsie uit.
- Ons graad 4-leerders se lees- en leesbegripsvermoë is van die swakste ter wê Een van die hoofredes hiervoor? Moedertaalonderrig ontbreek.
Bronne en lees meer
Mnr. die president, sosiale kontrak verlore sonder Afrikaanse onderwys | Netwerk24
Daar is ‘n toekoms vir Afrikaanse onderrig – Afrikaans.com – 2019
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON)
Lees meer oor die organisasies en vennote van die pyplyninisiatief
Tuis – Afrikaanse Onderwys Netwerk (aonetwerk.co.za)
Die AON Kompas – Afrikaanse Onderwys Netwerk (aonetwerk.co.za)
SOS: Tuisblad – Skoleondersteuningsentrum
Tuis | FEDSAS (klik op die taalopsie)
DAK Netwerk – Vir die bemagtiging van agtergestelde Afrikaanssprekendes
SAOU – Teachers’ union, dedicated to the highest universal values (klik op Afrikaans regs bo om na die Afrikaanse webtuiste herlei te word)
TAO – Die doelstelling van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (t-a-o.co.za)