Skrywer: Alita Steenkamp
Op Sondag 23 Oktober, het Antjie Krog haar 70 ste verjaarsdag gevier. Anna Elizabeth (Antjie) Krog, wat oor die loop van tyd haarself gevestig het as een van Afrikaans se belangrikste digters, is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is die oudste kind van Willem Krog, ’n boer en Dot Serfontein, ’n bekende skrywer. Een van die belangrikste bydraes in haar lewe is juis haar ma wat altyd vir hulle stories voorgelees het, en gesorg het dat haar kinders lees. Antjie begin vroeg al skryf en wen reeds provinsiale opstelkompetisies in standers drie, vyf en sewe. Van haar eerste gedigte verskyn in die bundel Dogter van Jefta wat in haar matriekjaar gepubliseer is. Een van hierdie gedigte, Ma, word uiteindelik een van haar bekendste gedigte.
Ma, ek skryf vir jou ʼn gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
ʼn kaalvoet gedig…
Tog sou Antjie Krog se skryfwerk uiteindelik veel meer word as bloot kaalvoet gedigte. Antjie behaal ’n BA-graad en ’n Honneursgraad in Engels aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Terwyl sy met haar voorgraadse studies besig is, verskyn haar volgende digbundel – Januarie-suite. Vir hierdie bundel, met veral liefdesverse, ontvang sy in 1973 die Eugène Marais-prys. Hierdie is een van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se pryse en gaan aan ’n debuutbundel of ’n vroeë publikasie. Meteens het die literêre wêreld kennis geneem van Antjie Krog. Veel later, in 2000, sou sy bely dat sy net sou wou dig, as sy ’n lewe daarvan kon maak. Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies.
In 1983 voltooi Antjie haar Meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van die bekwame prof AP Grové. Haar studie het gefokus op die poësie van DJ Opperman. DJ Opperman was gewis ’n groot mentor vir Antjie. Sy was toe reeds getroud met John Samuel, ’n argitek. Die gesin verhuis in 1993 na Kaapstad waar Antjie aangestel word as redakteur van die verligte tydskrif Die Suid-Afrikaan. In 1995 bedank Antjie by Die Suid-Afrikaan toe sy ’n voltydse aanstelling by die SAUK kry as politieke verslaggewer. Vanaf 1996 tot 1998 doen sy verslag oor die Waarheids-en-Versoeningskommissie. Sy pen hierdie ‘seer, verdriet en woede wat dag na dag uitgestort is’ neer in Country of my Skull wat in 1998 gepubliseer is. Alhoewel sy dit aanvanklik in Afrikaans geskryf het, vertaal sy dit later saam met Ivan Vladislavic. Hiermee maak sy internasionaal haar merk en sy ontvang in 2000 die Year 2000 Award van die Hiroshima Foundation for Peace and Culture vir haar bydrae tot waarheid en versoening in Suid-Afrika. Die boek het talle nasionale en internasionale pryse ontvang onder meer die Alan Paton-, Booksellers-, en Olive Schreiner-toekennings.
In 1999 bedank Antjie as die politieke redakteur van RSG want sy het gevoel dat hierdie dagtaak die skryf van poësie bemoeilik. Haar digkuns het egter nog nooit agterweë gebly nie. In 1990 verower Antjie die Hertzogprys vir poësie vir haar bundel Lady Ann. Die inspirasie vir hierdie bundel was die historiese figuur Lady Ann Barnard. Sy gebruik juis die geskiedenis om haar eie tyd en ruimte, die Suid-Afrika van vandag, te verken.
![Antjie-Krog-2022-boeke Antjie Krog](https://afrikaans.com/wp-content/uploads/2022/10/Antjie-Krog-2022-boeke.jpg)
Antjie Krog het egter ook nie bloot by die skryf van poësie gebly nie. In 1995 verskyn haar eerste roman, Relaas van ʼn moord. In die vroeë negentigs het sy in ʼn township naby Kroonstad skoolgehou toe daar ʼn moord gepleeg is. Die moordwapen is op haar stoep versteek en sy was in die hof as staatsgetuie.
In 2017 verower Antjie die Hertzogprys vir die tweede maal. Dit is met haar bundel Mede-wete wat in 2014 verskyn het. ʼn Besonderse prestasie wat Antjie te beurt geval het, is die Gouden Ganzenveer wat in Januarie 2018 aan haar toegeken is. Hierdie prys word jaarliks in Nederland toegeken aan ʼn persoon of instansie vir hulle bydrae tot die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Antjie was die eerste persoon van buite Nederland aan wie hierdie besondere toekenning gemaak is.
In die lang lys publikasies uit Antjie se pen, is daar benewens die prosa en poësie en kinderverse ook heelwat vertalings. Sy het onder meer Nelson Mandela se A Long Walk to Freedom as Lang Pad na Vryheid vertaal. Sy is ook vereer vir haar vertalings.
Antjie Krog het verskeie eredoktorsgrade ontvang van onder meer die Tavistock Clinic, die Universiteit van Oos-Londen, Die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat en die Nelson Mandela Universiteit. Sy is sedert 2004 ʼn buitengewone professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap.
Daar het pas weer ʼn digbundel van haar verskyn – Plunder. Dit is die eerste bundel in agt jaar. In Oktober is daar ook ʼn kinderverseboek, Vetplantfeetjies, vrygestel.
Antjie Krog was vanjaar die feesdigter by 2022 se Tuin van Digters by die Breytenbach-sentrum in Wellington. Die huldigingsrede vir hierdie geleentheid is deur die regisseur Frieda van den Heever geskryf. Daarin sê sy onder meer: “Ek sê dankie dat van die mees hartroerende woorde in Afrikaans vloei uit die rou materiaal van die lewe: vuil doeke droogmaak, etes voorberei, saam om ’n tafel sit, my seun groet … dat jy poësie maak uit die dinge rondom jou, die enigste 24 uur wat jy daagliks tot jou beskikking het.”