Daar gaan vir die volgende paar weke genoeg rede wees om op Vrydagaande tuis te bly en voor die televisie in te skuif. Jak de Priester loer weer by ’n paar bekendes in om saam met hulle tee te drink en land en sand te kuier. Die tweede seisoen van Koppieteefontein ’n heerlike geselsprogram, het op Vrydagaand 7 Oktober afgeskop en beloof om weer propvol kykgenot te wees. Hierdie keer kuier Jak nie bloot net by die skoner geslag soos Riana Nel, Amore Bekker en Daniëlla van Heerden nie. Hy gesels ook met ’n paar bekende manne. Komediant Schalk Bezuidenhout, ekonoom Dawie Roodt en rolprentmaker Leon Schuster is ’n paar van die mans wat heerlik met Jak gaan kuier.
Jak sê dit raak vir hom al hoe lekkerder om met mense te gesels en hulle diepste dinge te hoor.

Jak en Schalk Bezuidenhout

Jak en Riana Nel

Jak en Charl du Plessis
“Dis heerlik om elkeen van my gaste beter te leer ken en te sien hoe hulle pad geloop het,” sê Jak. “ʼn Mens is dankbaar dat hulle bereid is om so oop en eerlik te gesels. Vir ons Kersprogram, stop ons spesiaal by die flambojante pianis Rocco de Villiers, wat geensins terughou nie. Ek deel weer die besonderse teepotte van Macassar Pottery aan elkeen van my gaste uit. Vanjaar kry hulle egter ook nog iets anders as geskenk. Ek het self ’n topklas- Brother naaimasjien as geskenk gekry waarmee ek hierdie produkte maak. Roenco, wat hierdie masjiene in Suid-Afrika versprei, is ook die borg van hierdie tweede seisoen van Koppieteefontein. Die materiaal waarvan die kussings, vatlappe en van die ander produkte gemaak word, is my kunswerke wat op lap gedruk is. Koppieteefontein Leefstyl, die produkte en teepotte, word vanjaar by Kamers vrygestel. Hierdie uitstalling duur vanaf 25 tot 30 Oktober op die Blaauwklippen-wynlandgoed buite Stellenbosch. Ons loods ook binnekort hierdie leefstylreeks aanlyn.
“Wat hierdie geselsprogram so besonder lekker maak, is dat ons nie net vir die kykers my gaste se huise wys nie, maar ons leer ook hulle omgewings ken. Ná elkeen van hierdie gesprekke ry ek weg met ʼn hart vol dankbaarheid oor die geleentheid om ook hierdie seisoen se gaste van naderby te kon leer ken.”
Vrydae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Jak en Daniëlla

Jak en Amore Bekker