Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Rinkink terwyl jy dink – ‘n program wat dit lekker maak om die letters van die Afrikaanse alfabet met behulp van musiek aan te leer.”
Lees en lees met begrip – sekerlik die belangrikste boublokke in die ontwikkeling van ons kinders en onontbeerlik vir akademiese en toekomstige sukses. En tog … volgens navorsing wat reeds in 2017 gedoen is (International Reading Literacy Study – Pirls), lees bykans 80% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip nie. Trouens, Suid-Afrika was laaste op die lys van lande wat aan die navorsing deelgeneem het! ‘n Geletterdheidskrisis? Beslis. Daarom is dit so belangrik dat kinders reeds vanaf jong ouderdom begin lees.
Redes vir swak leesvermoë?
Daar is verskeie redes, maar soos verwoord deur Celeste Combrinck aan die Universiteit van Pretoria in ‘n artikel op Maroela Media, kan dit moontlik toegeskryf word aan die volgende:
- In die vierde skooljaar word daar van leerders verwag om van “leer om te lees” oor te gaan na “lees om te leer”. Hulle moet dus goed genoeg kan lees om skoolwerk uit handboeke te leer.
- En dan is daar moedertaalonderrig. Dikwels word daar van leerders wat tot en met graad 3 in hulle moedertaal kon leer, verwag om nou oor te skuif na Engelse (en soms Afrikaanse) onderrig.
Iemand wat hierdie kwessie ter harte geneem het, is Leandré Steyn, ‘n remediërende opvoeder van Bloemfontein en self ‘n mamma van twee kinders. Leandré het ‘n graad in B.Ed Grondslagfase met ‘n honneurs in Inklusiewe Onderwys. “Ek glo dit is my doel om kinders lief te maak vir leer en soos sponsies gereed te maak om nuwe inligting in te neem terwyl hulle elke oomblik daarvan geniet.” En dit is presies wat Leandré reggekry het met Rinkink terwyl jy dink. Met dié musikale program leer ons kinders op ‘n prettige en plesierige wyse en is groei en vordering onvermydelik. Afrikaans.com wou meer weet en het met Leandré oor haar musikale program gesels.
“In die onderwys het ek gesien dat daar baie kinders is wat sukkel om klanke te memoriseer en weer te gee. Dit is belangrik om ‘n goeie vaslegging van klanke te hê wat weer nodig is vir leer. Ek poog met die program om ‘n liefde en waardering vir lees te kweek.”
Hoekom het jy hierdie program begin?
“Ek het al gewerk met ‘n klas van 43 graad 1-maats wat geen voorskoolse onderrig gehad het nie. Dit was my verantwoordelikheid as onderwyser om te verseker dat leer steeds plaasvind al het meeste van die kinders min/geen ondersteuning by die huis nie. Daar het ek gesien dat elke leerder uniek en besonders gemaak is EN boonop op sy/haar eie manier leer. Ek het bietjie navorsing gedoen oor die verskillende leerstyle en gesien dat daar meer as 33 style is. Ek het gefokus op die belangrikste leerstyle wat ons by die grondslagfase-kind kry, naamlik:
- Die ouditiewe leerstyl (kinders wat leer deur dit wat hulle hoor).
- Die visuele leerstyl (kinders wat leer deur dit wat hulle sien).
- Die kinestetiese leerstyl (kinders wat leer deur om te beweeg).
- Die sosiale leerstyl (kinders wat leer deur interaksie met ander).”
Watter bydrae kan die program lewer om ons kinders te help om lees onder die knie te kry?
“Rinkink terwyl jy dink, maak gebruik van musiek om die letters van die Afrikaanse alfabet aan te leer. Kinders leer sing-sing en dans-dans klanke aan, daardie klanke wat hulle sal help om te kan lees en uiteindelik te kan leer. Wat ook baie belangrik is, is dat kinders ‘n goeie konneksie en eerste ontmoeting met klanke sal hê, want dit sal elkeen dan ook aanmoedig om te wil lees. Kinders sal ‘n goeie basis van klanke hê en “om te leer” klank en lees sal makliker kom.”

Hoekom werk jou program?
“Musiek is ‘n universele taal wat elke kind geniet.”
“Ek het die voorbeeld gebruik om die deuntjie van ‘Vader Jakob’ te speel en vir die onderwysers te vra watter liedjie speel. DADELIK kon hul my antwoord en sê dat dit ‘Vader Jakob’ is. Musiek het die vermoë om dinge in ons geheue vas te lê.
“Musiek is ‘n universele taal wat elke kind geniet. Kinders is gebore met ‘n aanvoeling vir ritme en dis hoekom hulle dit so geniet! Daar is soveel waarde om musiek te gebruik wanneer kinders leer. Hierdie program maak ruimte sodat kinders holisties ontwikkel word.
- Persoonlik – Kinders leer meer oor hulself, dat hulle tot meer in staat is as wat hulle dink.
- Sosiaal – Kinders het interaksie met ander en hulle woordeskat word uitgebrei, hul leer om beurte te neem om ‘n liedjie te sing.
- Emosioneel – Rinkink se liedjies is vrolik en gewenste gedrag word uitgebeeld in die liedjies. Kinders leer dan ook wat is aanvaarbaar/onaanvaarbare gedrag. Kinders leer om hul emosies te verstaan.
- Kognitief – Dit bevorder geheue-ontwikkeling deurdat kinders die woorde, ritme en die wysie moet memoriseer, dit bevorder kinders se aandagspan.
- Fisies – Kinders beweeg saam en suurstof na die brein word vrygestel. Groot- en fynmotoriese ontwikkeling vind plaas.”
Suid-Afrika is onder op die lys wanneer dit kom by leesvaardighede en -begrip op graad 4-vlak. Wat is jou mening hieroor?
“Die kurrikulum vereis baie van ons onderwysers en leerders. Daar is nie altyd soveel tyd vir vaslegging nie en die uitkomste moet bereik word. Daar kan ook nie altyd terugbeweeg word na waar die kind leemtes ervaar nie, maar intervensie moet êrens plaasvind. Daarom moet die ouers en die skool saamwerk, mekaar se hande sterk maak dan het ons ‘n wenresep. Dit gaan immers oor die kind.”
Wat dink jy kan gedoen word om dit te verbeter?
“Daar kan leiding aan ouers gegee word om ‘n liefde in die eerste plek vir lees te kweek op ‘n vroeë ouderdom. Interessante stories kan voorgelees word en vrae kan uit die storie gevra word. Op skoolvlak kan onderwysers ondersteun word met die nodige hulpbronne om lees te bevorder, soos bv. ‘n biblioteek wat toeganklik vir die onderwysers en leerders is. Onderwysers moet leerders deeglik voorberei met die nodige kennis oor die onderwerp van die leesstuk en dalk ‘n onderwerp kies waarin die leerders geinteresseerd is. Daar is ook tegnieke wat gebruik kan word om ‘n begripstoets te beantwoord, wat sal help dat die leerders in beheer voel.”
Kan jy vir die lesers redes gee oor hoekom van ons kinders so sukkel om te lees?
“Daar is belangrike, BASIESE vaardighede wat ontwikkel moet word voordat kinders met begrip kan lees. Daardie vaardighede wat al van voorskoolse jare ontwikkel moet word en waarop daar gebou moet word. Basiese vaardighede wat die volgende behels:
- Luistervaardighede, spraakontwikkeling, visuele- en ouditiewe persepsie, fynmotoriese ontwikkeling, woordeskat, emosionele stabiliteit, konsentrasie, logiese denkvaardighede en algemene kennis.
- Fonologiese en fonemiese bewustheid.
- Leesvlotheid
- Leesbegrip
“As daar een van hierdie boublokke nie in plek is nie, is daar ‘n groot kans dat die leerder met lees kan sukkel.”

Wat kan ouers doen om hulle kinders te help – veral diegene wat dalk nie kan bekostig om hulpbronne aan te skaf nie?
“Lees! Lees! Lees! Stories moet van kleins af vir kinders voorgelees word, want voorlees ontwikkel na selflees.
“Neem boeke by die biblioteek uit en lees vir julle kinders stories. Tel hulle op julle skoot en lees vir hulle. Die manier hoe jy die storie vir jou kind gaan lees, gaan maak dat ‘n liefde vir lees aangewakker word.
“Lees die storie met gevoel, maak gebruik van verskillende stemme soos wat die karakters verander, leer kinders van die verskillende emosies wat ons ervaar deur te verwys na die karakters in die storieboek.
“Verduidelik vir jou kind wat leestekens is in ‘n storie, bv. ‘n punt (haal asem vir twee sekondes, by ‘n vraagteken moet dit op jou gesigsuitdrukking wys, by ‘n komma haal jy asem, by die uitroepteken roep jy uit!).
“In ‘n storie is daar gewoonlik ‘n probleem wat opgelos moet word, verwys daarna en vra vir jou kind wat hy/sy sou doen om hierdie probleem op te los.
“In ‘n storie is ‘n held of ‘n skurk, kinders assosieer gewoonlik met die held en die held inspireer hulle om ‘n verskil te maak.”
Voordele van voorlees
Leandré het spesiaal op haar Facebook-blad ‘n “Maandag met Storieverteller” begin om die voordele van voorlees vir ouers te verduidelik met ‘n goeie uiteensetting van al die vaardighede wat ontwikkel word wanneer ons vir ons kinders stories voorlees.
Hoekom is lees so belangrik?
- Dit ontwikkel woordeskat en verbeter taalvaardighede omdat kinders blootstelling kry aan die korrekte taalgebruik.
- Dit bevorder kognitiewe vaardighede.
- Dit verbeter luistervaardighede.
- Algemene kennis word uitgebrei wat nuttig is wanneer leesstukke gelees word en vrae beantwoord moet word.
- Hoe meer ‘n kind lees, hoe beter skryf hulle. ‘n Vaardigheid wat baie kan help wanneer opstelle geskryf moet word.
- Dit kan ook wiskunde beïnvloed veral ten opsigte van woordsomme.
Kortom … dit maak leer makliker.
Leandré Steyn – die skepper van Rinkink terwyl jy dink. ‘n Program wat jou kind se basiese vaardighede wat nodig is om ’n goeie leser te wees, versterk. Daar is ook talle hulpbronne om uit te kies om kinders te help om klanke en lees op ‘n prettige manier aan te leer. Kies uit kleurvolle muurprente, inkleurboeke, leesboekies, ’n werkkaartboek, skrif- en patroonboek en ’n moniteringsboek om enkelklanke, dubbelklanke en klinkerkombinasies baas te raak. Daar is ook CD’s en ’n DVD beskikbaar.
Besoek die webtuiste
Om meer te wete te kom oor hierdie unieke program, meer te lees oor hoekom musiek werk en die uitwerking wat dit op kinders het, asook om van die hulpbronne te bestel, gaan kyk gerus op Rinkink terwyl jy dink se webtuiste.
Jy kan daar inteken en gebruik maak van die uitstekende aanlyn pakkette. Jy het hier die opsie om sommer vir ’n jaar in te teken, of om 12 maande lank elke maand ’n maandelikse bedrag te betaal. Leandré laai deur die loop van die 12 maande gereeld nuwe materiaal op.
Klik hier Rinkink Terwyl Jy Dink Lees Bevordering – Rinkink Terwyl Jy Dink. Dit is die beste besluit wat jy vandag gaan neem.

So werk die aanlyn opsies
Daar is vier vlakke in verskillende prysklasse om uit te kies.
Vlak 1 – Bevat die enkelklanke en al die dubbelklanke en klinkerkombinasies se liedjies, DVD, kleurvolle bypassende muurprente, die inkleurboekie wat ook pas by die liedjies en bewegings en die flitsklanke.
R59 p/maand of R708 p/jaar.
Lesse word altyd begin met die liedjies en bewegings wat saam met die muurprente gebruik word. Die inkleurboekie is ‘n lekker aktiwiteit wat geniet kan word. Die flitsklanke word gebruik vir hersiening.
Vlak 2 – Bevat die enkelklanke en al die dubbelklanke en klinkerkombinasies se liedjies, DVD, kleurvolle bypassende muurprente, die inkleurboekie wat ook pas by die liedjies en bewegings, flitsklanke, A5-leesboekies (VLAK1 EN 2), leeskaarte.
R69 p/maand of R828 p/jaar.
Dieselfde produkte word ook gevoeg by vlak 2. By vlak 2 word die leeskaarte en A5-leesboekies gebruik. Dit bevorder belangrike leesvaardighede, soos bv. leesvlotheid.
Vlak 3 – Bevat die enkelklanke en al die dubbelklanke en klinkerkombinasies se liedjies, DVD, kleurvolle bypassende muurprente, die inkleurboekie wat ook pas by die liedjies en bewegings, flitsklanke, A5-leesboekies (VLAK1 EN 2), leeskaarte, skrif- en patroonboek, werkkaartboeke en flitswoorde.
R89 p/maand of R1068 p/jaar.
Dieselfde produkte word ook gevoeg by vlak 3. By vlak 3 kom die skrif- en patroonboek by wat geskik is vir graad 1’s. Die bypassende werkkaartboeke pas ook weer by die Rinkink-reeks met belangrike perseptuele vaardighede wat ontwikkel word en dan flitswoorde wat pas by die werkkaartboeke.
Vlak 4 – Bevat die enkelklanke en al die dubbelklanke en klinkerkombinasies se liedjies, DVD, kleurvolle bypassende muurprente, die inkleurboekie wat ook pas by die liedjies en bewegings, flitsklanke, A5-leesboekies (VLAK1 EN 2), leeskaarte, skrif- en patroonboek, werkkaartboeke, flitswoorde en moniteringsboek.
R109 p/maand of R1308 p/jaar.
Dieselfde produkte word gevoeg by vlak 4. By vlak 4 kom die moniteringsboek by. Dit kan gebruik word om te toets of kinders werklik die klank onder die knie het. Die moniteringsboek vir enkelklanke, dubbelklanke en klinkerkombinasies bevat ‘n luistertoets, woordherkenning, leesspoed en lees met begriptoets.
Bronne en lees meer:
Haal die vrees uit lees en maak dit ’n fees. – Afrikaans.com
Lees – die sleutel tot leersukses – Afrikaans.com
Lees hardop vir jou kind voor – tien redes waarom dit werk! – Afrikaans.com
https://afrikaans.com/2018/02/11/kry-jou-kind-aan-die-lees/
SA leerders se leesvermoë swakste uit 50 lande | Maroela Media