“Sy het die rare vermoë om die onvermoë van menswees uit te druk, om die dinge te uiter wat anderkant sê lê, om die eggo’s van die onweetlike te laat hoor en dit te laat land in ’n sagte medewete.”
So mooi beskryf die teaterregisseur Frieda van den Heever Antjie Krog se kunstenaarskap in ʼn huldeblyk wat op Vrydagaand 7 Oktober voorgelees is.
Antjie was vanjaar die feesdigter van die Tuin van Digters wat vanjaar vir ʼn elfde keer in Wellington by die Breytenbach-sentrum plaasgevind het en sy is by vanjaar se fees vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Tydens die verrigtinge is Antjie ook gehuldig deur voordrag en voorlesings van haar skryfwerk. Daar het ook besprekings van sommige van die vertalings van haar werk plaasgevind.
‘n Skryfloopbaan vol hoogtepunte
Haar skryfloopbaan wat oor meer as 50 jaar strek, het wonderlike hoogtepunte opgelewer. In 1970 het haar eerste digbundel, Dogters van Jefta, verskyn. Sy was toe nog op skool. Deur haar skryfloopbaan is sy verskeie kere vereer. Sy was bloot 21 jaar oud toe sy in 1973 met die Eugene Marais-prys vereer is. Antjie het ook reeds twee keer die Hertzogprys verower. Alhoewel hierdie pryse alles vir haar poësie was, is haar bydrae tot prosa ook besonders. Haar opspraakwekkende verslag oor die werk van die WVK wat ingekleur is met die regstreekse woorde van slagoffers van apartheidsmisdade, is in verskeie tale, onder meer Italiaans, Duits, Spaans en Nederlands vertaal. Country of My Skull is in Afrikaans geskryf, maar dit is ook in Engels vertaal. Nog ’n besonderse pluimpie in haar hoed is die Gouden Ganzenveer, ʼn Nederlandse literatuurprys, wat in 2018 aan haar toegeken is.
Antjie word 70 jaar oud op 23 Oktober. Op die vooraand van hierdie verjaarsdag kon sy ’n nuwe digbundel, Plunder, en ’n geïllustreerde kinderverseboek, Vetplantfeetjies op haar lys van publikasies voeg.