Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
In ’n uitgawe van Kuier-tydskrif (1 Mei 2019), skryf Marteli Brewis dat tienerswangerskappe nie iets nuuts is nie, en dat dit deesdae beslis nie meer as “skande” beskou word nie. Tog, kyk ’n mens na die 2017-statistiek wat aandui dat bykans 120 000 Suid-Afrikaanse tienermeisies tussen 15 en 19 in daardie jaar geboorte geskenk het, wonder ’n mens onwillekeurig wat van hierdie meisies word – wie sorg vir hulle en die babas, gaan hulle terug skool toe, verval hulle net verder in ’n siklus van armoede … Wat nog meer onrusbarend is, is die nuwe tendens dat kinders so jonk as 10 jaar oud swanger raak. “Volgens die Recorded Live Births-verslag deur Statistiek Suid-Afrika het 3 261 meisies tussen 10 en 14 in 2018 ma geword.” Dit is kinders in graad drie tot sewe! Tussen April 2020 en Maart 2021 was daar in Gauteng alleen meer as 23 000 tienerswangerskappe onder meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 jaar oud – 934 van hierdie geboortes was deur meisies tussen 10 en 14 jaar oud. En dit is net die wat geregistreer is. Diegene wat nie aangemeld is nie en ander wat aborsies gehad het, is nie hierby ingereken nie.
Tienerswangerskappe het talle sielkundige, gesondheids-, ontwikkelings- en bevolkingsprobleme tot gevolg, maar wat is die grootste uitdagings in die verband en wat is die werklike gevolge op jong meisies en die betrokke jong seuns? Hoe hanteer ’n mens dit?
Afrikaans.com het Emmerentia van Wyk, ’n medewerker van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), en aanbieder van hulle werkswinkels oor die voorkoming van tienerswangerskappe, genader om ons vrae te beantwoord en ons meer te vertel oor die werkswinkels wat hulle aanbied.
Emmerentia sê dat om as tiener skielik uit te vind jy is swanger, en dat die swangerskap boonop onbeplan is, kan ’n groot skok wees met geweldige stres wat daarmee gepaardgaan. Nie net vir die swanger tiener nie, maar ook vir die familie. “Skielik flits al hierdie vrae deur jou kop: Wat van skool? Wie gaan my ondersteun sodat ek skool kan klaarmaak? Vir wie gaan ek eerste vertel – behalwe my kêrel – dat ek swanger is? Is ek en my ouers finansieel sterk genoeg om ons hierdeur te dra? Wat is my ander opsies?” Die lys is lank. Emmerentia sê ook dat daar soveel groot uitdagings is wat tegelykertyd ’n impak op die tiener het, dat ’n mens nie net een of twee kan uitsonder nie. “Sielkundige en gesondheidskwessies gaan hand aan hand en die tiener moet dit alles gelyktydig hanteer.”

Wat is die hoofoorsake van tienerswangerskappe?
Volgens Emmerentia is daar talle oorsake, maar die volgende is spesifiek op ons kinders van toepassing:
- Gebrek aan ouerleiding en/of ouertoesig
- Enkelouerhuishoudings
- Gebrek aan positiewe familie-/gesinsinteraksie
- Moeder was ’n tienerouer
- Gebrek aan kennis oor voorbehoedmiddels, swak toegang tot voorbehoedmiddels of te skaam om kliniek toe te gaan vir voorbehoedmiddels
- Ongereelde en verkeerde gebruik van voorbehoedmiddels
- Om swak selfbeeld ’n hupstoot te gee
- Onkunde
- Portuurgroepdruk
- Armoede
- Verkragting en/of seksuele mishandeling
- Kwessies met die beëindiging van swangerskap
- Deel van ’n groep wat waarde aan seksuele aktiwiteit gee
- Om in die mode te wees
- Soeke na liefde
- Gebrek aan diepgaande kennis oor puberteit, soos menstruasie en voorbehoedmiddels
- Kry inligting by portuurgroep waarvan die akkuraatheid bevraagteken word
Hoe ervaar die swanger tiener die situasie?
Emmerentia sê dat wanneer ’n tiener swanger word, haar lewe vir altyd verander en dat dit baie moeilik kan wees. Sy lig die volgende kwessies uit en deel ook enkele voorbeelde van response op ’n vaelys wat sy tydens haar studies gebruik het:
“Emosionele reaksies. Baie ervaar alleenheid, want hulle word afgesny van hulle vriende en in baie gevalle selfs deur die kêrel. Daar is dikwels ook onvoldoende kommunikasie met die ma, want die meisie kan nie deel wat sy werkilk ervaar terwyl sy swanger is nie.
“Byvoorbeeld, een van die respondente in my studie het die volgende gesê:
‘Terwyl ek swanger was, het dit gevoel of dit die moeilikste en eensaamste nege maande van my lewe is, ek was baie alleen.’


“Nog ’n respondent het die volgende gedeel: ‘Ek het maar altyd gevoel hoe my baba in my maag rondbeweeg, want ek was te bang om my ma te sê voel gou hier, en my vriende was nooit by my nie.’
“Die omstandighede tuis is ook baie moeilik vir die swanger tiener. Dit was die kommentaar van een respondent: ‘Die swangerskap was vir my baie moeilik. My pa het vir baie tye nie eers met my gepraat nie, so asof hy my wil afgeskryf het en my ma wat gedrink het.’
“Baie ervaar ook ’n gevoel van moedeloosheid, want hulle is nou bang om ’n ma te wees en die verantwoordelikheid wat daarmee saam gaan kom.”
Sê ’n ander tiener:
‘Ek was nog nie gereed vir ’n baba nie, want ek was self nog my ma se baba, maar met die tyd het ek besef ek het nou ’n verantwoordelikheid.’
“Swanger tieners ervaar ook gevoelens van spyt wees, want: ‘Ek kon nie my matriekjaar voltooi nie, kon nie matriekafskeid toe gaan nie. Ek het besef daar is so baie wat ek gemis het en het baie gehuil.’
“Baie swanger tieners ervaar baie bekommernis oor die finansiële aspek van hul lewe asook oor die gesondheid van hul baba. Dit was die antwoord van een van die respondente: ‘Ek het nie gewerk nie. My boyfriend het nie gewerk nie. Ek was bekommerd oor wie vir my kind gaan sorg. Die goedjies wat ek gaan nodig kry. Ek was bekommerd oor waarheen ek gaan. Dit was my grootste bekommernis, waanatoe ek gaan, waar gaan ek die geld kry.’ Nog ’n jong meisie het gesê: ‘(Ek is) bekommerd oor baie dinge, want hy het nog niks vir die kind gekoep nie. My ouers moes alleen gesorg het …’
“Swanger tieners is bewus van die impak wat hul terugkeer na die skool kan hê. Baie van hulle wil nie terugkeer skool toe nie omdat baie van hul vriende al die skool gelos het. Sommige van hulle keer wel terug skool toe, maar weens die druk en omstandighede by die huis, los hulle dan ook maar die skool. Hulle is dan ook skaam as hulle terugkeer skool toe. Dit is van die respondente se antwoorde: ‘Ek wou nie met die groot pens by die skool geloep het nie, kinders wat ’n mens dophou en so aan nie. Ek was skaam, ek wou myself nie eers gewys het op skool nie. My maats was nuuskierig.’ En …
‘Dit het my skoolwerk beïnvloed, want ek het lui begin raak, baie moodyrig.’
‘Skool was ook nie eintlik meer vir my lekker gewees nie… want nie een van my vrinne het meer skoolgegaan nie, ek was al een wat skoolgegaan het.’”

Enkele riglyne om die situasie te hanteer en tienerswangerskap te verhoed
“In my geval was dit onkunde wat tot my swangerskap gelei het. Praat met iemand as jy nie weet oor seks nie, en lig jouself goed in.” “Sê nee vir seks en geniet jou lewe. Jy is net eenkeer in jou lewe ’n tiener en as jy swanger raak, is daar geen omdraaikans nie.”
Emmerentia gee die volgende riglyne:
“Ek was vir baie lank ’n Lewensoriënteringsopvoeder en volgens my is dit ’n vak wat baie belangrik is omdat dit al hierdie kwessies ondersoek en hanteer. Skole kan dus ’n baie belangrike rol speel in die verband, omdat dit die plek is waar die kinders al die nodige inligting kan kry om hulself te bemagtig rakende hul seksualiteit, ensovoorts.
“Werkswinkels kan gehou word om die kwessies te hanteer. Tydens die werkswinkels kan sprekers, soos byvoorbeeld klinieksusters, gevra word om oor voorbehoedmiddels te praat, indien die opvoeder ongemaklik is om oor die kwessies te praat. In baie gevalle is dit moeilik vir ouers om oor seks, seksualiteit, voorbehoedmiddels, en dies meer te praat, of ouers self het nie genoeg inligting daaroor nie.
“Tieners kan na klinieke toe gaan om meer omtrent voorbehoedmiddels uit te vind. Ongelukkig is die klinieke dikwels nie tienervriendelik nie en voel tieners nie vry om soontoe te gaan nie.
“Verbeter tieners se kennis rakende voorbehoedmiddels. Hou gereelde werkswinkels in die gemeenskap wat die kind, ouer, skool en kerk betrek. Sodoende kan die ouers ook hulself bemagtig oor onderwerpe waaroor hul min kennis het.
“Daar is `n groot behoefte aan noodsaaklike kommunikasie tussen ouer en kind omdat onderwerpe soos seks oor gepraat moet word. Ondersteunende groepe kan gestig word om ouers te help wat probleme mag ondervind.
“Kry plekke waar moeder en dogter vryelik kan praat oor hul gevoelens en idees uitruil buite die grense van tradisionele rolle.
“Seksualiteitsopvoeding moet onder andere daartoe bydra dat tieners goed voel oor hulself en hul liggame, en sodoende ook hul selfbeeld verhoog.
“Seksualiteitsopvoeding moet die positiewe komponente van intimiteit bevorder en nie net fokus op die negatiewe, soos onbeplande tienerswangerskap nie. Duidelike onderskeid moet gemaak word tussen seksualiteitopvoeding en seksonderrig.
“Programme moet inligting en demonstrasies insluit oor voorbehoedmiddels en hoe om dit te gebruik.”
Die SBA se Tienerswangerskapprogram
Werkswinkels word gewoonlik op Saterdae en in skoolvakansies gehou, sodat daar nie inbreuk gemaak word op die skool se program nie. Skole vind dit ook moeilik om sodanige werkswinkels tydens skooltyd in te pas.
Daar word met die graad 10-leerders gewerk. Die rede waarom hierdie ouderdomsgroep uitgesonder word, is omdat die Lewensoriënteringskurrikulum in graad 10 oor tienerswangerskappe handel.
Emmerentia van Wyk het na 32 jaar in die onderwys afgetree waarvan sy meer as die helfte daarvan ’n Lewensoriënteringsopvoeder was. Sy het ’n Meestersgraad in Gesinstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi, getiteld “Teenage Girls’ Experiences of Pregnancy and Motherhood.” Sy is `n medewerker van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans waar sy werkswinkels aanbied oor die voorkoming van tienerswangerskappe.
*Met dank aan Gerswin Cupido en Emmerentia van Wyk van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) tydens die skryf van die artikel. Vir meer oor die SBA en die goeie werk wat hulle doen, klik hier www.sbafrikaans.co.za

Emmerentia van Wyk
Nog nuttige skakels:
Rebuilding Dreams – hanteer uitdagings van tienerswangerskap, gee leiding oor goeie ouerskap, pa-betrokkenheid. Vir meer inligting, kontak Erna Rheeder by 084 383 9417 – of erheeder@savf.co.za
Die tienerouerskapprogram by Die Ouersentrum, The Parent Center: www.theparentcentre.org.za
Gesinne Suid-Afrika Families South Africa: www.famsaorg.mzansiitsolutions.co.za – 011 975 7106/7