Mediaverklaring: KKNK
27 September 2022
Tien tekste is na afloop van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se sewende Teksmark vir verdere ontwikkeling geïdentifiseer.
Teksmark is van 24 tot 26 Augustus by die Baxterteater in Kaapstad aangebied en kon gratis deur belangstellendes bygewoon word. 22 skrywers het hul teksidees voorgelê en 90 akteurs en regisseurs het deelgeneem om uittreksels uit elk van die tekste as leesteater aan te bied.
Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxterteater, het tydens die geleentheid Wilken Calitz en Shaun Oelf se Karatara, wat drie jaar gelede op die Teksmark-verhoog was, uitgesonder as ’n wonderlike voorbeeld van dié projek se sukses. “Na Karatara se speelvak by die KKNK waar dit met die Kanna vir beste debuutwerk bekroon is, het dit onlangs teruggekeer na die Baxterteater, waar alles met Teksmark begin het, vir ’n kort seisoen. Ons is baie trots om met hierdie produksie en projek geassosieer te wees.” (Karatara is ook van 10 tot 16 Oktober te sien tydens die Woordfees.)
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, bevestig dat skrywersbeurse ter waarde van R150 000 – befonds deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die KKNK – aan agt tekste toegeken is. “Ons is verder trots om ’n KKNK- en Suidoosterfees-speelvak aan een teks toe te ken en een teks volledig as leesteater op te neem.”
“Teksmark het as ’n klein projek begin en oor die afgelope sewe jaar begin voel soos ’n fees wat sy eie gehore gebou het. Dit het ’n familie geword met nuwe mense wat jaarliks bykom. ’n Projek soos Teksmark is nie moontlik sonder ondersteuning van vennote soos NATi en die Baxterteater, asook ander ontwikkelingsvennote waaronder feeste, teaters, The Playwright’s Laboratory, Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en die Het Jan Marais Nationale Fonds nie. Ons bedank hulle opreg vir hul ondersteuning en samewerking.”
Ses tekste wat by die 2022 Teksmark voorgelê is, is gekies vir verdere ontwikkeling.
Mikayla Joy Brown se Jantjies and the Pearls ontvang ’n speelvak by die KKNK en die Suidoosterfees in 2023 en skrywersbeurse om tekste te voltooi is aan vyf tekste toegestaan: Philip Theron vir Babilon, Babilon, Henriëtta Gryffenberg en Alby Michaels vir 1, Wessel Pretorius vir Kamermusiek, Anele Kose vir Mhla ndiqala idibana naye en Louw Venter vir Albatros.
Vier tekste uit Teksmark 2021 is ook vir verdere ontwikkeling gekies.
Marí Borstlap ontvang ’n skrywersbeurs om haar teks Koning van die Diereriem te voltooi. Nisa Smit ontvang ’n beurs om haar teks Nipped in the butt na Afrikaans te vertaal, sowel as Michaela Weir vir haar teks What happens in Russia … Philip Theron se Die kontemporêre kuns komplot word deur The Playwright’s Laboratory (TPL) as vollengte leesteater opgeneem. TPL is ’n nuwe inisiatief wat ’n aanlyn platform vir skrywers is om hul werk vir ’n internasionale gehoor aan te bied.
Daniel Galloway, vervaardiger van TPL, sê hulle is opgewonde om saam met Teksmark Theron se nuwe teks as leesteater op te neem. “By TPL bied ons aan ons lede en vennote ’n veilige platform om nuwe werk as leesteater te deel en te kyk, om sodoende hierdie briljante tekste bloot te stel aan potensiële vervaardigers van regoor die wêreld.”
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê dit is met goeie rede dat verskeie rolspelers Teksmark as die hoogtepunt van die teaterjaar bestempel. “Vanjaar het nuwe én gevestigde skrywers ons weereens verras. Vir so lank as wat ons skrywers gretig is om hul stories te vertel, sal NATi en die KKNK, Teksmark laat groei. Ons is opgewonde oor die moontlikhede wat uit vanjaar se projek ontstaan het: nuwe stemme, nuwe idees en baie talent!”
Teksmark bied ’n informele platform aan skrywers om ’n voorlegging van hul idee aan te bied, gevolg deur ’n uittreksel as leesteater. Daarna vind ’n gesprek plaas met insette van die rolspelers en die gehoor. “Baie skrywers was vanjaar vir die eerste keer by Teksmark en vir verskeie van dié skrywers, is hul eerste teks voorgelê,” vertel Theart.
Alle sessies van vanjaar se Teksmark is beskikbaar om te kyk op die KKNK se webblad by kknk.co.za. Wyn is vir die duur van Teksmark deur Protea-wyne geborg.
Vir meer inligting, kontak die KKNK-kantoor by info@kunste.org.za, of skakel 044 203 8600.
Einde
Uitgereik deur die KKNK Vir medianavrae:
Lizané Basson lizane@kunste.org.za 084 789 1477