“In my lewe” in graniet verewig
’n Besonderse eer het Mathys Roets te beurt geval toe een van die liedjies wat hy sing, “In my lewe”, buitengewone erkenning deur die FAK gekry het. Op Donderdag 22 September het die FAK in hulle Afrikaans Liedjietuin ’n granietsteen onthul waarop hierdie liedjie se woorde gegraveer is. Nardus du Plooy is die skrywer van “In my lewe” en was by die onthulling teenwoordig. Die besonderse lirieke vertel ’n aangrypende storie van die dinge wat een man deurmaak in sy lewe. Die lied is in 1999 deur Nardus geskryf en gereeld deur sy musiekgroep, Die Kaalkop Waarheid, gesing. Mathys Roets vertel dat hy ná sy motorfietsongeluk waarin hy die gebruik van sy bene verloor het, een aand saam met ’n groep ouens wat almal in rolstoele is, ’n musiekvertoning van Die Kaalkop Waarheid bygewoon het. Dit was ’n fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van rolstoelbasketbal. Dié aand het Mathys die lied vir die eerste keer gehoor en na afloop van die vertoning vir Nardus gevra of hy dit ook kan sing. Natuurlik het Nardus ingestem. Wat Mathys se weergawe van “In my lewe” so besonders maak, is juis die musiekvideo waarin daar beeldmateriaal uit Mathys se lewe gebruik word om die dinge waaroor hy sing, toe te lig. Vir Mathys was dit dus fantasties toe hy hoor dat die FAK juis hierdie lied uitgekies het vir hulle Afrikaanse Liedjietuin. “Nardus het iets aangrypends reggekry met die skryf van hierdie lied. Hy het dit so geskryf dat dit op enigeen se lewe van toepassing kan wees. Elkeen van ons ken ’n storie of elkeen het ’n ondervinding waarvan daar vertel word in “In my lewe”.
Dit maak party mense hartseer, dit gee ander hoop. Sommiges voel nostalgies en party mense droom daaroor. Daarin lê die lied se trefkrag: die woorde trek ʼn mens in en elkeen kan homself of haarself in die storie uitleef. Dit was vir my ’n voorreg om aan hierdie lied van Nardus ’n nuwe lewe te gee met my vertolking daarvan. Nou het die FAK dit in graniet verewig.”
![In my lewe 1](https://afrikaans.com/wp-content/uploads/2022/10/In-my-lewe-1-scaled.jpg)