Skrywer: Alita Steenkamp
Die nuus dat die Toyota US Woordfees weer vanjaar in Stellenbosch gaan plaasvind, is van oraloor verwelkom. Kunstenaars, musikante, skrywers, komediante, dansers en natuurlik die publiek wat ná ʼn feesdroogte van twee jaar behoorlik feeshonger is, gaan vanaf 10 tot 16 Oktober opruk na Stellenbosch vir 2022 se fees – vir die eerste keer ʼn lentefees. Boonop is vanjaar se tema “Wild” en dis heel gepas vir ʼn fees met soveel op die spyskaart. Die indrukwekkende program spog met meer as 245 aanbiedings wat oor sewe dae in meer as 40 lokale in en om Stellenbosch gaan plaasvind.

Die Woordfees wat in die jaar 2000 afgeskop het as ʼn viering van die Suid-Afrikaanse woordkuns, fokus steeds baie sterk op boeke en gesprekke. Die groot Skrywersfees wat deel vorm van die Toyota US Woordfees, is die polsende hart van die fees, maar daar is ook heerlike ander kunsgenres om na uit te sien: ʼn opwindende toneelprogram, dans, klassieke musiek en musiekteater, pop, rock, hip-hop, jazz, visuele kuns, skerpsketskomedie, ʼn filmfees en die bekende diskoers gespreksgeleenthede wat mense aan die praat gaan kry. Die leefstylafdeling van vanjaar se fees is propvol kuiergeleenthede, lekker kos en wyn en selfs skouspelagtige tuintoere.
Wat die skrywersfees betref, is daar heerlike boekgesprekke wat wag. NB-Uitgewers alleen spog met 25 boeke op die feesprogram. Boekgesprekke wat jy nie durf misloop nie, is die volgende: Zirk van den Bergh (al die pad uit Nieu-Seeland) oor Die onsigbare pou, Joan Kruger oor haar boek Wieg. Die lewensverhaal van Marie Bruisset, die Du Plessis-stammoeder in Suid-Afrika, Die private Franz Marx. Sandra Prinsloo gesels met die skrywer van hierdie boek, Chris Vorster, en die ander twee wat gaan saamgesels is Marida Swanepoel en Nic de Jager. Gerda Taljaard gesels oor haar boek Vier Susters wat vroeër vanjaar die kykNET-Rapport-boekprys vir fiksie verower het.
Die toneelaanbod op die Woordfees is oudergewoonte weer propvol hoë kwaliteit dramas, lekkerlag komedies en aangrypende eenman- en eenvrouvertonings. ʼn Opwindende debuut wat hierdie jaar by die Toyota US Woordfees op die planke gaan wees, is Die Moeder, ʼn Afrikaanse verwerking van die dramaturg Florian Zeller se The Mother deur Christiaan Olwagen wat ook die regisseur van hierdie produksie is. Met Sandra Prinsloo, Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange. Ek wens, ek wens, ʼn eenmanvertoning deur Frank Opperman is gebaseer op Zirk van den Bergh se fabelagtige verhaal. Dit is aangewys as Aardklop 2021 se beste produksie en Frank Opperman het ook die prys as beste akteur hiervoor gewen. ʼn Interessante produksie met Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt is Mutton Hour, ʼn komedie wat bestaan uit ʼn klomp kort stories oor liefde, verlies en maar ook lawwighede. Dit is tipiese kamishibai, ʼn Japannese tegniek van geïllustreerde storievertelling. Die briljante kabaretmeester Hennie Aucamp was die vertaler van Bertolt Brecht se The Seven Deadly Sins of in Duits Die sieben Todsünden der Kleinbürger wat al in 1933 geskryf is. In ʼn radio-onderhoud op RSG het Saartjie Botha, feesdirekteur van die Toyota US Woordfees Die sewe doodsondes uitgesonder as ʼn produksie om nie mis te loop nie. Sy beskryf dit as ʼn tipe van ʼn kabaret palet. “Dit lewer kommentaar op ʼn kapitalistiese stelsel wat uiteindelik misluk. Fisies en konseptueel is hierdie stuk ʼn uitdaging. Dis so lekker want wanneer laas het ʼn mens 20 mense op een slag op die verhoog gesien?” sê Saartjie. Ira Blanckenberg en Robert Hindley skitter in Oom Bey, my pa. Dit is die merkwaardige verhaal van die struggle-held Beyers Naudé, soos gesien deur die oë van sy enigste dogter, Liesel.


Op die Toyota Jan Marais Park-verhoog gaan rock en hip-hop kunstenaars soos Karen Zoid, Early B, Spoegwolf en Dr Victor en die Rasta Rebels beslis “Wild” wees. Francois van Coke stel sy vierde debuutalbum, Kanniedood, met ʼn konsert by hierdie buitelug venue bekend.
Vir die klassieke musiekliefhebber wag daar ʼn propvol program. Van die produksies wat uitstaan is Simfoniese vuurwerk, die Kaapse Filharmoniese orkes met dirigent Brandon Phillips, die Universiteitskoor Stellenbosch se Galakonsert en vele ander musiekkonserte en uitvoerings met die musiek van Bach, Chopin, Liszt, Handel, Schubert, Brahms en Debussy om ʼn paar te noem.
Die kontemporêre musiekprogram vir vanjaar se fees voldoen weer aan ʼn wye gehoor se smaak. Van Gert Vlok Nel, tot die heerlike Brel/Piaf van Amanda Strydom en André Schwartz. Theuns Jordaan-aanhangers sal nie teleurgesteld wees nie want ʼn besondere produksie, Die Theuns Jordaan Liedjieboek met kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Mathys Roets, Tarryn Lamb en Gian Groen bring hulde aan hierdie ontslape kunstenaar. Jak de Priester vat die gehore terug op sy spore van die afgelope 20 jaar in sy Jak de Priester: 20 jaar na Sally-konsert.
Die Woordfees se filmaanbieding is hierdie jaar ook ryk en genuanseerd. Die Neelsie Cinema Filmfees vertoon die keur van 2022 se kykNET Silwerskermfees. Die twee rolprente wat die meeste toekennings verower het, Barakat en Gaia, sal ook te sien wees. Die kortfilms by die fees kan gratis gekyk word. Al 18 kortfilms wat by vanjaar se Silwerskermfees te sien was, word elk twee keer vertoon. Benewens hierdie kortfilms is daar ook dokumentêre films en al die vernaamste plaaslike pryswenners van die 2022 DIFF (Durban International Film Festival) is op die program. ʼn Besondere dokumentêre film oor Johannes Kerkorrel, Kerkorrel, sal vir die eerste keer by die Woordfees vertoon word.
Die tonge gaan behoorlik los weer by die Diskoers-afdeling van die komende Toyota US Woordfees. Daar is verskeie onderafdelings van Diskoers by hierdie fees. Die Netwerk24-gespreksreeks onder leiding van Christi du Toit en Pieter van Zyl, sluit onder meer gesprekke met kenners oor die toekoms van die ANC en die ANC-regering se bykans vyandige houding teenoor kuns in. Jody Hendricks, radio-aanbieder by RSG, bied ʼn nuwe gespreksreeks aan oor studente en die probleme waarmee hulle worstel. Nog ʼn gespreksreeks wat weer ʼn heel ander kant belig is die Ongehoord-gespreksreeks waar ʼn paar feministiese onderwerpe bespreek gaan word. Dan deel Dave Pepler en ʼn paar ander wetenskaplikes verbonde aan die US hulle kennis aan die publiek by die gewilde Science Café. Daar is ook oudergewoonte ʼn hele paar teatergesprekke wat spesifiek handel oor van die verhoogstukke wat by 2022 se Woordfees aangebied word.
Verlang jy na die goeie ou dae van Monitor vroegoggend op RSG? Hierdie program gaan spesiaal vanaf die Woordfees uitgesaai word weeksdae van 6:00 tot 8:00 by die Plataan. Dis nie die enigste program wat vanuit Stellenbosch uitgesaai word nie. In die middae vanaf 12 tot 13:00 kry Spektrum ʼn beurt.
Stellenbosch, lowergroen getooi, is beslis die plek om te wees vanaf 10 tot 16 Oktober. Die Toyota US Woordfees het vanjaar weer ʼn wonderlike aanbod: iets vir ʼn ieder en elk, sê Saartjie Botha. “Ons hoop die mense kom fees toe. Die kunste is ongelooflik belangrik en ek dink nie ons benut naastenby al die potensiaal wat daar in die kunste opgesluit lê om Suid-Afrika ʼn gesonder land te maak nie.”
Vir ʼn volledige feesprogram, kliek hier.