Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
In ’n vorige artikel op Afrikaans.com het ons die gebruik van sosiale media en skermtyd onder ons jongmense bespreek. In hierdie artikel delf ons dieper in die gevolge van die sogenaamde “onskuldige” platform.
Die feit dat vandag se kinders elke dag blootgestel word aan toestelle en skerms en buitengewoon bedrewe is met die jongste tegnologie, het die situasie natuurlik nie verander nie. Vir baie ouers is dit ’n kopseer, en is hulle nie altyd seker hoe om die situasie te bestuur nie.
Karla Jonker sê in ’n artikel op Maroela Media (Augustus 2021) dat dit juis sosiale media is wat die meeste druk op jongmense plaas. Die eens “onskuldige” platform waar inligting, stories en idees gedeel kon word, is deesdae nie heeltemal so voordelig nie, en “vir Generasie Z is dit nie aldag so fantasties nie”. Volgens Karla skep sosiale media die “illusie van ’n perfekte lewe” en om die soort foto’s en so meer te deel, is nie verkeerd nie, wat wel problematies is, is “die vergelyking wat op persoonlike vlak en op ander sosialemediabladsye op grond van die inhoud daarvan gemaak word”. Karla skryf voorts wat die uitwerking van hierdie “perfekte lewens” op sommige mense se selfbeeld het, veral as hulle op daardie stadium dalk swaar trek. “Dit gaan nie oor jaloesie nie, ook nie altyd oor jou eie omstandighede nie. Dit gaan slegs oor vergelyking.”
Baie jongmense “ontsnap” van hierdie negatiewe invloed op hulle selfbeeld deur hulle sosialemediaprofiele te verwyder en dan later, wanneer hulle op ’n “beter plek” is, hul profiele weer te aktiveer. “En al voel ‘n mens nie altyd goed nadat jy op ‘n sosialemediaplatform was nie, sal niemand egter durf waag om daarsonder te leef nie. Ons is maar aan nuuskierigheid en die gevoel om aan iets te behoort, verslaaf.” Aldus Karla.
Volgens Karla is gevoelens van minderwaardigheid deel van Generasie Z se realiteit en is hulle nie eers altyd bewus daarvan nie omdat hulle “die gevoel al aanvaar”. Dit is met ander woorde ’n gewoonte.
Sy sê ook dat sy nie mooi seker is wie nou eintlik die vyand is nie. “Is dit sosiale media of net die emosies wat sosiale media in ’n mens na vore bring?” Haar raad? “Volg eerder mense wat jou inspireer en ‘n positiewe uitwerking op jou emosies het. Leer ook om jou nie met ander te vergelyk nie.”

Wat sê ons ouers?
“Ons moet ons kinders aan die begin vergesel, later monitor, dan mentor en uiteindelik met belangstelling en omgee af en toe inloer en gesels oor hulle doen en late op sosialemediaruimtes. ’n Goue reël is om vir jou kinders te leer dat hulle niks moet doen of skryf of stuur wat hulle nie gemaklik mee sal voel om in die ‘werklike’ wêreld (vs die wêreld van die internet) vir ’n persoon te wys, of te sê, as daardie persoon in dieselfde kamer as hulle sou wees nie.” – Hugo Theron, kliniese sielkundige in ‘n onderhoud op LitNET
Oor die algemeen besef ouers dat die hedendaagse toegang tot tegnologie en die gebruik daarvan, deel is van die moderne samelewing en dat hulle kinders grootword daarmee. Trouens, dit is feitlik onvermydelik en het natuurlik talle voordele. Wat wel problematies is, is die sosiale media wat daarmee gepaardgaan. Weereens, sosiale media het ’n legio voordele, maar indien dit nie met omsigtigheid gebruik word nie, kan dit talle negatiewe gevolge inhou. Die meeste ouers is dit dus eens dat daar beheer moet wees en ouers moet hulself vergewis van hul kinders se gebruik. So sê ’n mamma: “Hoewel ek nie graag wou nie, het ons wel besluit om vir ons dogter van 11 jaar oud ‘n selfoon te gee. Die hoofrede is omdat sy so pas sekondêre skool toe is (in Engeland) en vir die eerste keer per bus skool toe gaan. Ek voel net meer gemaklik dat ek haar in die hande kan kry of dat sy ons kan kontak indien nodig.
“Natuurlik is dit ‘n nuutjie vir haar en het sy en haar maats reeds ‘n paar WhatsApp-groepies gestig, en dit is hier waar probleme kan ontstaan. Nie noodwendig oor wat ‘n mens se eie kind doen, sê of deel op die groepies nie, maar waaraan hulle blootgestel word. Kuberboeliery is ‘n realiteit en nie alle ouers is bedag op wat hulle kinders rondstuur nie. Daarom het ons dogter beperkinge op die gebruik van haar foon en is ek bedag op haar reaksie wanneer sy met haar maats kommunikeer.
“Ek glo nie ouers moet noodwendig betrokke raak by die ‘onskuldige’ vetes tussen maats nie, maar as daar gevaarklokkies lui, moet ‘n mens optree. Gelukkig is ons verhouding goed en deel sy meestal alles met my – en dit is dan juis die ideale geleentheid om oor kwessies te gesels wat haar dalk bekommer of seermaak. Ek wil net beklemtoon: Ouers, veral ma’s, moenie direk met die kind wat dalk ‘n lelike of onvanpaste boodskap gestuur het, kontak maak nie. Reël ‘n afspraak met die kind se ouer en bespreek dit soos volwassenes.”

Skending van privaatheid?
Of dit aanvaarbaar is om na jou kind se boodskappe te kyk sonder hulle medewete, is natuurlik ‘n heel ander kwessie. Weereens is daar nie ‘n klinkklare antwoord nie. Doen ‘n ouer dit, kan dit die indruk skep dat die kind of tiener nie vertrou word nie. ‘n Mens maak inbreuk op die tiener se privaatheid, wat natuurlik tot onnodige konfrontasie kan lei. Die sielkundige Louis Awerbach en Lise Swart (RSG-program “Wie is ek?”) het in 2013 met leerders gesels oor die rol en invloed van sosiale media en hoe dit hulle as tieners raak.
Lisa Swart noem in die program dat ouers dikwels kla omdat dit voorkom asof die tieners konstant op hulle selfone besig is. Dikwels beland van die tieners in die moeilikheid omdat hulle met mense en dinge in aanraking kom wat nie hul beste belange op die hart dra nie. In antwoord hierop wys Awerbach eerstens daarop dat tenologie kommunikasie baie verander het. Waar ons voorheen mekaar gebel het en briefies rondgestuur het, gebruik vandag se tieners bloot ander metodes en is selfone een so ‘n metode van kommunikasie. Awerbach sê egter dat “tegnologiese kommunikasie sosiale ‘afgestompdheid’ tot gevolg kan hê as dit as enigste manier van kommunikasie gebruik word”. Natuurlik kry diegene met slegte bedoelinge ook makliker toegang tot tieners – dit sluit kuberboeliery in.

Wat moet ouers doen as hulle bekommerd is oor hulle tieners se selfoongedrag?
Awerbach antwoord dat hy voel dat opvoeding in die verband noodsaaklik is. “Die antwoord lê in die vormingsjare en dat die tiener teen dan voorbereid moet wees om enige vorm van kommunikasie te leer hanteer.” Volgens Awerbach het ouers wel die reg om reëls in die gebruik van tegnologie (veral selfone) toe te pas. Byvoorbeeld dat selfone nie tydens etenstyd of gesinsgesprekke gebruik mag word nie. Ook dat selfoonkommunikasie ingeperk word as straf – hoewel Awerbach maan dat dit slegs by uitsondering moet geskied. Of ouers dit nou wil weet of nie, hulle tieners vind nog hulle voete sosiaal en “deesdae is die tegnologie die manier hoe hulle dit doen”.
Of ouers die reg het om te weet wat op hulle tieners se selfone aangaan, is natuurlik ’n netelige saak. Awerbach sê dat daar uiteenlopende menings hieroor is. Hy voel sterk daaroor dat ouers nie hulle “reg moet gebruik om op hulle kinders se selfone te kyk nie. Daar is natuurlik uitsonderings, maar tieners het tog ’n reg op privaatheid.” ‘n Mens moet jou tiener vertrou en as jy voel dat jy dit nie kan doen nie, lê die probleem dalk juis by ‘n gebrek aan kommunikasie en opvoeding. “Spioenasie om die tiener uit te vang, kan dit waarskynlik net erger maak.” Aldus Louis Awerbach.
Onthou egter: Respekteer jou tiener se privaatheid, maar luister gerus na jou sesde sintuig as iets jou pla t.o.v. jou kind se sosialemediagedrag.
Goed en sleg
Tegnologie is darem nie net ‘n euwel nie en met die regte leiding en toesig kan dit bydra tot ons tieners se kennis, hulle politieke en sosiale bewustheid, interpersoonlike verhoudings, hulle kritiese denke aanwakker en kreatiwiteit stimuleer en sekere vaardighede verbeter.
Dat te veel skermtyd veral vir ons jonger kinders nadelig kan wees, is natuurlik ook waar en taalontwikkeling, leesvermoë, korttermyngeheue, en die vermoë om te konsentreer en aandag te gee, kan onder andere geraak word. Dikwels is ‘n kind buierig omdat hy aan sensoriese oorlading blootgestel word. Die impak op gesondheid weens ‘n onaktiewe leefstyl kan ook ter sprake kom. Steur die tiener of kind homself te veel aan ander se menings, kan dit lei tot ‘n gebrek aan selfvertroue, ’n negatiewe selfbeeld en sosiale welstand, asook sielkundige probleme soos depressie.
Die slotsom? Wees bedag op die gevare en nadele en hoe dit jou kind kan raak, maar bemagtig jouself terselfdertyd sodat jy met insig kan besluit hoe om jou kind se sosialemedia- en tegnologiese gebruik tot sy voordeel te bestuur.
Wat sê die navorsing?
“Sosialemediadata verskaf “nuwe maniere om ons leefwêreld te bestudeer omdat dit sosiale interaksies meetbaar maak, groot hoeveelhede teks en beelde genereer en nuwe (meetbare) wyses verteenwoordig waarmee mense met hul leefwêreld omgaan.” – Burgert A Senekal, LitNET (30 Okt 2020)
In Suid-Afrika het sosiale media ’n 37% bevolkingspenetrasie, wat beteken dat daar 22 miljoen Suid-Afrikaners met ’n aktiewe sosialemediateenwoordigheid is en boonop het sosialemediagebruik oor die laaste jaar met 19% toegeneem (Kemp 2020). WhatsApp is tans die gewildste sosialemediaplatform in Suid-Afrika, gevolg deur YouTube, Facebook, Facebook Messenger, Instagram, Twitter, Pinterest en LinkedIn (Kemp 2020).

Bronne:
https://afrikaans.com/2021/03/10/jou-tiener-en-sosiale-media/
#JongStemme: Hoe gesond is jy en sosiale media? | Maroela Media
Louis en Lise se Wie is ek: Sosiale media en tieners | Sarie (netwerk24.com)
Sosiale media en die Afrikaanse leefwêreld uit ’n navorsingsoogpunt – LitNet
Lees ook:
Kuberboeliery – Die gevaar op ons kinders se vingerpunte – Afrikaans.com
https://www.litnet.co.za/sosialemediagebruik-en-kinders-the-good-the-bad-and-the-ugly/
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/tieners-en-tegnologie-hoekom-dit-eintlik-goed-is-20170528
https://jougesin.solidariteit.co.za/die-impak-van-te-veel-skermtyd-op-kinders/
https://www.edubloxsa.co.za/kinders-en-tv-kyk-skadelik-skadeloos/
https://www.childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel54.html
Digitale demensie: Sosiale diskonneksie oor tegnologie