Skrywer: Alita Steenkamp
Helene de Kock se Elisabet se oorlog dra vanjaar die kroon as beste liefdesroman
Vanjaar het Helene de Kock weggestap met een van die gesogte ATKV-Woordveertjies vir haar liefdesroman Elisabet se oorlog. Die aankondiging is Woensdagaand, 14 September, virtueel gedoen. Vir Helene was dit ’n heerlike verrassing, haar Elisabet-boek het immers teen twee gedugte kandidate te staan gekom. Die ander finaliste in hierdie kategorie was Chanette Paul se Marilyn en Irma Joubert se Na ʼn plaas in Afrika. Die beoordelaars het geskryf dat Elisabet se oorlog ʼn hoogtepunt in hierdie deurwinterde skrywer se oeuvre is. “Tussen die blaaie van hierdie boek word fiksionele karakters regte mense en die leser word noodwendig ʼn intieme deel van die wreedheid en ontnugtering wat die oorlog vir hulle meebring. De Kock slaag daarin om dit so goed te beskryf dat dit voel asof jy self daar was om die sirenes te hoor loei, die bomme te hoor val en die chaos in die stad te sien. Elisabet se binneoorlog en pad na geluk is ewe meesleurend. ʼn Boek wat meevoer deur die karakters se wel en wee,” was hulle siening van die boek.
Helene lag en sê sy het eintlik nie veel hoop gehad om te wen nie. “Sedert 1989 is ek nou vir die vyfde keer vir ʼn ATKV-prys genomineer, maar ek het nog nooit gewen nie. In 1987 is ek vir Kronkelpad na Vergenoeg genomineer vir die ATKV-prosaprys. Daarna vir Somersneeu, Debora gaan huis toe, Kind uit die wingerd en nou Elisabet se oorlog, wat almal vir ʼn ATKV-Woordveertjie genomineer is. Ek is behoorlik in my skik dat ek hierdie keer die toekenning verower het en is voorwaar baie dankbaar.”
Helene se skryfloopbaan strek al oor etlike dekades en haar eerste roman, Soete Dwaling, het reeds in 1978 verskyn. Daar het al meer as 50 boeke uit haar pen verskyn. Sy het ook ʼn doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf.
Elisabet se oorlog vertel die verhaal van Liesbet wat in die dertigerjare van die vorige eeu op trou staan met Johannes, ʼn boer. Dan besef sy dat sy nie voort kan gaan met die troue nie, en sy vlug. So iets was natuurlik totaal taboe in daardie jare. Uiteindelik eindig sy in Londen by ʼn tante van haar wat met ʼn Engelsman getroud is. En dan breek die oorlog uit en Londen loop ook deur onder die Duitse lugaanval. Terselfdertyd vertel dit ook die verhaal van Liesbet se binneoorlog.
Elisabet se oorlog is ook as luisterboek op Netwerk24 uitgesaai en Helene vertel dat sy baie goeie terugvoer gekry het oor die boek. Daar is maar die ou ou storie in Afrikaans dat sommige mense neersien op liefdesverhale. Dikwels kry liefdesverhale nie eers ʼn resensie nie. Sy steur haar min daaraan, sê Helene. Vir haar is dit net belangrik om te sorg dat elke boek wat sy skryf, goed geskryf is.
“Tolstoi het dit so mooi gesê: ʼn Goeie boek is ʼn goeie boek en ʼn slegte boek is ʼn slegte boek. In Afrikaans is daar glad nie ʼn definisie van wanneer iets letterkunde is of nie. Ek hou nogal van die term wat die literator Charles Malan uitgedink het. Hy het gepraat van goeie, gewilde prosa. Enige goedgeskrewe boek behoort as goeie, gewilde prosa beskou te word,” sê Helene.
Elisabet se oorlog het in 2021 by Human & Rousseau verskyn. In Maart vanjaar het Stella se dogters van Helene by Penguin Randomhouse verskyn. Tans is sy reeds weer hard aan die werk aan haar volgende roman wat hopelik in 2023 by Human & Rousseau sal verskyn.
“Mense vra my soms of ek dan nog stories het om te vertel,” lag Helene. “Dan antwoord ek maar en sê ek hoop ek kan nog vir lank aanhou skryf. Dit is vir my heerlik en hou my besig. Eintlik hou dit my baie baie besig. Dit is beslis nie net ʼn stokperdjie nie, maar werklik harde werk. Ek skryf nooit meer as twee of drie ure per dag nie, want die konsentrasie wanneer jy werklik besig is om te skryf, maak jou nogal moeg. Wanneer ʼn mens dan ʼn toekenning soos hierdie ontvang, weet jy die lang ure wat jy besig was, was alles die moeite werd.”