Suid-Afrikaners is dol daaroor om te braai en as jy van ’n tamatiesmoor of -sous saam met braaivleis en pap hou, is dié sous net wat jy soek. Chakalaka is ’n geurige tamatiesous met meer speserye as net ’n gewone smoor. Ek gebruik graag vars gemmer en die growwe tekstuur met eksta groente is heerlik. Dis baie veelsydig en ewe lekker met ’n burger, gebakte eiers of selfs hoenderporsies. Al is dié soort sous ook in blikkies beskikbaar, is niks so lekker soos ’n tuisgemaakte weergawe nie.
Lewer 1,25 liter
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
2 groot uie, gekap
5 ml (1 t) koljandersaad, gekneus
1 knoffelhuisie, gekneus
45 ml (3 e) grofgerasperde vars gemmer
2,5 ml (½ t) matige kerriepoeier
5 ml (1 t) paprika
1 klein rooi brandrissie, heel, of meer na smaak
1 groot rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
3 wortels, grof gerasper
fyngerasperde skil van een suurlemoen
30 ml (2 e) rooiwynasyn
2 x 410 g blikke gekapte tamaties
80 ml (⅓ k) gekapte vars Italiaanse pietersielie
sout, peper en suurlemoensap na smaak
- Verhit olie in ’n groot kastrol. Soteer uie en koljandersaad tot die uie sag is.
- Roer knoffel, gemmer, kerriepoeier en paprika by en soteer vir nog ’n paar minute tot aromaties.
- Voeg die brandrissie, soetrissie en wortels by en soteer verder tot die groente begin sag word.
- Roer die suurlemoenskil, asyn en tamaties by. Bring tot net by kookpunt. Verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 20 minute.
- Haal die deksel af en roer pietersielie by en prut vir nog 20 minute tot die oortollige vloeistof ingedamp is en die sous effens verdik het.
- Geur met sout, peper en suurlemoensap na smaak. Sit warm as ’n sous met braaivleis en pap voor of gebruik dit op enige van die ander voorgestelde maniere.
Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: Westfalia Fruit| Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Berei ’n dubbele mengsel en vries ’n deel vir later. Of skep dit in skoon, gesteriliseerde glasflesse en verseël lugdig. Laat heeltemal afkoel en hou in die yskas vir ’n week of twee.
Afrikaanse WOORD: chakalaka
Afrikaans is ’n lewendige taal en ons sluit gereeld woorde uit ander tale en kontekste by ons mooi taal in om dit verder te verryk. Chakalaka is ’n woord wat sommer lekker op ’n mens se tong val, want dit smaak en sê ewe lekker.
Die bekende Suid-Afrikaanse sous het ’n tamatiebasis en word met ’n verskeidenheid van speserye gegeur om die tipiese aromatiese geur te gee. Dis baie veelsydig, maar veral bekend saam met braaivleis en mieliepap.