Foto: Cules Hammann
Oor die jare het Cules Hammann altyd boek gehou van interessante en dinamiese elemente in ons mooi taal. Hy het as pastorieseun in Kaapstad grootgeword en het sy liefde vir Afrikaans aan moedersknie geleer. Beide sy broers deel sy liefde vir die taal. Ouboet Herman was ʼn dinamiese Afrikaansonderwyser wat die kinders behoorlik in die palm van sy hand gehou het. Sy ander broer Neil was vir etlike jare die redakteur van Die Huisgenoot en het die gewilde tydskrif tot hoë hoogtes gelei.
Cules se heel eerste boek, Wysie op die G-snaar het in 1992 verskyn. Dit was ʼn bundel geestelike essays. Hy het ook die Bybelse novelles, Dissipel van die Nag en Vrou uit Samaria by CUM-Uitgewers gepubliseer. Vir Vrou uit Samaria het hy die CNW-toekenning vir beste fiksie ontvang. Daarna het nog verskeie ander Bybelse en Christelike romans gevolg. Cules het ook ʼn gebedeboek vir Covid-19 en ʼn geloofsboek, Ons glo geskryf en uitgegee.
Alhoewel sy skryfwerk nog altyd geestelike literatuur was, het sy liefde vir Afrikaans altyddeur besonder na aan die hart gelê. Cules vertel dat hy reeds as ʼn jong seun gefassineer is deur die eiesoortige Afrikaans van bruin sprekers soos die blommeverkopers in Kaapstad of die roomysverkopers op Nuweland. Afrikaans is divers, het hy vroeg in sy lewe besef en dit was vir hom goed om te sien dat ʼn variëteit van Afrikaans, Kaaps uiteindelik genoeg erkenning geniet en daar word tans selfs ʼn woordeboek in Kaaps ontwikkel.
“Ek het op ʼn dag begin om notas te maak van my waarnemings oor die gebruik van Afrikaans en allerlei interessanthede,” vertel Cules. “Dit het later al hoe meer vorm begin aanneem alhoewel ek dit eintlik net vir die lekkerte gedoen het. Mettertyd het ek met mense gesels oor sekere waarnemings en dit het nog altyd heerlike gesprekke uitgelok. Daar het ek die idee gekry om al hierdie interessanthede en hebbelikhede in Afrikaans in ʼn boek saam te vat. Dit moes nie ʼn akademiese handleiding wees nie, maar bloot ʼn boek oor die uniekheid en veerkragtigheid van Afrikaans wat vir enige taalliefhebber van waarde sal wees. So is Afrikaans, pêrel van groot waarde gebore.”
Om sy doel met hierdie boek wat hy self uitgegee het te bereik, was dit vir hom belangrik om dit in ʼn gemaklike geselstrant te skryf. In hierdie boek fokus Cules op die herkoms en ontwikkeling van Afrikaans, trefwoorde en uitdrukkings wat eie is aan ons taal, woordspelings, maar ook slaggate met taalgebruik en spelling. Daar is ook ʼn afdeling wat mense bewus maak van hinderlike stopwoorde, slordige taalgebruik, taalgoggas soos anglisismes en dan die skep van nuwe woorde.
Terwyl Cules besig was met die skryf van die boek, het hy telkens iets nuuts ontdek of nog ʼn ander interessante brokkie oor ʼn uitdrukking of gesegde by iemand anders gekry. Hy het ook met taalkundiges soos professor Willem Botha van die Universiteit Stellenbosch, en professore Gerhard van Huyssteen en Wannie Carstens van Noordwes Universiteit gesels. Uiteindelik, na twee jaar se harde werk, het hy genoeg materiaal gehad om die boek, Afrikaans pêrel van groot waarde te finaliseer.
“Samevattend wil die boek graag soos die titel sê, ʼn liefde vir ons wonderlike taal by mense skep,” sê Cules. “Ons is nou op pad na 2025 wanneer ons die 100ste verjaarsdag van Afrikaans as amptelike taal gaan vier. Ek hoop om met hierdie boek vir almal wat lief is vir Afrikaans iets interessants in die hande te gee. Daar is ook soveel jong mense en kinders wat nog lief gemaak moet word vir ons taal, en ek glo hierdie boek kan ʼn wonderlike bewustheid skep van die skoonheid, eiesoortigheid, maar ook diversiteit van ons taal.”
Afrikaans, pêrel van groot waarde kos ʼn billike R150 plus koerierkoste. Dit kan direk by Cules bestel word: 072 223 4563 of cules@lantic.net