Maak seker dat jy Dinsdagaand 13 September om 20:00 voor die televisie inskuif vir die afskop van ’n heerlike nuwe dramareeks op kykNET (DStv-kanaal 144).
Fraksie is ʼn drama wat geskryf is deur die gedugte skryfspan Louis Pretorius en Albert Snyman wat ook trefferreekse soos Die Boekklub, Fynskrif en Troukoors geskryf het.
Fraksie beloof om kykers oor die volgende 17 weke vasgenael te hou. Die hoofkarakter in hierdie nuwe reeks is Schalk Smit, gespeel deur Edwin van der Walt wat vir T&M Holdings in Stellenbosch werk. Die miljardêr Tiaan du Toit (Pierre van Pletzen) besit T&M Holdings en beskou Schalk as die seun wat hy moes gehad het. Maar dinge is nie so eenvoudig soos dit op die oog af lyk nie. Hoe ver sal Schalk gaan om alles te kry wat hy wil hê, is die vraag wat beantwoord moet word. In hierdie reeks kry kykers insae in die lewe van skatryk mense wat miljoene verdien en geldhonger mense wat enigiets sal doen om dit in die hande te kry. Wat motiveer sulke mense, wat laat hulle tiek en hoe ver is te ver?
Ons leer ook vir Tim (Marlo Minnaar) ken. Hy is ʼn dosent in rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Pretoria en het in sy vrye tyd ʼn nuwe betaalmiddel, QPI ontwikkel. QPI staan vir Quick Payment Interface. Tim is op soek na beleggers in hierdie nuwe besigheid van hom. Gaan hy dit regkry om dit in Stellenbosch, die tegnologiese hoofstad van die land, te kry? Iemand wat beslis daarin geïnteresseerd is, is Schalk.
Die reeks spog met ʼn fantastiese rolverdeling en benewens Edwin sien ons ook akteurs soos Pierre van Pletzen, Trix Viviers, Roeline Daneel, Donna Crystal-Robberts, Marlo Minnaar, Melt Sieberhagen en Lee-Ann van Rooi.
Skakel Dinsdagaande om 20:00 in op kykNET en hou dop hoe hierdie interessante sage ontwikkel.
