Katelynn Labonté
Ons gesels met Katelynn Labonté oor Die Val
Op Dinsdagaand 6 September is die première van die kortfilm, Die Val, by die Atterbury-teater in Pretoria gehou. Afrikaans.com het met Katelynn Labonté, regisseur en redigeerder van dié film gesels.
- Waar het jy jou idee vir Die Val gekry?
Leandie Lombaard Bräsler is al vyf jaar besig met ʼn teenboelie-bewusmakingsveldtog wat deur AfriForum gedryf word. Sy het my geweldig geïnspireer hiermee. Verlede jaar Meimaand het ek na haar gegaan met die voorstel van ʼn kortfilm wat kan inpas by haar boelievoorkomings-veldtog. Dit is ʼn baie relevante onderwerp want boeliegedrag lewer groot probleme in skole. Deesdae is dit veral kuberboelies wat groot skade aanrig. Leandie is ook ʼn goeie vriendin van my en sy het saamgestem dat ons ʼn fliek moet maak om die boeliegedrag aan te spreek en teenboeliebewusmaking te skep by skole en enige plek waar kinders en jongmense onder boelies deurloop.
- Is dit nie juis Leandie wat die temalied van die fliek sing nie?
Dis reg. Leandie is ʼn wonderlike musikant en sy het die temalied geskryf en gesing. Sy speel ook ʼn klein rol in Die Val – die van juffrou Sanet.
- Was hierdie jou eerste geleentheid om as regisseur van ʼn kortfilm op te tree?
Ja dit was. Ek was al voorheen die regisseur van kinderprogramme maar hierdie was die eerste geleentheid om aan ʼn film te werk en ek het elke oomblik geniet. Dit was veral lekker om op die stel te wees en die interaksie met die akteurs was besonders. Ek sal dit enige tyd weer doen.
- Wie het die teks van Die Val geskryf
Die teks is deur dr. Tarryn-Tenille Prinsloo geskryf. Sy was my lektor by die Universiteit van Pretoria waar ek my Honneursgraad in Drama en Film gedoen het. Ek het aanvanklik die teks geskryf, maar Tarryn-Tenille het dit oorgeskryf. Dit was vir my goed want die hele idee wat ek gehad het, het deel van die fliek geword en ek was mal oor die manier waarop sy die storie vertel het.
- Wanneer het julle die opnames gedoen?
Ons het die fliek van die 27ste Junie tot die 2e Julie 2022 geskiet. Ek was ook die redigeerder van die film en ons moes in ʼn baie kort tydjie alles klaarkry. Elrich Yssel was die assistentredigeerder wat my bygestaan het.
- Is jy tevrede met die eindproduk?
O baie! Die twee akteurs in die hoofrolle, Deoudoné van der Merwe as Melissa Strauss en Righard van Jaarsveld as Stefan Uys het sulke goeie werk gedoen. Eintlik kan ek dit van almal sê wat deel is van die film. Ná Dinsdagaand se première het ons van oral af op verskillende kanale sulke goeie terugvoer gekry. Van die dinge wat gesê is, is dat Die Val ʼn puik produksie is wat werklikwaar ʼn groot verskil gaan maak in kinders en jongmense se lewens. Uiteindelik is dit wat ons wil regkry met die fliek: Ons wil ʼn verskil maak maar ook aan almal die boodskap uitstuur dat hulleself ook die verskil moet wees in hulle omstandighede.