Almal het hul resep vir ’n gebakte appelpoeding, maar hierdie een is regtig so maklik. Almal is dol hieroor en dikwels verbaas oor hoe lekker die krummelkors is. In my huis staan dit nou as ons ‘grendeltyd-nagereg’ bekend, want dit lig beslis jou gemoed. Die speserygegeurde neutekors en sagte appels laat selfs nie-poeding-eters hul bakkies aangee.
Lewer 4 – 6 porsies
Appels
45 ml (3 e) sagte bruinsuiker
45 ml (3 e) botter
5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye of kaneel
6 middelslag pienk of rooi appels, met die skil aan, in dun wiggies gesny
75-100 ml gedroogde rooibosbessies (cranberries) of rosyntjies
Krummel
180 ml (100 g) koekmeel
100 ml (100 g) harde botter, in blokkies gesny
125 ml (½ k) hawermout
75 ml (5 e) sagte bruinsuiker
2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel of gemengde speserye
50 g amandels of pekanneute, fyn gekap
tuisgemaakte vla (sien wenk), ongegeurde jogurt of vanieljeroomys om mee voor te sit
- Appels: Voorverhit oond tot 200 °C en smeer ’n vlak, middelslag oondbak liggies met ’n bietjie botter.
- Smelt suiker en botter oor ’n matige hitte in ’n braaipan en roer voortdurend tot die suiker opgelos is. Roer speserye en appels by en meng goed deur.
- Verlaag hitte en laat appels vir 15-20 minute liggies prut of tot net sag. Roer rooibosbessies by die warm mengsel en skep in die oondbak.
- Krummel: Berei intussen die mengsel terwyl die appels prut. Meng meel, botter en hawermout in ’n voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk of vryf die botter met jou vingerpunte in.
- Voeg suiker, speserye en neute by en meng met ’n voedselverwerker of ’n houtlepel tot ’n sagte mengsel vorm.
- Krummel die deeg met jou vingerpunte eweredig bo-oor die appels. Bak vir 25-30 minute of tot goudbruin bo-op. Sit dadelik met vla, jogurt of roomys voor.
Fotokrediet: LiG tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Maak tuisgemaakte vla volgens die instruksies op die verpakking. Geur met ’n skeutjie vanieljegeursel en die fyngerasperde skil van ‘n ½ suurlemoen vir ’n baie spesiale geur.
- Vervang die helfte van die appels met ryp, ferm pere. Of vervang die rooibosbessies met gevriesde bloubessies.
Afrikaanse WOORD: gemengde speserye (mixed spice)
Hierdie aromatiese mengsel van gemaalde speserye word veral met nagereg en gebak geassosieer, maar kan met groot sukses in iets soos ’n rysgereg gebruik word. Dis ’n mengsel van effens soeter speserye en pas perfek by vrugte, soos appels. Dit bestaan tipies uit ’n kombinasie van speserye soos kaneel, wonderpeper (all spice), neutmuskaat (nutmeg), naeltjies (cloves), gemmer (ginger) en selfs karwysaad (caraway). Maar elke mengsel se resep verskil ’n bietjie.