Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Op 6 September vier ons Koeksisterdag en of jy nou praat van koeksister, koesister of dalk koeisister – dalk bolle of krullers – dié soete verleiding is nog altyd gewild op die soetgebaklys en is vervleg in die Suid-Afrikaanse kultuur. Trouens, hoeveel kerke en skoolsale is nie deur die jare deur koeksisters gebou nie?
Stap maar by enige tuisnywerheid in en die kanse is goed dat jy “die beste” koeksister daar gaan opspoor. Party gereelde klante gaan vir jou vertel jy kan eenvoudig nie verkeerd gaan met nommer 19 se koeksisters nie, terwyl oom Gawie weer sweer by nommer 36. Hoe dit ook al sy, smaak verskil, maar ons is dit almal eens dat min dinge kom by ’n “ordentlike” krakerige en stroopgevulde koeksister.
Nou hoe lyk die perfekte “sister”?
Wel, die perfekte “sister” hang af van persoonlike smaak, maar kies maar self.
Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gedompel word.
Die koesister met die klapper word ook in olie gebak, maar daar word onder andere gemengde speserye en kardemom by die deeg gevoeg. Dit word ook in warm stroop (kamertemperatuur) gedompel voordat dit met klapper bestrooi word. Die koesister het saam met die Maleise slawe ter plaatse geland en is vandag steeds gewild in Mosliemhuise waar dit met die Eid-feesmaal, nadat die vas van Ramadaan gebreek word, geёet word en ook tradisioneel deel is van die ontbyttafel. Bak jy nie self joune nie, is daar altyd iemand in die gemeenskap by wie jy jou koesisters kan koop.
In Suid-Afrika leer menige jongmeisie en dikwels ook seuns koeksisters bak. Party mense bak selfs koesisters van aartappels. As jy in ’n Nederlandse huis grootgeword het, ken jy natuurlik oliebolle – ’n ander weergawe van die gevlegte koeksister – en waarskynlik die inspirasie agter die koeksister soos baie van ons hom vandag ken.
En dan is daar natuurlik verskillende voorkeure vir wat in die deeg en stroop moet kom vir daardie ekstra lekkerte – bestanddele soos suurlemoen- of nartjieskil, gemmer, anys of kaneel. Daarmee is enige koeksister bobaas, afhangend wie aan die woord is!
Van waar, Gehasie?
Koesisters
Bollas
Tradisionele gevlegte koeksisters
Nederlandse oliebolle
(“oliebollen”) word tradisioneel tydens Nuwejaar geёet
Die woorde “koeksister” en “koesister” is reeds in 1960 in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem. Volgens navorsing wat deur HW Claassens aan die Universiteit van Pretoria gedoen is, het die koeksister waarskynlik sy oorsprong by die Nederlandse oliekoek. Vroeёr was daar ook redelike verwarring of bolle, krullers (gedraaide repe) en koeksisters (gevlegte repe) dieselfde ding is, maar meestal is dieselfde deeg gebruik, en was dit bloot die “afwerking wat verskil het”. Afgesien van hierdie vroeёre verwarring, is “die enigste vraag op elkeen se lippe deesdae bloot: Watter koeksister is die héél lekkerste?”
“Mag die kuns van die perfekte koeksister bak nooit uitsterf nie.”
Hier is ‘n resep vir koeksisters van Arina du Plessis soos op Landbou.com raakgelees:
Stroop
2,5 kg witsuiker
1,25 liter water
10 ml gouestroop
10 ml suurlemoensap
Metode
Verhit stroopbestanddele oor lae hitte. Roer aanhoudend totdat die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en kook vir drie minute. Laat tot kamertemperatuur afkoel en verkoel oornag in yskas tot yskoud.
Die deeg
Die maak jy douvoordag.
750 ml koekmeel
20 ml bakpoeier
2,5 ml sout
15 ml botter
125 ml melk
125 ml warm water
5 ml asyn of suurlemoensap
Olie vir braai
Metode
Meng die meel, bakpoeier en sout en vryf die botter daarby in. (Doen dit in voedselverwerker as jy wil.)
Maak suurmelk deur die melk, warm water en asyn (of suurlemoensap) te meng en roer geleidelik by die droё bestanddele in om ‘n sagte deeg te vorm. (Voeg nog ‘n bietjie water by as die deeg te styf is.)
Maak die deeg met ‘n klam lap toe en laat vir 20 minute rus.
Rol die deeg ongeveer 1 cm dik uit, sny in repe en vleg twee of drie repe saam om koeksisters te vorm.
Braai in borrelende kookolie, keer die koeksisters om en braai ook aan die ander kant.
Dreineer en dompel in die yskoue stroop en dreineer deeglik (op ‘n draadrak oor ‘n skinkbord).
Laat goed afkoel voordat dit lugdig in yskas gebêre word.
(Lewer 4 dosyn groot koeksisters.)
Tradisionele Maleise koesisters
Nie heeltemal so soet soos die gevlegte weergawe nie, maar heerlik met die ekstra speserye en klapper. Hier is twee resepte om te probeer.
Maklike koesisters
Resep deur Hafsa Parker soos raakgelees op hungryforhalaal. Klik hier vir die oorspronklike resep
Lewer ongeveer 45 koesisters
1 k suiker
2 t sout
2 t olie
1 kg meel
½ t gemmer
½ t kaneel
1 t neutmuskaat
3 t nartjieskil
2 t anys
1 eier
125 g fyngemaakte aartappel
1 e botter
3 k louwarm water
Stroop:
3 k suiker (vir 2 koppies water)
2 t rooswater
‘n paar kardemompeule en kaneelstokke
- Meng 1/3 van die suiker met fyngemaakte aartappel en botter.
- Meng tot glad en voeg eier by.
- Meng 2/3 van die suiker, sout en olie.
- Voeg water by.
- Voeg die kitssuurdeeg, meel en ander droë bestanddele by.
- Meng tot sagte deeg. Bedek en laat oornag rys.
- Die volgende oggend: Knie deeg liggies af.
- Smeer olie aan jou hande om die bolletjies op ‘n meelbestrooide oppervlak te vorm.
- Bedek en laat die bolletjies ‘n halfuur lank rys.
- Vorm en trek die deeg liggies in ‘n ovaalvorm en bak in diep olie.
- Stroop: Kook die stroopbestanddele saam tot effens verdik en die stroop aan die agterkant van ‘n lepel kleef.
- Hou warm op die stoof.
- Plaas die warm, gaar koesisters in die stroop en verwyder met gaatjieslepel.
- Pak op ‘n opdienbord, rol in klapper of sprinkel die klapper oor.
Wenk:
- Vries goed voordat die stroop bygevoeg word.
- Die aartappel en nartjieskil is opsioneel.
Nog ‘n resep deur Fazila Olla-Logday soos gesien op tastyrecipes.sapeople.com.
Klik hier vir die oorspronklike resep.
6 k koekmeel
2 t bakpoeier
½ k suiker
½ t sout
10 g (I pakkie) kitssuurdeeg
2 e fyn kardemom
2 e fyn gemmer
2 e fyn kaneel
2 e gemengde speserye (mixed spice)
2 e heelanys
60 ml botter
375 ml (1 ½ k) warm water
375 ml (1 ½ k) warm melk
1 groot eier (liggies geklits)
olie vir diepbraai
klapper
Stroop:
1 k suiker
1 k water
1 kaneelstokkie
2 kardemompeule
- Sif die koekmeel in ‘n groot mengbak en voeg die bakpoeier, suiker, sout, kitssuurdeeg en die speserye by.
- Smelt die botter en voeg die liggies geklitse eier, water en melk by.
- Meng deeglik om ‘n sagte deeg te vorm.
- Bedek en laat rys op ‘n warm plek vir ongeveer 1 – 2 ure.
- Sodra uitgerys, smeer hande met olie, rol die deeg in ‘n worsvorm en sny in 2 cm-snye (of verdeel in gholfbal-grootte bolletjies (+- 40 g elk) en laat rys vir ‘n tweede keer.)
- Plaas die snye/bolletjies op ‘n gesmeerde oppervlak om vir ‘n verdere 10 -15 minute te rys.
- Trek deeg liggies om ovaal te vorm en braai liggies in medium-warm olie tot goudbruin. (Moenie te veel op een slag bak nie.)
- Verwyder met gaatjieslepel en laat afdrup op kombuispapier. (Op dié stadium kan die verkoelde koesisters drie maande lank gevries word.)
- Stroop: Plaas al die bestanddele vir die stroop in ‘n pot en kook stadig saam totdat dit liggies kook. Roer aanhoudend om seker te maak dat die suiker nie brand nie.
- Kook totdat die stroop effens verdik het en aan die agterkant van ‘n lepel kleef.
- Plaas nou die gaar koesisters in die warm stroop en kook 1- 2 minute lank in die stroop voordat dit met ‘n gaatjieslepel verwyder word.
- Rol in klapper en bedien warm.
Vrywaring: Resepte is vanaf die genoemde webtuistes verkry en vertaal. Resepte is ook nie vooraf deur Afrikaans.com getoets nie. Afrikaans.com kan dus nie verantwoordelikheid aanvaar vir moontlike foutiewe inligting nie.