Skrywer: Alita Steenkamp
Erns Grundling is iemand wat nie huiwer om ʼn pelgrimstog aan te pak nie. In 2015 het hierdie bekroonde reisjoernalis die Camino Pelgrimsroete in Spanje gaan stap en ná die staptog het hy sy eerste boek, Elders: My 1025 km te Voet Langs die Camino geskryf. Saam met ʼn televisiespan is hy terug om die roete weer ʼn keer te loop sodat dit verfilm kon word. Sedertdien het ons Erns se pelgrimstogte in Japan, Namibië en ʼn plaaslike Pelgrimstog van Hoop vanaf Kaapstad tot Agulhas gevolg. In die nuwe seisoen van die SAFTA-bekroonde leefstylreeks, Elders, stap Erns Grundling sowat 270 km tussen Uniondale en Mosselbaai op die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete. Erns sonder tien Afrikaanse woorde uit om hierdie fantastiese belewenis mee te beskryf.
Grondpad
Iets wat hierdie roete werklik besonders en uniek maak is dat die roete van 270 km van Uniondale tot Mosselbaai byna 95% grondpad is. Dalk selfs 98%. Dit is ongewoon vir ’n pelgrimstog om nie lang dele langs ’n hoofweg of teerpad te moet stap nie. Op hierdie roete stap jy meestal op stil agterpaaie wat dit werklik uniek maak.
Bergpasse
Dit is reeds pret om oor ’n bergpas met ’n voertuig te ry, maar om van die oudste en mees historiese passe in ons land te voet te verken, is baie spesiaal. Veral Thomas Bain se “Vergete Pas” buite Uniondale, die manjifieke Prins Alfred-pas tussen Avontuur en De Vlugt en die Montagu-pas tussen Herold en George is hoogtepunte.
Roosterkoek
Kerkbode het nie om dowe neute die volgende opskrif in ʼn artikel oor hierdie roete gebruik nie: “Geloof, hoop en roosterkoek.” Roosterkoek is vir hierdie roete wat rys vir Japan is: Stapelvoedsel. Pelgrims kan gereeld tydens etes vars gebakte roosterkoek verwag. Dit sou ’n sonde wees om iemand uit te sonder, maar die roosterkoekkuier by Caroline “Miesie” Josephs naby Eseljagpoort is kosbaar.
Gasvryheid
Die vennote wat pelgrims ontvang en bederf by die akkommodasie langs die roete se gasvryheid is merkwaardig. Hulle hande staan vir niks verkeerd nie, die kos is eersteklas en die kontreistories is klassiek en dikwels skreeusnaaks. Die hartsmense van die roete sal jou lewe verryk. ’n Wenk: Moenie ’n tweede porsie weier nie, dit word as ’n groot kompliment beskou.
Honde
Die roete het fantastiese honde – meestal op en wakker skaaphonde op plase. Ek dink aan honde soos Lulu by Nature’s Rest en Nelson by Trutersdal wat die angorabokke op hulle tone (het skape tone?) hou. “Alle honde is vriende” het Jeanne Goosen gedig, en hier ervaar jy dit ook. Dit is heerlik om ná ’n lang dag se stap op ’n bank naby ’n vuur te sit met ’n hond op jou skoot.
Appels
Die Langkloof is appelwêreld en in die eerste deel van die pelgrimstog – van Avontuur tot Molenrivier – stap jy dikwels verby groot appelboorde. Die boere is ook vrygewig en tydens oestyd word pelgrims dikwels bederf met vars appels, vye, druiwe en ander vrugte. En die appeltert of vars appelsap waarmee jy by van die blyplekke bederf word, is wêreldklas!
Buitekerke
Die meeste pelgrimstogte is geanker in ’n tradisie. So volg ’n groot deel van hierdie roete die buitekerke van die Herold-gemeente: Pragtige klein kerke op plekke soos Kliprivier, Noll, Molenrivier en Klipdrift. Hierdie kerke vervul vandag nog ’n belangrike rol in die landelike gemeenskap. Daar is altesaam sewe kerke langs die roete tussen Kliprivier en Herold waar pelgrims welkom is om in te loer.
Gaste
Ek het die voorreg gehad om verskeie gaste van buite af te nooi wat saam met my gestap het tydens die skiet van Elders: Tuinroete. Baie dankie aan Frank Opperman, Lyntjie Jaars, Alfred Adriaan, Amanda de Klerk, Frederick Marais, Lizette Rabe, Leon Theron, Nico de Klerk, Karen Meiring en Thuli Madonsela – dit was ’n voorreg en ’n groot vreugde.
Hoop
“Solank jy hoop, sal jy loop,” het Fanie Herholdt vir my in 2020 gesê tydens die skiet van Elders: Pelgrimstog van Hoop (Seisoen 3). Sy woorde het ’n slagspreuk geword van die roetes in die netwerk. Dit is wonderlik om by ’n pelgrimstog betrokke te wees wat volkome daarop fokus om meer hoop te skep en ook die plaaslike gemeenskap te bemagtig. Hiervan sien ek reeds baie op die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete.
Huistoe
Die taalguru’s sal jou vertel huis toe is twee woorde, maar vir die doel van hierdie oefening maak ek dit een woord. Waarom stap ek? Waarom ’n Elders-reeks? Daar is soveel wat ʼn mens hierop kan antwoord, maar kom ons hou dit kort: Dit is vir my geweldig betekenisvol om saam met die A-span van Bonanza Films te kan werk en die kykers van Elders te inspireer om meer gereeld te stap en selfs meer bewustelik te probeer leef. Die Persiese digter Rumi het eeue gelede geskryf: “We are all just walking each other home.” Ons stap mekaar huistoe.
- Elders: Tuinroete word Maandae om 20:00 op kykNET uitgesaai, met verskeie weeklikse herhalings. Vorige episodes is beskikbaar op DStv se Catch Up en al die vorige seisoene is op die aanlyn stromingsdiens Showmax beskikbaar.