Suid-Afrikaners is dol oor braaivleis. Vleissnitte soos steak of tjops is gewild om oor die kole te braai en die groot geheim is om dit nie oorgaar te maak nie, want dan is dit droog en smakeloos. ’n Goeie gehalte stukkie vleis het ook nie baie geurmiddels nodig om dit lekker te maak nie, so dié eenvoudige marinade is al wat regtig nodig is.
Lewer 4 porsies
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
6-8 vars takkies tiemie of 3-4 takkies roosmaryn
4 x 200-300 g steaks van jou keuse, oortollige vet verwyder
sout en swartpeper na smaak
- Meng die olie, suurlemoenskil en -sap en kruie saam in ’n bakkie.
- Sit die steaks in ’n vlak bak en skink die marinade oor. Laat dit oornag of vir ten minste 1-2 ure so marineer.
- Braai steaks oor warm kole vir 1 minuut aan elke kant, om die vleis te seël. Braai verder vir 4-5 minute aan die een kant. Die vleis sal aan die onderkant begin verkleur en gaar word. Geur met sout en peper terwyl dit braai, en nie te lank vooraf nie, want dit kan die vleissappe onttrek en die vleis droog laat voorkom.
- Draai steaks met ’n tang om (nie ’n vurk nie) en braai nog 4-5 minute aan die ander kant vir medium-gaar tot medium-rou, afhangend van hoe dik die steaks gesny is. Braai die vleis tot so gaar soos julle dit verkies. Die orige marinade kan oorgeverf word, terwyl die steaks braai.
- Hou die vleis warm en laat dit vir ’n paar minute rus voor dit gesny word. Sodoende gaan daar nie te veel vleissappe verlore nie.
- Sit voor met die bygeregte van jul keuse.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenk
- Om te weet of ’n steak rou, medium-gaar of heeltemal gaar is, kan jy met jou wysvinger op die vleis druk sodra dit al ’n ent weg gebraai het. Rou vleis is heeltemal sag en duik heeltemal in as jy daarop druk. Medium-gaar vleis het effens minder veerkrag as jy daarop druk, gewoonlik so na 4-5 minute se braai aan elke kant. Gaar vleis is heeltemal styf en gee feitlik glad nie mee as jy daarop druk nie, dit braai 7-8 minute aan elke kant .