Hierdie songedroogde tamatiepesto is iets wat jy maar altyd in jou yskas kan gereed hê. Dis so veelsydig en perfek om enige iets waarmee jy dit gebruik, ekstra geurig te maak. Dis ideaal op braaibroodjies, met maaskaas gemeng as doopsous of as marinade vir ’n ontbeende skaap- of lamsboud oor die kole. Die opsies is eindeloos – loer na die wenke vir nog idees. Die kombinasie van songedroogde tamaties, neute en vars basiliekruid, is absoluut heerlik. Dis vinnig en maklik om te maak en sal ’n hele tyd lank in die yskas hou.
Lewer 300 ml
50 g geroosterde sonneblomsaad of amandelvlokkies
1 x 240 g pakkie gemarineerde songedroogde tamaties met die vloeistof (of maak jou eie – sien die wenke)
2 knoffelhuisies, gekneus
50 basiliekruidblare of mengsel van kruie, soos Italiaanse pietersielie, origanum en tiemie
125 ml (½ k) olyf- of avokado-olie
sout en swartpeper na smaak
- Plaas die sade of neute met die res van die bestanddele in ’n voedselverwerker of in ’n glasbak en meng met ’n stokmenger tot ’n gladde mengsel. Geur na smaak.
- Skep pesto in ’n skoon glasflessie en bedek met ’n dun lagie olyfolie. Hou vir 2 weke in die yskas en gebruik soos nodig.
- Smeer van die pesto op ontbeende lamsboud, lamstjops, hoenderporsies of ’n heel, oopgevlekte hoender. Marineer rooivleis oornag en hoender vir 1-2 ure. Braai tjops oor warm tot matige kole tot gaarheid van jou keuse. Lamsboud, hoenderporsies of ’n heel hoender is heerlik in ’n ketelbraai gaargemaak.
Resep deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Rooster die sonneblompitte of amandelvlokkies in ’n droë pan oor matige hitte. Hou dit dop, want dit brand maklik. Geen olie is nodig nie.
- Songedroogde tamaties kan maklik self gemarineer word. Laat dit in kookwater of sterk Rooibostee vir ’n uur of twee week en skink die water af – vries dit sommer vir ’n ander tamatiegereg. Meng die tamaties met twee dele olyfolie en een deel balsamiese asyn en skep in ’n glasfles om te marineer. Hou dit in die yskas tot benodig.
- Smeer van die pesto op braaibroodjies, of meng klein aartappeltjies in die skil of gedreineerde kekerertjies met die pesto as ’n vinnige bygereg en sit feta en vars kruie by.
- Dis heerlik met enige eier- of pastagereg, saam met ’n lekker kaas en vars roket- of basiliekruidblare.
- Meng die pesto met ekstra olyfolie en smeer as marinade oor ’n ontbeende skaapboud. Laat oornag marineer en braai dit dan oor die kole.
- Lepelsvol pesto is heerlik op gestoomde broccoli met pecorinokaas of skep dit op gebakte aartappels in die skil.