Dié roomyskoek met sjokolade, koek en bessies is so feestelik! Jy kan dit vooruit maak en dit lyk altyd só indrukwekkend op ’n tafel. Moenie bekommerd wees oor die lang resep nie. Dis eintlik eenvoudig: Bak die koek (die dag vantevore) en pak dit weer in lae met die roomys en ander bestanddele en vries tot jy dit nodig het.
Lewer 10-12 porsies
Basiese botterkoek
300 g (300 ml) sagte botter
350 ml strooisuiker
6 eiers
200 ml melk
10 ml (2 t) vanieljegeursel
750 ml (3 k) bruismeel
Terrien
2 liter vanieljeroomys
100-150 g donkersjokolade, grofgekap
300 g aarbeie of bessies van jou keuse
125 ml (½ k) goeie gehalte of tuisgemaakte aarbeikonfyt
100-150 g makadamianeute, grofgekap of gevlokte amandels (sien wenk)
vars kruisementblare
- Botterkoek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer brood- of koekpanne, soortgelyk aan die houer waarin die terrien gevries gaan word, met bakpapier uit. Gebruik 2 x 1,5 liter-broodpanne of ’n 24 cm-koekpan. Dit maak dit net makliker om die skywe koek en roomys later vir die terrien te ‘vorm’. Smeer liggies met botter.
- Klits botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n mengbak saam tot lig en donsig. Klits vir ’n paar minute om soveel lug as moontlik in die mengsel in te sluit. Dit lewer ’n beter tekstuur.
- Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Klits tot ’n gladde mengsel.
- Roer melk en vanielje saam en vou met ’n groot metaallepel, om die beurt met die meel, by die eiermengsel in tot ’n sagte beslag vorm. Moenie te veel roer nie.
- Verdeel die beslag eweredig tussen die twee panne en maak liggies bo-op gelyk. Bak vir 30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
- Laat vir ’n paar minute in die pan afkoel, keer uit en laat op ’n afkoelrakkie afkoel. Dis selfs makliker om die terrien met dag-oue koek te maak.
- Terrien: Voer die broodpanne of koekpan met kleefplastiek uit sodat dit oor die rand hang. Sny die koek in die breedte in twee of drie lang skywe en voer die voorbereide pan of panne met een laag koek uit, sodat dit styf in die bodem van die pan pas – dit gaan die bokant van die terrien wees.
- Laat die roomys effens sag word. Plaas intussen tweederdes van die sjokolade in ’n glasbakkie en smelt oor liggies pruttende water in ’n kastrol.
- Sny tweederdes van die aarbeie in klein wiggies. Roer met die konfyt en tweederdes van die neute by die roomys, maar werk vinnig, dat dit nie heeltemal smelt nie. Roer deur om die bestanddele eweredig deur die roomys te versprei.
- Verf die koek met ’n lagie gesmelte sjokolade – ’n kwassie werk goed. Skep helfte van die roomys in ’n laag bo-op en smeer gelyk.
- Herhaal met nog ’n laag koek, verf met sjokolade en skep die orige roomys bo-oor. Maak die roomys gelyk en eindig met ’n laag koekskywe.
- Vou die kleefplastiek oor om die terrien deeglik te bedek en vries vir ten minste 2 ure of oornag.
- Smelt die orige sjokolade oor liggies pruttende water, net voor die terrien voorgesit word. Keer die terrien op ’n koue bord uit en trek die kleefplastiek af.
- Halveer die orige aarbeie of sny in kwarte. Garneer die koek met aarbeie, orige neute en kruisement en bedruip met die gesmelte sjokolade.
- Sny die roomys met ’n skerp broodmes in skywe – doop dit selfs eers in kookwater om die snywerk makliker te maak. Sit dadelik voor.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Rooster die neute op ’n bakplaatjie in die oond voor of na die koeke gebak is. Pasop dat dit nie brand nie.
- Vries enige orige koekstukke vir nog ’n terrien of laat dit ontdooi en sit met bolletjies roomys, aarbeie, neute en sjokolade voor. Of gebruik dit vir koekstruif.