Koeskoes kan met ’n wye verskeidenheid geure gemeng word en is ’n lekker alternatief as bygereg. Baie mense gebruik dit met ’n souserige bredie, maar dis ewe lekker as bygereg vir braaivleis of as deel van ’n slaai. Dit kan warm of teen kamertemperatuur voorgesit word en hierdie geurkombinasie met botterskorsie, komyn, kaneel en vars kruie is heerlik met lam, vark of hoender wat oor die kole gaargemaak is.
Lewer 8 porsies
50 g gevlokte amandels
1 groot ui, gehalveer en in dun wiggies of skyfies gesny
500 g botterskorsie, in blokkies gesny
2,5-5 ml (½-1 t) komynsaad
100 ml olyfolie
sout en swartpeper na smaak
380 g (500 ml) koeskoes
500 ml (2 k) kookwater
5 ml (1 t) gemaalde komyn
2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
30 ml (2 e) grofgekapte vars kruisementblare
30 ml (2 e) grofgekapte vars koljanderblare
8-10 ekstra takkies vars koljanderblare of Italiaanse pietersielie vir garnering
- Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas amandels op ’n groot bakplaat en rooster vir ’n paar minute tot goudbruin, maar wees versigtig dat dit nie brand nie. Skep uit en hou eenkant.
- Plaas ui, botterskorsie en komynsaad op dieselfde bakplaat. Skink sowat 30 ml van die olie oor en geur na smaak. Rooster groente vir 30 minute of tot net gaar, maar nie pap nie. Skep uit en laat afkoel.
- Plaas intussen die koeskoes in ’n groot, plat mengbak. Skink kookwater oor en laat, sonder om te roer, vir 5 minute staan. Meng dan koeskoes met ’n groot vurk deur om enige klonte op te breek.
- Voeg die res van die bestanddele, behalwe die vars kruieblare, by en meng versigtig deur. Geur na smaak en garneer met kruie. Sit warm of teen kamertemperatuur as bygereg voor.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer| Fotograaf: Adriaan Vorster
Wenke
- Die gereg kan maklik vooraf berei word. Voeg die kruie, amandels en koljanderblare by net voor dit voorgesit word.
- Dukkah-koeskoes: Berei koeskoes soos in stap 3 en roer ’n bietjie olyfolie, 50 ml dukkah en 45 ml gekapte vars kruisement of Italiaanse pietersielie by en geur na smaak. Sit voor soos hier bo beskryf.