Dié koekresep het ek oorspronklik in ’n BBC Good Food-tydskrif gekry en intussen al ’n paar veranderinge gemaak. Ek is dol oor die tipe koek met sy amandelbasis en het dit al so baie gemaak dat ek die resep graag deel. Ek gebruik bloubessies of frambose, maar selfs aarbeie sal net so lekker wees. Dis ewe lekker as nagereg of op ’n teetafel.
Lewer 8 porsies
140 g (140 ml) sagte botter
140 g (160 ml) strooisuiker
140 g gemaalde amandels (amandelmeel)
140 g (250 ml) bruismeel
1 ekstra-groot eier
5 ml (1 t) gemaalde kaneel
10 ml (2 t) vanieljegeursel
250 g frambose of bloubessies, vars of bevrore en ontdooi
versiersuiker en ekstra kaneel om bo-oor te sif
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 20-22 cm losboom-koekpan.
- Klits al die bestanddele, behalwe die bessies, versiersuiker en ekstra kaneel, in ’n groot mengbak saam tot ’n sagte deeg vorm.
- Skep helfte van die deeg in die pan en maak liggies met ’n vurk gelyk. Versprei tweederdes van die bessies oor. Krummel en versprei die orige deeg liggies oor die bessies – moenie bekommerd wees as daar van die bessies effens uitsteek nie. Die deeg versprei soos dit bak.
- Bak vir 45-50 minute of tot goudbruin en gaar.
- Laat die koek in die pan afkoel. Verwyder die ring van die koekpan en lig die koek versigtig van die pan se basis. Pak die orige bessies in die middel van die koek en sif die versiersuiker en kaneel oor.
- Sit die koek net so voor. Of as jy verkies, met ’n skeut room of ’n lepelvol roomys, Griekse jogurt of crème fraîche.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adriaan Vorster