Gekaramelliseerde uie verander ’n gewone braaibroodjie na ’n gourmet-braaibroodjie. As jy dit een keer daarop geëet het, is gewone uie vir altyd van die baan.
Gekaramelliseerde uie (lewer ongeveer 500 ml)
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
4 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
10 ml (2 t) gedroogde tiemie of 5 ml (1 t) komynsaad
45 ml (3 e) sagte bruinsuiker
45 ml (3 e) balsamiese asyn
sout en peper
45 ml (3 e) vars tiemieblare
Braaibroodjies (genoeg vir 8 – 10 braaibroodjies)
botter om op broodjies te smeer
16-20 snye volgraanbrood of brood van jou keuse
60 ml (¼ k) pesto van jou keuse (opsioneel)
3-5 ryp tamaties, in skyfies gesny
250-350 g (1-1½ k) gerasperde wit cheddarkaas of 1-2 camembertkase, in skyfies gesny
- Uie: Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan en soteer die uie stadig met die tiemie (of komynsaad) tot amper sag.
- Voeg die suiker en asyn by en soteer die uie nog 10-15 minute tot heeltemal sag en gekaramelliseer. Geur na smaak. Roer die vars tiemie by.
- Braaibroodjies: Smeer brood met die botter. Smeer van die pesto op elke tweede sny brood, as jy dit gebruik. Pak skyfies tamatie op die snye brood met die pesto, skep lepelsvol uie bo-op en verdeel die kaas tussen die broodjies.
- Maak die broodjies toe en braai oor matige kole tot goudbruin en die kaas gesmelt is.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Enige ekstra gekaramelliseerde uie kan in ’n gesteriliseerde glasfles in die yskas gehou word. Skink ’n dun lagie olyfolie oor om dit te seël en langer te laat hou. Die uie sal vir 2-3 weke in die yskas hou.
- Die uie is heerlik in ’n slaai, op burgers of in ’n eiergereg.