’n Drieboneslaai is ’n gewilde bygereg met braaivleis. Hierdie is net ’n tweeboneslaai, maar die ander vars elemente is heerlik en sommer ekstra kleurvol daarby. Die slaaisous met baie suurlemoen en vars kruie is perfek saam met die bone. Dit is ook ’n baie lekker vegetariese ete vir ’n warm dag. Dan is dit genoeg vir 4 porsies.
Lewer 6 porsies
Slaaisous
45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
15 ml (1 e) appelasyn
fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen of na smaak
5 ml (1 t) heuning
15 ml (1 e) elk gekapte vars origanum en Italiaanse pietersielie
sout en peper na smaak
Slaai
1 x 400 g-blik rooi nierbone, gedreineer
1 x 400 g-blik wit botterbone, gedreineer
100 g babaspinasieblare
200 g babatamaties, gehalveer
3 mielies aan die stronk, gekook en van die stronk gesny
1 avokado, in skyfies gesny (wanneer in seisoen)
1 sprietui, in skyfies gesny
1 skyf feta, in blokkies gesny
- Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
- Slaai: Meng die twee soorte bone saam in ’n mengbak. Skink helfte van die slaaisous oor en laat dit vir 30 minute so marineer.
- Pak die spinasieblare in ’n groot slaaibord en rangskik die ander bestanddele bo-op of sit dit vir elkeen in individuele bakkies voor. Sit met die orige slaaisous voor.
- Die slaaibestanddele kan ook alles saam gemeng word, maar dit lyk lekker kleurvol en sommer nog interessanter as dit in groepies gerangskik word.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira