Gegeurde botter is só ’n veelsydige item om in jou yskas te hou. Op dié manier kan jy vinnig en maklik iets van ‘gewoon’, na gourmet omskep. Wees kreatief hiermee en kyk gerus na die wenke om te sien hoe die botter nog gebruik kan word.
Maak ongeveer 300 ml
125 ml (125 g) sagte botter, in blokkies gesny
75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie
60 ml (¼ k) gekapte vars basiliekruidblare
1 knoffelhuisie, gekneus
50 ml fyngerasperde pecorino- of beleë wit cheddarkaas
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
swartpeper na smaak
- Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng deeglik saam. Geur met ’n bietjie swartpeper. Of meng alles met ’n draadklitser in ’n glasbak en geur met peper.
- Plaas die botter op ’n stuk kleefplastiek en rol in ’n wors om in skyfies te kan sny. Vou dit toe en plaas in die yskas. Of skep die botter in ’n lugdigte bakkie en hou vir ’n week in die yskas.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Sny ’n Franse brood soos jy gewoonlik ’n knoffelbrood sny. Smeer die botter tussen die snytjies. Vou toe in aluminiumfoelie. Plaas oor matige kole tot deurwarm.
- Smeer basiliekruidbotter ook op tamatie-toebroodjies of braaibroodjies.
- Die botter is ook lekker saam met groente soos mielies, oondgeroosterde patats, aartappels of botterskorsie. Perfek as ’n bygereg met ’n braai.
- Of sit dit as sous met steak, pangebraaide vis of hoenderfilette voor. Roer die botter deur warm pasta of gebruik dit om eiers mee gaar te maak.
- Vries enige orige botter as dit nie binne ’n week gebruik gaan word nie. Gebruik dan vir enige van die voorgestelde idees in die resep.