Alhoewel die Laeveld Innibos Nasionale Kunstefees vanjaar nie ʼn volskaalse kunstefees in die tradisionele feestyd was nie, is dit hierdie jaar Heeltyd Feestyd in die Laeveld met verskeie kleiner projekte om die kunste op vele vlakke te vier. Eersdaags is dit tyd vir die Innibos Teaterweek waartydens twee opwindende teaterstukke, Hans steek die Rubicon oor en Plesierengel te sien sal wees in die Mbombela Stadsteater in Nelspruit.
Die geliefde karakter Hans in Rudie van Rensburg se gewilde boeke, haal nou sy streke op die verhoog uit. In hierdie heerlike komedie trek die akteur Charlie Bouguegon die skoene van Hans en 15 ander karakters aan. Francois Toerien het Van Rensburg se boek in ʼn verhoogteks verwerk en Lizz Meiring behartig die regie.
In hierdie heerlike komedie kom Hans in opstand teen al die ouetehuisreëls wat sy onblusbare gees wil kniehalter. Hans en sy trawante se pogings om te ontsnap word telkens in die wiele gery, en Hans bly soek na ʼn manier om die drakoniese matrone te ontglip.
Leftfoot Theatre Productions se Hans steek die Rubicon oor word met die ondersteuning van NATi (Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief) aangebied. Vertonings is op Donderdag 1 September om 18:00, Vrydag 2 September om 20:00 en Saterdag 3 September om 10:00. Kaartjies kos R150 en is te koop by Quicket.
Plesierengel is ʼn drama waaroor daar nog lank gepraat gaan word. Dis die verhaal van Tristan en sy soeke na liefde, ʼn verhaal wat op die waarheid gebaseer is. Die hoofkarakter se soektog loop weens tragiese omstandighede ʼn onkonvensionele en omstrede roete en hy laat die vroue swymel en word dan die hoogs betaalde gigolo in die land.
Hoewel die tema van die stuk oor onder meer bedsake handel, is daar ook ʼn goeie skeut humor in Tristan se verhaal en daar is geen eksplisiteit nie. Plesierengel het wel ʼn ouderdomsbeperking van 16.
Ruan Wessels, wat al te sien was in produksies soos Binnelanders, Erfsonde en Dis ek, Anna vertolk die rol van Tristan. Leon van Nierop het self die toneelteks, gebaseer op sy boek met dieselfde titel, geskryf. Johan van der Merwe en Lihan Pretorius behartig die regie.
Plesierengel speel op Vrydag 2 September om 17:00 en Saterdag 3 September om 15:00 in die Mbombela Stadsteater. Kaartjies kos R150 en kan by Quicket bespreek word.