Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Emigrasie lei tot spesifieke interpersoonlike verliese en ook spesifieke verliese aan kultuur en taal. Die moontlike verlies van die moedertaal, veral in toekomstige generasies, blyk ‘n bron van kommer te wees.”
– M.C. Marchetti-Mercer & J.L. Roos in Afrikaanssprekende emigrante: verliese en verwagtinge (LitNet Akademies).
Die besluit om te emigreer, is nie net sommer ‘n besluit wat jy vandag neem en volgende week klim jy op die vliegtuig nie. So ‘n besluit verg ernstige oorweging en bespreking, behoorlike navorsing en natuurlik eindelose papierwerk. Daardie gesegde: “Jy weet wat jy het, maar weet nie wat jy gaan kry nie,” bly waar, al het jy hoe goed beplan. Wanneer julle as gesin emigreer, raak dit redelik ingewikkeld en is dit belangrik om te sorg dat almal gemaklik is met die verandering, want nie net moet julle aanpas in ’n nuwe omgewing en land nie, julle gaan waarskynlik ook familie en vriende agterlaat. Skielik is daardie ondersteuningsnetwerk van oumas en oupas, vriende en so meer nie meer daar nie – iets wat ’n mens eers regtig waardeer as jy daarsonder moet klaarkom – en dit het dan ook dikwels ’n impak op ’n mens se geestesgesondheid. Afrikaans.com het ’n paar bronne geraadpleeg en praktiese wenke saamgestel oor hoe om die proses so maklik moontlik vir jou kinders te maak. Ons het ook ’n mamma van drie jong kinders wat deesdae in Nieu-Seeland woon gevra hoe sy en haar gesin in hulle nuwe omgewing en land aanpas.
Die besluit is geneem, die huis is verkoop, die kratte is gepak en die dag van vertrek is voor die deur. Hier is wenke om die emigrasieproses makliker te maak – veral vir die kinders:
- Emigrasie kan traumaties wees vir kinders. Gesels met jou kinders. Waaroor voel hulle onseker? Waarna sien hulle uit? Is hulle bang, dalk hartseer of selfs kwaad?
- Wees eerlik. Jou kinders het waarskynlik sekere verwagtinge van hulle nuwe blyplek, skool en die mense wat hulle gaan ontmoet. Jy as ouer het dalk nie die antwoorde nie. Daarom is dit belangrik om nie onnodige verwagtinge te stel nie.
- Fokus op die positiewe en potensiële groei wat moontlik gaan plaasvind. Plaas nuwe uitdagings in perspektief. “Om ou vriende te verloor beteken om nuwe vriende te maak; onsekerheid bou karakter en maak ’n mens meer aanpasbaar vir die toekoms.”
- Gee jou kinders die geleentheid om self te kies – dit kan iets eenvoudig wees, soos om hulle slaapkamer in die nuwe huis te kies of om te besluit waar julle gaan vakansie hou. “Dit maak hulle nie net deel van die proses nie, maar plaas ook gedeelde verantwoordelikheid op hulle oor die uitkoms van julle nuwe lewe.”
- Kinders voel veilig as hulle weet dat alles onder beheer is en dat hulle steeds elke aand op dieselfde tyd eet, ’n sekere tyd bed toe gaan en soos altyd Saterdae winkel toe gaan. “Roetine het ’n groot sielkundige uitwerking en talle ouers stel voor dat jy jou kinders se kamers die eerste prioriteit maak wanneer julle uitpak.” Tussen hulle bekende besittings voel hulle veilig.
- Taal is ’n anker. As die kinders ’n tweede of derde taal in hulle nuwe land moet aanleer, of dalk hulle tweede taal moet opskerp, is dit raadsaam om voor julle vertrek taalklassse by te woon. Probeer egter om nie die kind se moedertaal af te skeep nie. As dit Afrikaans is, praat dit soveel moontlik tuis. Kinders is geneig om die taal in die nuwe land vinnig aan te leer sodat hulle kan inpas en dit kan gebeur dat hulle al hoe minder in hul moedertaal belangstel wat tot konflik tussen hulle en die ouers kan lei. Dit kan ook ’n impak op hul verhouding met grootouers en niggies en nefies hê, wat dalk nie so vlot in Engels is nie. “Moedertaal is nooit so belangrik as wanneer ’n mens in ’n land bly waar ’n ander taal gepraat word nie. Die ervarings en gevoelens van ’n mens se kinderjare is nou aan jou moedertaal verbind.” Taal is deel van ons identiteit en “soos jou kinders ’n nuwe identiteit vorm, is dit vir hulle belangrik om te weet: Om te trek verander nie jou menswees nie”.
- Kultuur. Dit is goed om deel te word van ’n nuwe kultuur, maar dit is ook “belangrik om die uniekheid van jou kinders se kultuur en identiteit aanhoudend te kweek”. Moenie jul eie tradisies afskeep nie. Bly op hoogte van gebeure in Suid-Afrika en bespreek dit. “Tradisies vestig nie net ’n samehorigheidsgevoel nie, maar help ook jou kinders om plek vir hulle veelsydige identiteite te vind.”
- Behou kontak. Moedig jou kinders aan om “gereelde kontak met familie en vriende wat in Suid-Afrika woon, te hê”. Dis belangrik om te voel dat ’n mens steeds deel is van ’n familie. Gelukkig maak die hedendaagse toegang tot tegnologie hierdie proses makliker.
Emigrasie is ’n groot stap met verreikende gevolge. As jy egter besluit het om jou wortels op te trek en in ’n ander land te gaan woon en jou kinders daar groot te maak, is dit nodig om aan te pas en in te pas. Raak deel van die kultuur van jul nuwe land, leer meer oor die tradisies en gewoontes – maar koester jou herinneringe, want dit sal altyd deel wees van jou identiteit.
’n Mamma vertel
Karien en Leon Killian en hulle drie kinders woon reeds amper drie jaar in Nieu-Seeland. Hul tweelingseuns was amper vier en ‘n half en hul dogtertjie sewe, toe hulle Suid-Afrika verlaat het en hulle in Nieu-Seeland gevestig het. Omdat ek weet hoe na die kinders aan hulle ouma en oupa was en hulle elke dag gesien het, wou ek weet hoe die kinders dit hanteer het. Veral die oudste dogtertjie, Nina, was haar oupa se oogappel. Karien vertel:
“Ek dink vir die kinders is en was dit een groot avontuur. Meestal. Vir ons grootmense wat al ’n leeftyd in Suid-Afrika geleef het, is dit natuurlike moeiliker. Ja, dis vir ons ook ’n avontuur, maar die onthou sit nog vlak. Dis die herinneringe wat vir almal die moeilikste is. En daarom dink ek hoe jonger die kinders hoe beter vir hulle, dalk? Lukas mis sy ouma, oupa, kat, sandpit en groot tuin. Dit was sy wêreld in Suid-Afrika. Ek mis Knysna, die vuil agterstoep, Sundridge Spar, voorste stoepkuiers saam met Pa, jaarlikse vakansies toe ek klein was, my perd, geelhoutbome, die naguiltjie, bos, die see se reuk (hy ruik anders hier), olifante, Afrikaans, my mense. Maar wat daai deel makliker maak wanneer mens so verlang, is dat al gaan mens terug, niks ooit weer dieselfde sal wees nie. Dis herinneringe. Meestal.”
Hoe kom hulle reg met Engels en die skool?
“Nina was sewe en het dus basies ‘n jaar gemis. In Suid-Afrika sou sy begin skoolgaan het, maar in Nieu-Seeland moes sy wegspring met haar tweede skooljaar (Year 2) – sy het dus haar fondasiejaar gemis. Gelukkig was sy in ’n Montessori-skool in Suid-Afrika en het graad R daar gedoen, maar alles was in Afrikaans. So sy het ‘n effense agterstand, maar is steeds waar sy moet wees, net nie top in haar klas nie. Boonop het Nieu-Seeland in sy eerste grendeltyd ingegaan na haar eerste dag by die skool. So sy het ‘n rowwe begin gehad.
“Die seuns was glad nie in ’n skool in Suid-Afrika nie en het skaars Engels gepraat. Ons het hulle hier in ’n speelgroep gesit vir ’n paar uur per week net om gewoond te raak aan die Engels. Daardie selfde jaar in September, toe hulle skaars vyf was, moes hulle toe skool toe. Hulle het beter aangepas as Nina, want hulle het hul skoolloopbaan hier begin. Maar alhoewel hulle top is met wiskunde en ook goed lees, kry hulle ekstra hulp by die skool omdat Engels nie hul eerste taal is nie. Ons praat steeds 80% Afrikaans by die huis en gaan hard daaraan werk om dit so te hou.”
Emigreer is aanpas, aanpas, aanpas!
“Daar is nie so ding soos oor begin nie. Daar is ’n ding soos aanpas, en wanneer dit moeilik raak, dan onthou jy hoekom jy gekom het. Dis soos ’n huwelik, jy gaan nie in ’n huwelik in met ’n agterdeur wat oop is, vir ingeval nie. Jy maak seker, en dan maak jy weer seker, sodat jy nie hier sit wanneer dit sleg gaan en wonder of jy moet terug nie. Daar is nie wonder nie, want jy het mos al lankal besluit. En dit maak dit makliker.
“En op daai noot, jou huwelik moet STERK wees. Julle moet albei heeltemal aan boord wees, sodat julle mekaar kan ondersteun, veral wanneer die ander een nie meer wil aangaan nie. Veral vir jou kinders. Hulle het aanhoudende liefde en versekering nodig. Dit bring mens nader aan mekaar as gesin, want julle is al wat daar is.
“Dit is nou weer vir ons as ouers ’n moeilike ding en ons wonder heeltyd of ons hulle reg grootmaak. Want daar is nie ’n oupa en ouma wat help grootmaak nie. Ons voel gedurig dat ons nie weet wat ons doen nie, dat ons alleen in die ding is. Dis dan wat mens besef hoe alleen-besigheid dit is. Jou “village” is weg. En ja, hier is ander Saffas en Britte en Kiwi’s, maar hulle is nie ons mense nie en baie van hulle sou nie deel van ons vriendekring in Suid-Afrika gewees het as ons hulle daar ontmoet het nie. Maar ek dink tog, al voel ons heeltyd of ons nie genoeg is vir ons kinders nie, hulle dink ons is genoeg. Hulle pas oral goed in, praat soos klein Kiwi’s, het die wêreld se vryheid. Loop selfs alleen skool toe. Ek dink hulle pas aan. En doen goed, en is gelukkig. Hulle sê of wys nie dat hulle nie is nie. Maar heeltyd wonder ons of dit goed genoeg is, of dit wat ons doen goed genoeg is. En dan kom alles maar net weer neer op liefde. Gee baie en gee aanhoudend. En wees kalm en rustig. En deel alles met hulle. Jou verlange, jou ongelukkigheid by die werk, jou hartseer. Praat met hulle daaroor en moenie jou emosies wegsteek nie. Ek dink dis baie belangrik en dit help hulle met hulle emosies ook. Hulle moet jou sien huil en hulle moet weet dat dit oor jou perd is en nie iets wat hulle dalk nie verstaan nie. Kinders wil weet. En as jou naam Liam is (een van die tweelingseuns) wil jy alles weet!
“Laastens, terug na die naguiltjie en geelhoutbome. Dit maak my hartseer dat my kinders dit nie gaan mis nie. Dat hulle nie Suid-Afrika geken het soos ons nie. En nooit sal nie, want Suid-Afrika sal nooit weer wees soos wat dit was toe ons grootgeword het nie (en daai gedagte maak dit makliker). Hulle leer ’n nuwe geskiedenis. Hier is kauribome en tui’s (voëls) en watervalle. En vryheid. En veiligheid. En liefde. Net liefde…”
Bronne:
Emigrasie: Help jou kinders só om aan te pas – Wêreldwyd (wereldwyd.co.za)
Belangrike vrae voor en tydens emigrasie – Wêreldwyd (wereldwyd.co.za)
Afrikaanssprekende emigrante: verliese en verwagtinge in LitNet Akademies, Jaargang 10, Nommer 1, Maart 2013 (up.ac.za)