Vroueskrywers het hulle stempel vanjaar behoorlik afgedruk as benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse en oorheers twee van die kategorieë naamlik die kykNET-Rapportprys vir fiksie en die JAN RABIE Rapportprys.
In die kykNET-Rapportprys FIKSIE is die drie skrywers op die kortlys: Lien Botha met Vin (Queillerie), Ronelda Kamfer met Kompoun (Kwela) en Gerda Taljaard met Vier susters (Penguin).
In die JAN RABIE Rapportprys, ’n prys wat toegeken word aan debuut- of tweede prosawerke – romans, novelles en kortverhale, is daar ook drie vroue op die kortlys. Die benoemdes is Vel deur Emma Bekker (Protea Boekhuis), Die teenoorgestelde is net so waar deur Azille Coetzee (Human & Rousseau) en Kompoun deur Ronelda Kamfer.
Die drie boeke op die kortlys vir die kykNET Rapportprys NIEFIKSIE is Als is nie swart en wit nie deur Malvory Adams (Naledi), Fortuine deur Ebbe Dommisse (Jonathan Ball) en Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis).
Die boeke op die kortlys vir die kykNET Rapportprys: FILM is Roet deur Hannes Barnard (Lapa), Die spore van Gert Saggiestrap deur Marco Botha (Flyleaf) en Die getuienis deur Francois Smith (Tafelberg).
Vanjaar is daar ruim prysgeld van 1 miljoen rand wat toegeken gaan word.
Die pryse is soos volg: R300 000 elk vir die wenners van die kykNET-Rapportprys-Fiksie en kykNET-Rapportprys-Niefiksie, R155 000 elk vir die wenners van die kykNET-Rapportprys-Film en die JAN RABIE Rapportprys.
Daar is R30 000 elk vir drie resensiepryse. Die kortlys hiervoor word afsonderlik aangekondig. Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse word vanjaar op Saterdag 24 September 2022 tydens ʼn spesiale geleentheid by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad aangekondig. Daar is vanjaar altesaam 66 inskrywings ontvang vir die drie kykNET-Rapport-boekpryse vir fiksie, niefiksie en beste verfilmbare werk en 18 vir die Jan Rabie Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.